Help

jakob-lorber.cc

Van die Hel tot die Hemel

Opheldering oor die piramide monument. Wandeling in die onderwêreld. Vagevuur, hemel en paradys

[2.156.1] Ek sê verder: “Sien jy hierdie piramide hier voor ons? Dit is die hart van jou liggaam! Soos wat die hart die draer is van al die tallose kieme oor goed en kwaad, so is ook die monument in die vorm van `n piramide die alomvattende begrip vir alles wat as vleeslike krag rus en handel in die vlees van jou natuurwese. Gaan hierdie piramide nou met jou eggenote binne en bekyk alles wat bevind is, goed, sowél in die hoogte as in die diepte en aan alle kante.

[2.156.2] As jy alles bekyk het, kom dan weer terug en vertel ons dan van alles wat jy aangetref het. Dan sal Ek jou verdere aanwysings gee oor wat jou nog te doene staan; maar jy mag nêrens stil bly staan nie! Sou `n bepaalde begeerte jou na een of ander saak oorval, rig dan jou oë op Helena en sy sal jou daarvan afhou!

[2.156.3] Begin nou moedig en vol troos aan jou tog in die onderwêreld, begelei deur My genade en liefde. "Want ook My siel moes voor die opstanding van My vlees na die onderwêreld afdaal en almal daar vrymaak, wat nog in die vlees van My vlees gewag het op die verlossing.”

[2.156.4] Na hierdie woorde buig Robert diep en gaan dadelik op sy weg.

[2.156.5] Die Fransiskaan vra My of hy dalk ook kon saamgaan, maar Ek sê vir hom: “My beste, as jy volledig uitgeryp sal wees, sal jy ook met iets dergeliks te doene kry, al is dit vanweë jou geaardheid in `n ander vorm. Want nie vir iedereen is een en dieselfde van toepassing nie; dit hang veeleer af van die mees oorheersende neiging wat `n siel in haar vlees gegriffel het. Wag daarom maar rustig af wat Robert alles aan die lig sal bring! Daardeur sal jy jou al min of meer daarvan bewus word, op welke manier jy self na die onderwêreld sal afdaal.”

[2.156.6] Die Fransiskaan sê: “Heer, is hierdie onderwêreld dan `n soort voorportaal van die hel, by wyse van spreuke, die sogenaamde vagevuur?” Ek sê: “Ja, iets dergeliks, maar tog baie anders as wat jy dit in jou nog taamlik rooms-bevooroordeelde hart saamdra.”

[2.156.7] Die Fransiskaan sê: “Gaan daar dan tog eintlik niemand, so te sê, “linea recta” (lynreguit) na die hemel nie?” Ek sê: “Nie sonder meer nie, my beste, want as Ekself al na die onderwêreld moes gaan, Ek, wat tog die Heer self is, dan sal ook elkeen van My kinders dit tog ook moet doen! Want elke vrug moet volkome ryp wees, voordat mens haar kan eet. Onnosele en onwetende kinders meen weliswaar, dat `n kersie al ryp is wanneer hy maar `n bietjie rooi is, maar die kundige tuinier weet presies hoe rooi die kersie moet lyk om volkome ryp te wees. Daarom is daar absoluut niks van `n “linea recta na die hemel gaan” nie! Wel egter na die geestelike paradys, waar julle julleself nou aan My sy bevind. Dit is voldoende, as Ek vir `n sondaar sê: “Vandag nog sal jy saam met My in die paradys wees!” Maar rustig nou, want Robert sal spoedig weer terug wees.”

[2.156.8] Die Fransiskaan sou nog graag iets wil sê op My woorde, maar die generaal, wat hom met Dismas en die verheerlikte vader Thomas die naaste aan die Fransiskaan bevind, lê dadelik sy plat hand op die mond van die Fransiskaan en sê maar net: “Heer, God en Vader het gesê om nou stil te wees en dan moet daar gehoorsaam word! Begryp?”

[2.156.9] Ek sê: “Laat dit maar agterweë, vriend Mathia! Hier word geen wet deur My voorgeskryf nie. As Cypriaan wil praat, dan hoef niemand hom dit te belet nie.” Die Fransiskaan sê: “Nee, nee, ek wil nie praat nie, hoewel ek dit byna nie kon nalaat nie. Juis op dié oomblik het Robert teruggekom uit die piramide en ek het my al soos `n kind verheug oor sy verhaal. Hy staan nou voor ons en lyk nie al te opgewek nie; sy gesellin ewe min! Dit het hulle daar kennelik nie so erg meegeval nie. Maar stil nou!”

Desktop Kommentaar