Help

jakob-lorber.cc

Skriftekste

“Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom tot die Vader behalwe deur My nie.” (Johannes 14:6) 

(27 Desember 1843 se aand)

[4.1] Sal dit moeilik wees om nog `n sentraalson hierheen te bring? Nee, nie in die minste nie! Ons hoef slegs die eerste en die beste teks uit die Nuwe Testament aan te haal en daar staan al `n nuwe sentraalson voor julle met dieselfde oerlig en met dieselfde krag en uitwerking. Byvoorbeeld: “Ek is die weg, die waarheid en die lewe; niemand kom tot die Vader, behalwe deur My nie.” 

[4.2] Kyk, daar het ons meteens alweer `n sentraalson. Wie haar lig in sy binneste kan sien, die sal met `n dergelike beligting sekerlik insien, dat maar net te lees so goed as geen uitwerking het met betrekking tot die verkryging van die ewige lewe nie. 

[4.3] Die Vader is die ewige Liefde in My, soos ook Ek in My hele Goddelike Wese in alle ewigheid volkome in Haar is. Want Ek en die Vader is één, of Ek en My ewige Liefde is één, of soos die Liefde ewig lewend in Haar Wysheid woon, so woon ook die Wysheid ewig in die Liefde waaruit Sy voortkom. 

[4.4] Die Vader of die Liefde is die oorsprong van alle lewe; en wie nie tot hierdie lewende oerbron van al e lewe terugkeer nie, bly dood en kan nêrens anders lewe verkry nie. 

[4.5] Waar is egter die deur tot die Vader? En wie is hierdie deur? Is dit die baie boeke en geskrifte wat iemand lees, of is Ek dit? 

[4.6] Ja, mens kan hier eerder maar dadelik hiermee instem en sê: “Ja, as mens die leer van Christus noukeurig ondersoek, sal mens nie ligtelik `n ander mening toegedaan wees nie as dat mens slegs deur die navolging van hierdie leer `n ewige lewe vir gees en siel kan bereik. En in dié opsig is dit heeltemal korrek wat Christus oor Homself gesê het, dat slegs Hy die weg, die waarheid en tewens die lewe Self is!” 

[4.7] En voorwaar, Ek sê vir julle: Daar is duisende en nogeens duisende, wat op grond van hulle insig so `n bekentenis aflê; tog sê Ek: Hulle is dood en het nóg die weg, nóg die waarheid, nóg die deur en die lewe gevind. 

[4.8] Mense sal sê: “Dit klink grof en meedoënloos. Hoe is so-iets nou te rym met die allerhoogste liefde van God? Wat kan `n mens meer doen as om deur ywerige studie `n volledige insig te kry in die groot waarheid en goddelikheid van die groot Leermeester. Is daar iets hoër waarna die mens kan streef as die duidelike herken van die hoogste, heilige waardigheid van die goddelike woord en dit ook werklik deur sy inspanning begryp? 

[4.9] Ek sê egter: Enersyds is dit waar, dit is sekerlik beter om so-iets te doen as om alles te verwerp en hulle aan die wêreldse hoogmoed oor te gee, maar in die Skrif staan ook: “Baie sal in die tyd vir My sê: “Heer, Heer!”, en dan staan daar wat Ek aan hulle sal sê: “Ek het u nooit geken nie; gaan weg van My af!” 

[4.10] Dit is die agtergrond van hierdie bekende teks uit die Nuwe Testament. Deur die uitspraak “Heer, Heer!” word aangegee dat Christus wel as die weg, die waarheid en die lewe erken word. Maar watter nut het dié erken as niemand op die weg wil wandel en geen sin het om daadwerklik volgens die waarheid te handel om daardeur tot die lewe te kom nie? 

[4.11] Ek is tog sekerlik geen toneelspeler wat hom net met applous moet tevrede stel nie. My aangeleentheid is ewig en ernstig, en daarom verlang Ek ook `n ernstige werksaamheid en nie maar net los byvalsbetuigings nie. 

[4.12] Watter gesig sou `n ryk bruidegom nie trek as verskillende bruide hom sou bewonder en hom sou loof en prys; maar wanneer hy een van hulle sou wil uitkies, sy sou wegloop en hom in haar hart bowendien nog sou beskimp oor `n dergelike onbeskaamdheid? 

