Help

jakob-lorber.cc

Van die Hel tot die Hemel

Grafgeheime en geneesmetodes aan die ander kant. Die groot versamelplek van goddelike genade

[2.154.1] Die Fransiskaan gaan daarop dadelik op weg om die genoemde opening op te soek. Toe hy haar vind, kyk hy aandagtig na binne. In die begin is alles pikdonker, maar na `n rukkie word dit dan tog sover lig, dat hy met moeite kan onderskei wat binne in die groewe is en watter verskynsels daar waargeneem kan word.

[2.154.2] Nadat hy `n tydjie gekyk het, begin hy te spreek: “O Heer, terwille van U heilige Naam, daar speel hom tog iets af. Ek het die kamer van `n geleerde ontdek. In `n hoek `n hele groot boekkas vol met allerlei stowwerige boeke en in die ander hoek `n skryf- en studeertafel met daarop `n groot hoeveelheid op mekaar gestapelde geskrifte. Teen die agtermuur is daar egter `n groot rusbank, waarop `n naakte, redelike onetiese uitsiende vrouepersoon lê, in `n nogal onsedelike houding. Nou kom ook die geleerde, wat baie lelik lyk, na die rusbank toe en sê: “Coiba, laat ons die hoogste genot van die lewe geniet, want die lewe is eers lewe as mens swelg in salige genot!” Nou ontklee hy hom ook en... O jou stuk vee! Nee, dit is te bar! Heer, is daar dan geen water byderhand nie, waarmee ek die drifte van die smeerlap ietwat kan afkoel nie? Ek het gedink dat ek `n dooie liggaam hieronder sal vind. Nou, dit is vir my `n snaakse lyk! Dit is werklik `n sonderlinge dieragtige museum!”

[2.154.3] Ek sê: “So is dit net genoeg, want deur in te gryp, sou jy hom maar net kwaad maak en hom meer kwaad as goed doen! Sulke diermense is erg kwaadaardig en dit is nie goed om hulle tydens hulle wellustige besighede te steur nie. Wanneer hy sy voornemens egter uitgevoer het, sal sy natuur hom wel vanself sê welke smartlike verdienste hy daardeur versamel het. Wag maar net, hy sal spoedig met sy genotsdaad klaar wees en dan sal jy dadelik `n ander skouspel te siene kry. Let maar op!” Spoedig daarna sê die Fransiskaan: “O, wat `n hopelose gebeurtenis! Die wellustige genotsgevoel van die geleerde en sy dik Coiba het `n baie slegte wending geneem. `n Vreeslike weeklaag, verskriklike verwensinge oor hierdie daad word nou duidelik hoorbaar en beide kruip van pyn oor die grond en kronkel soos vertrapte wurms. Ag, wat `n weersinwekkende aanblik! Werklik, as dit nie so `n skandelike paar was nie, sou ek U, o Heer, om erbarming vir hulle vra. Maar in dié geval doen ek dit juis nie! Die gespuis moet maar eens terdeë ondervind watter helse verkwikking die ontug is!”

[2.154.4] Miklosch sê: “Vriend, laat my ook net na binne kyk!” Die Fransiskaan sê: “Kom maar hier en kyk.” Miklosch kyk deur die opening na binne en sê: “Wel vervlaks! Dit is werklik baie erg! O Heer, beide moet wel `n verskriklike pyn voel. Miskien sou ietwat verligting tog hier op sy plek wees?”

[2.154.5] Ek sê: “Laat hulle voorlopig maar; as sulke verstokte minnaars verbeter moet word, moet hulle baie ernstig aangepak word, want sagte aanmanings het glad geen effek op sulke materiële siele nie. Ek sien bowendien hierdie soort menslike wesens baie, baie lank deur die vingers, maar wanneer alle sagmoedige vermanings en aansporings niks bereik nie, word hulle ernstig onder hande geneem deur My. Slegs deur baie, baie pyn begin hulle geleidelik aan tot besinning te kom en is dan in staat om iets hoër op te neem. Daarom laat ons hulle baie rustig van die pynlike vrugte van hulle vrolike dinge geniet.”

