Skriftekste |
[1.5] As so iemand gedurende sy lewe `n paar duisend boeke gelees het, wat `n chaos moet dit dan ten slotte in sy geheue wees. En in die beste geval sien hy na al daardie baie lees nou eers in dat hy eintlik nog niks weet nie. [1.6] Wat hou die bekentenis in? Dit is niks anders as een en dieselfde weemoedige klag van die gees, wat daarmee wil sê dat hy, ondanks die ontsettende groot hoeveelheid boumateriaal, selfs geen armsalige hut om vry in te woon, gebou gekry het nie. [1.7] So is daar mense wat die Ou- sowel as die Nuwe Testament letterlik uit hulle kop ken. Vra mens hulle egter na die innerlike betekenis van slegs één enkele vers, dan sal hul e byna ewe veel daarvan weet as diegene wat geen enkele vers uit die kop ken en nouliks weet dat daar `n Heilige Skrif bestaan nie. Watter nut het die pragtige materiaal dan vir hulle? [1.8] Die gees woon slegs in die geestelike. As daar van dié materiaal, in die innerlike Gees van die Waarheid, nie eens `n skamele hut vir hom gebou kan word nie, waar moet hy dan woon, waar sy rentmeesterskap uitoefen en van waaruit moet hy al die materiaal begin te sorteer? [1.9] Is dit dan nie beter om minder materiaal te besit, maar vir sy gees wel dadelik `n klein respektabele woning daarvan te bou nie, sodat die gees dan oor `n vaste, vrye plek kan beskik van waaruit hy verdere planne kan maak en nuwe aankomende materiaal daarvoor kan gebruik? [1.10] Hoe sou `n akker, ook al bestaan hy uit die vrugbaarste grond, lyk as `n mens derduisende gemengde sade tegelyk deurmekaar daarop uitsaai? Die saad sal goed opkom, maar wat het die saaier daaraan? Die opbrengs sal nouliks as minderwaardige veevoer kan dien. Die sterker plante sal die swakkeres verdring, die onkruid sal welig tier, en die graan sal slegs hier en daar yl en swak tevoorskyn kom. [1.11] Hieruit blyk dus duidelik dat oral, waar julle êrens baat by wil vind, eers `n ordelike toestand geskep moet wees; anders word daar dorings, distels, onkruid en knolle deurmekaar heen verbou, en het niemand iets daarvan nie. [1.12] Hoe sien `n dergelike ordelike toestand nou daaruit? [1.13] As jy uitgesorteerde koringsaad het, saai dit dan op `n sorgvuldig bewerkte akker en jy sal `n goeie en suiwer oes hê. [1.14] Wie `n goeie bouterrein en geskikte materiaal het, moet ook nie wag om met bou te begin voordat hy te veel boumateriaal opgehoop het nie, want dan sou die hele bouterrein uiteindelik vol lê. [1.15] En as die argitek dan kom en hom vra: “Vriend waar wil jy die huis eintlik gebou hê?”, wat sal hy hom dan kan antwoord? Tog maar net: “Daar waar die groot hoop boumateriaal lê!” [1.16] En die argitek sal aan hom sê: “Waarom het jy dan eers al daardie materiaal op die bouterrein laat ophoop, voordat ons `n plan opgestel en die grond uitgegrawe het. As jy die huis nou op hierdie plek wil hê, moet jy eers al daardie materiaal wegruim en die plek heeltemal skoon maak. Dan sal ek terugkom, alles opmeet, die bestek maak, daarna die grond laat uitgrawe en ten slotte ondersoek of die materiaal wel geskik is vir die bou van die huis. [1.17] Kyk, uit hierdie gelykenis kan jy al vry duidelik opmaak dat iemand weinig nut het van die baie lees as hy daarby nie in die korrekte volgorde te werk gaan nie. [1.18] Wat is hierdie korrekte volgorde nou egter? Mens moet heel eenvoudig elke nuwe lading of besending materiaal vir die bou van die huis dadelik rangskik en eers die volgende lading boumateriaal bestel as hy die eerste verwerk het. Op hierdie manier sal die bou vinnig vorder en sal daar steeds voldoende vrye ruimte wees om `n werkbare hoeveelheid nuwe boumateriaal ordelik te stoor. [1.19] Kort en duidelik gesê, bestaan hierdie ordening eintlik daarin, dat elkeen dit wat gelees is, direk in praktyk moet bring en sy lewe daarvolgens inrig; sodoende sal hy ook baat daarby hê, anders sal dit hom maar net skaad, want mens moet nie net na die woord luister nie, maar ook daarvolgens handel. [1.20] Binnekort volg meer uitleg. |
Desktop Kommentaar | |