[4.13] Sê nou net, sal die bruidegom wel een van die dwase bruide tot vrou neem? Waarlik, hy sal na buite gaan en `n hoer opsoek en aan haar sê: “Ek weet dat jy `n hoer is, maar as jy stop met jou beroep, sal Ek jou tot vrou neem!” 

[4.14] Die hoer sal, gedryf deur haar pas ontwaakte egte liefde, van haar beroep afsien en sal `n geliefde vrou van die bruidegom word, en sy sal wees soos `n Magdalena, wat eers die laaste onder alle vroue van Israel was, maar toe die ware bruidegom haar geroep het, het sy die eerste onder alle vroue geword wat met die Bruidegom Self die groot opstanding tot die ewige lewe gevier het!   

[4.15] Sy het geen boeke gelees nie. Maar toe sy die Ware herken het, het sy dadelik afstand gedoen van haar wêreldse genietinge en het `n sterk, onverwoesbare liefde vir Hom opgevat, wie sy as die Ware herken het. Uit liefde tot Hom het sy alles opgeoffer wat sy op die wêreld besit het. 

[4.16] Kyk, vir so `n bruid was Ek die egte lewende verwerkliking van die weg, die waarheid en die lewe! 

[4.17] In die tyd was daar sekerlik baie wat My ook as sodanig herken het, maar wie nie daarvolgens wou handel nie. Daarom geld ook vir hulle die teks: “Baie eerstes sal die laaste wees en baie laastes die eerstes.” 

[4.18] Maar is die weg, die waarheid en die lewe dan metterdaad werklik so moeilik? Staan daar nie: “My juk is sag en My las is lig!”? Ja waarlik, so is dit ook! Die hele weg, die waarheid en die lewe en die sagte juk en die ligte las lê beslote in die twee gebooie van die liefde.  

[4.19] Is dit dan werklik so moeilik om Hom lief te hê wie die ewige liefde Self is, en is dit so moeilik om jou naaste lief te hê? Voorwaar, niks is makliker as dit nie! Verwyder maar net die wêreldse sake, hierdie ou pes van die gees, uit jou hart en jy sal ervaar hoe heerlik en maklik dit is om die ewige Liefde en ook jou naaste lief te hê. 

[4.20] Maar dit is inderdaad moeilik om die ewige Liefde en die naaste lief te hê, as die hart vol is van die wêreld, vol van wêreldse berekenings, vol van geld, vol spekulasie en vol helse wiskunde, wat haarfyn weet om te bereken hoeveel `n stuiwer per jaar aan woekerrente oplewer. 

[4.21] Ja waarlik, waar die hart vervul is met dié soort vaardighede, daar sal die “Heer, Heer!” nie baie help nie, en die weg, die waarheid en die lewe sal daardeur smal en doringrig word, sodat hy nouliks ooit bewandel sal kan word. 

[4.22] Waarvoor het die lees van duisende nog so waardevolle boeke dan sin? Sal hulle iemand tot lewe wek wat steeds besig is om sy hart meer en meer met allerlei aardse afval vol te stop?  

[4.23] Sê net, kan iemand van julle kinders met `n standbeeld verwek? Of sal `n nog so kunstig geskilderde saadkorrel opkom, as jy dit in die aarde plaas? Nóg die één, nóg die ander! Die lewende kan slegs met die lewende nuwe lewe voortbring; so kan ook die lewende woord slegs in die lewende hart weer vrug dra.   

[4.24] Vir die geestelike dooie is die lewende woord egter ook niks anders as `n geskilderde saadkorrel nie, en ook al saai hy hoe baie sulke saadkorrels in homself, hy sal nooit `n vrug voortbring nie; omdat hy die woord nie tot lewe bring nie, en sal dit ook nie lewend word in hom nie. 

[4.25] Wie egter slegs weinig hoor, maar dit goed navolg, die handel volgens My woord en soek werklik die ryk van God, en al die ander sal hom daarby gegee word. Ek dink dat dit ook duidelik is; maar die volgende keer nog meer sentraalsonne!

Desktop Kommentaar