[2.154.6] Miklosch sê: “Maar Heer, dit is werklik nie aanskoulik nie! Hulle skreeu verskriklik en begin hulleself letterlik uit wanhoop te verskeur. Watse afskuwekkende verwensings stoot hulle uit oor hulle begane daad! O, dit is werklik ontsettend! Heer, gaan dit dan onder hierdie tallose grafmonumente en grafstene oral so?

[2.154.7] Ek sê: “Hier en daar nog baie erger, maar hier en daar ook ietwat beter. Want hulle almal kan nie kla oor die feit dat hulle geen lig oor die geestelike lewe op aarde ontvang het nie. Omdat hulle die lig nie in hulle hart, maar slegs in hulle hoof opgeneem het en daarby in hulle hart die ou bokke gebly het, vol onrein gedagtes en ook nog vol hoogmoed en verborge toorn, moet hulle eers in die museum weer heeltemal opnuut omvorm word. As alle sagsinnige ingrypings nie help nie, dan moet helaas tot harder slae oorgegaan word, anders sou hulle nooit gered kon word nie. Ons laat hulle nou maar rus en gaan na `n ander graf!”

[2.154.8] Graaf Bathianyi sê skielik: “Heer, beste Vader, daar langsaan staan `n vergulde grafmonument en as ek goed lees, met `n redelike mistieke opskrif:

[2.154.9] “God, vryheid, geluksaligheid! Mens, kettinghond, ellende, dood! Die mens, `n parasiet op die wye gewaad van die goddelike heiligheid, sou God wil liefhê soos `n luis die liggaam van `n mens. Maar dit vind die Godheid lastig; daarom dood Hy die menslike ongediertes onophoudelik. Welke mens het dan kennis van die liefde wat die luise vir hom voel? Hoe meer luise `n mens op sy liggaam kry, soveel te meer luisliefde sal hom omring. Maar die groot wyse mens het geen welbehae in so `n luisliefde nie; daarom doen hy al die moontlike om hom van hierdie nare minnaars te bevry. So doen die groot Godheid dit eweneens! Hy is voortdurend besig om Hom te ontdoen van die lastige menseliefde. Die Godheid sou geen luise moet skep en hulle geen bewussyn moet gee, as die luisliefde vir Hom `n gruwel is nie! Ook al is die luis oneindig klein, ten opsigte van die oneindige groot Godheid, tog het hulle `n baie fyn gevoel en voel die druk van die goddelike afkeer soveel pynliker, na gelang die oorwig van die goddelike mag groter is as die armsalige bestaan van `n luis, soos die mens. Daarom, groot Godheid, wees U luise genadig en vernietig hulle totaal, vir ewig!”

[2.154.10] Werklik, `n sonderling vulgêre en merkwaardige opskrif! Ek sou graag net wil kyk tot welke soort die bewoner van dié graf behoort.”

[2.154.11] Ek sê: “Beste Ludwig, die genoegdoening kan Ek jou baie maklik verskaf. Gaan na die agterkant van die grafmonument, waar jy `n ronde opening sal vind; kyk daar na binne en dit sal vir jou dadelik duidelik wees.” Graaf Ludwig Bathianyi begeef hom dadelik agter die grafmonument en ontdek die opening. Hy buig hom vooroor en rig sy blik ferm deur die opening op die binneste van die graf. Na `n rukkie sê hy heeltemal verbaas oor sy bevinding: “O, dit is tog in bomate merkwaardig! `n Uiters vies aap van die grootste soort, heeltemal behang met gehawende pouvere, wandel op en af in `n saal, lê af en toe `n vinger op die neus en dan weer op sy baie lae voorhoof, terwyl hy daar `n bietjie filosofies oorheen vryf. Daar op `n rusbed hurk so `n sewe of agt ietwat kleinere, hoogs waarskynlik vroulike ape en fluister mekaar iets in die oor. Nou sê die groot aap met `n krysende stem: “Ja, ja, Russe en Turke deug nie vir mekaar nie! Die Bohemer moes hulle al gegryp het. Dan sal die Engelse en Franse kom en sal die Russe laat sien hoe ver dit van Europa na Siberië is, en die liewe Oostenryk sal tot voetvee gemaak word en sal ten slotte na die pype van die ander moet dans. Ha, ha ha, dit gaan nou presies soos wat ek gewens het! O, julle arme Duitsers, julle dom Slawe, julle Romaanse esels en julle Hongaarse osse! Julle kry julle verdiende loon, dat julle almal saam Engels, Frans en Turks word! Want julle het daarvolgens gehandel en het dit so gewil! O, julle groot stommerike! In die parlement kon julle dit nie eens word nie, maar aan die galg van die algemene armoede en wanhoop het julle mekaar dan gevind. Nou kry julle wat julle verdien, julle Romaanse, Duitse, Hongaarse en Slawiese esels! Ha ha ha! Vir my gaan dit weliswaar niks meer aan nie, want ek is onder die kluite, maar ek het ontsettend baie plesier daarin, dat dit nou so gaan soos wat ek dikwels op aarde by myself gedink het!”

[2.154.12] Die graaf vervolg: “Ag Heer, goeie heilige Vader, wat hierdie aap by homself fantaseer, is tog die reinste onsin. Sê ons tog of iets daarvan waar sou kon wees.” Ek sê: “Op aarde is alles moontlik, afhanklik van die vraag of die mens êrens nog met My wandel, of op hulle selfontwikkelde mag vertrou. Luister maar verder na hierdie ape!”

[2.154.13] Die graaf kyk weer deur die opening en hoor die aap, nadat hy `n paar keer sy keel geskraap het, verder sê: “Waar bly my Malla tog so lank? Aha, daar kom hulle al, seker met heelwat nuusbrokkies van die aarde!” (Malla kom die saal binne). “Gegroet! Wel, watter nuus is daar van die luise-aarde te meld?”

[2.154.14] Malla, wat ook baie aapagtig lyk, sê: “Niks besonders nie, my Mallwit! Alles is in die war; niemand weet meer wie die kok is en wie die kelner nie! Die ministers in Oostenryk werk aan `n sakie, waarmee hulle maklik onderdeur kan gaan, wanneer hulle die sop heeltemal versout het. Die kleintjie maak hulle groot en die grote maak hulle klein. Nie waar nie, my liefste Mallwit, grappig genoeg gaan die dinge heeltemal volgens jou wens!” Mallwit maak hom hieroor vrolik.

[2.154.15] Malla sê verder: “Die rykes sal hoë belastings moet betaal en skel daarom nou al soos viswywe. Die geestelikes kon maar nie genoeg vloek op die regering nie. Die landsliede wil van betaal niks weet nie. Kunstenaars en vakliede begin stilaan te wanhoop. Die krygsmag hoop nog steeds op silwer en goud, maar daar kom helaas niks van nie. Nou, en dan die grap nog: Die pous het nog altyd die Franse siekte en het daarom uit Napels, Spanje en Oostenryk artse laat kom; dit is egter tevergeefs, hy kom nie van die siekte af nie en dit sal wel die dood wees van die beste pous! Ha ha ha!

[2.154.16] Die aap Mallwit sê: “Heeltemal volgens my wens! Soos wat ek dikwels op aarde gesê het, so gaan dit nou! Maar die grap oor die pous is werklik nie sleg nie en dit sal nie anders gaan nie! Hoe maklik sou dit nie gewees het in die jaar 1848, toe ons nog op aarde was, as die dom mense maar enigsins daartoe bereid gewees het. Nou sit hulle met die brokke, maar hulle kry almal wat hulle verdien het! Sorg nou maar dat ek iets te ete kry. Ek het al baie honger en ons dogters daar op die sofa eweneens.”

[2.154.17] Die graaf gaan voort: Nou loop die wyfie-aap Malla die deur uit. Ek is tog belustig na die gereg. A ha, daar kom sy al terug met `n groot mandjie vol, maar wat daar te ete is, mag `n ander saak wees! Dit lyk werklik asof dit suiwer halfgaar vroulike en hier en daar ook manlike liggaamsdele is. Hy stort hom begerig op die inhoud van die mandjie en haal dadelik die grootste stukke daaruit. Die klein en maeres laat hy in die mandjie lê. Malla en haar dogters begin aan die stukke wat manlik lyk, te eet. Og, dit is tog om van dom te word, en met watter fel begeerte word dit alles verslind! “Goddank, ek het my buik weer vol. Dit was voortreflike oesters! Gemarineerde slakke sou ook lekker gewees het, maar my maag verdra hulle nie. Nou kan julle weer na buite gaan, as julle julleself ietwat wil amuseer daar!”

[2.154.18] Malla sê: “Liefste Mallwit, dit is nou nie raadsaam nie, want daar sluip allerlei wilde diere buite rond, asof die hele hel losgebreek het; en die wat gegryp word, wel, God is hulle genadig! Daarom dink ek, dat ons eerder tuis kan bly. As die hel op jag gaan, dan is dit nie goed om na buite te gaan nie!” Mallwit sê: “O wee, o wee, goeie wêreld; verheug jou maar as dit so is! Jou gesig sal spoedig weer baie bloederig lyk! Maar ek merk, dat daar uit die luggat `n onaangename luggie na binne waai. Gaan tog net en kyk waardeur dit kom!” Malla sê: “Og, wat sou dit wees? Daar waai `n helse wind! Ons kan die lugkoker maar liefs digstop, dan is dit dadelik gedaan met die trog.” Malla haal uit `n hoek `n hoop vuil vodde en probeer die gat dig te stop, maar sy slaag nie.

[2.154.19] Die graaf sê: “Heer, wat dink U daarvan, dat ons haar deur hierdie opening sou aanspreek?”

[2.154.20] Ek sê: “Daarvoor is dit nog veels te vroeg. Ons sal hulle met rus laat; die angs vir die veronderstelde helse jag sal die beste uitwerking op hulle hê. Jy moet jou van sy skynbare deugde, vanweë die aanroep van God, nie te veel voorstel nie; ook nie van sy skynbare politieke nugterheid nie, want alles wat hy sê, is sy begeerte en sy liefde. Uit sy voedsel kon jy voldoende agterkom watse soort mens hy en sy familie is. Aan sy uiterlike het jy gesien hoe onmenslik sy wese nog is. Daarom is hier voorlopig niks anders te doen nie, as om hom te laat begaan soos `n onryp vrug en af te wag totdat hy ryp word.

[2.154.21] Dit is `n baie besondere museum, omdat heeltemal verdorwe geeste hier deur `n besondere werk van My genade, soos plante in `n broeikas, weer tot lig en lewe teruggebring word. Hierdie versamelplek van kunswerke van My genade en besondere erbarming het sy opsieners en wagters, wat as egte tuiniers uitstekend voorsien is van die nodige wysheid. Jy kan daarvan verseker wees, dat alles wat aan hulle sorg toevertrou is, sekerlik tot rypheid moet kom.

[2.154.22] Nou verlaat ons hierdie plek en begewe ons daarheen, waar jy na `n groot, met baie kunstig versierde monument byna al ons gaste versamel sien. Daar sal jy, en ook julle, My eerste aangekome vriende, alles nog duideliker gewaar word waarom hierdie plek, wat hom eintlik nog steeds onder die dak van Robert se huis bevind, die museum van die huis heet.

[2.154.23] Op aarde het Ek eens vir My broeders gesê: “Ek het julle nog baie te sê, maar julle kan dit nou nog nie verdra nie. Wanneer die gees van die waarheid egter na julle toe sal kom, sal hy julle in alle geheime en, vir die oë van die wêreld verborge wysheid, van God binnelei!” So is dit nou ook hier. Ek kan julle nie op een slag alles wys en uitlê nie, maar deur die omstandighede word die ewige gees van die waarheid in julleself gewek. Hy sal julle dan duidelik maak wat nou nog vir julle duister en onverklaarbaar is. Laat ons nou vinnig daarheen gaan waar almal hulle versamel het; daar sal `n geweldige lig vir julle almal ontsteek word! Want waar die aas is, versamel geweldig baie adelaars hulle!”

Desktop Kommentaar