Help

jakob-lorber.cc

Die Maan

Wese en bestemming van die Maan

1-5-1841

[1.1] Wat die maan betref, dit is `n vaste hemelliggaam, meer nog as die aarde; hy is in `n sekere opsig `n kind van die aarde, dit wil sê dat hy uit bestanddele van die aarde gevorm is.

[1.2] Hy is aan die aarde toegevoeg, sodat hy haar uitstromende magnetiese krag kan opvang en dit, na gelang die aarde dit nodig het, weer aan haar kan teruggee: Daarom is sy loop om die aarde ook so buitensporig. Want hy rig hom altyd volgens die groter of kleiner hoeveelheid van die aanwesige magnetisme op die aarde; daarteenoor rig die loop van die maan, as draer van hierdie stof, homself ook, volgens die uiteindelike behoefte van die aarde aan hierdie natuurlike lewenstof - Dit is die vernaamste funksie van die maan.

[1.3] As `n planeet kleiner is as die aarde, het hy geen maan nodig nie. Die funksie van die maan word dan oorgeneem deur hele hoë gebergtes, wat byvoorbeeld by Venus, Mercurius, Mars en nog `n paar baie kleiner planete die geval is; maar die groter planete moet een of soms meer mane hê om die genoemde dienste aan hulle planeet te verleen.

[1.4] Ook op die maan lewe, net soos op die aarde, mense en talryke ander wesens, met net dié onderskeid, dat geen maan aan die voortdurend na die planeet toegewende kant bewoon is nie, maar altyd aan die teenoorgestelde kant, omdat hy aan die kant waarmee hy na die planeet toegekeer is, nie voorsien is van lug, nóg van water, van vuur of van alles wat maar vir die organiese lewe nodig is nie.

[1.5] Jy vra jou af waarom dit so is. Die antwoord lui: Omdat geen maan `n beweging om sy eie as mag hê nie - omdat die aantrekkingskrag van die aarde, of trouens elke planeet wat op enige afstand van sy maan staan, nog te kragtig werk. Sou die maan nou `n rotasie om sy eie as gehad het, - al sou dit hoe langsaam wees - dan sou ten eerste, deur `n soortgelyke rotasie, die aantrekkingskrag van die planeet in dieselfde verhouding versterk word as wat die rotasie van die maan in verhouding is tot die rotasie van die aarde, dit wil sê: Wanneer die maan in sy rotasie die rotasie van die aarde in tyd sou benader, sodat hy hom ongeveer in dieselfde tyd om sy as draai as die planeet, dan sou, deur die daardeur toenemende aantrekkingskrag van die planeet, weldra die een deel na die ander van die maan losgemaak word en op die aarde neerstort. Die maan sou baie weinig gediend wees met `n ewe langsame rotasie soos wat die planeet het, vanweë die gelykmatige verdeling van die lug, die water en dus ook van die vuur, en alles sou dan net so wees soos wat dit nou is op die van die planeet afgewende kant van die maan. Want die water, die lug en die vuur moet op `n hemelliggaam, met `n na verhouding aangepaste snelheid, saam deur die hoog oprysende berge rondgedraai word; anders sou die elemente, wat so noodsaaklik is vir die organiese lewe, hulle ophoop op die afgewende kant van die sentrale liggaam, vanweë die middelpuntvliedende krag en sy eie verplasende gewig.

[1.6] As dit egter die geval sou wees, vra jou dan net af wie op so `n hemelliggaam sou kon lewe? So `n wese sou maar net solank gelewe het, as wat hy homself onder die lug- en waterlaag bevind het; as die planeet homself egter hiervan sou wegdraai, dan sou hy noodsaaklikerwys in die lugledige ruimte moes verstik, as hy nie al voor dit in die water sou verdrink het nie.

[1.7] Kyk, dit sou nou ook by die maan die geval gewees het, as hy `n ewe langsame rotasie as die aarde gehad het! Hy sou, om lug, water en vuur gelykmatig oor sy oppervlakte te verdeel, `n vyfmaal vinniger draaiing om sy as moes gehad het, dit wil sê: Hy sou hom in vier-en-twintig aardure vyfmaal om sy eie as moes gedraai het, wat dan niks anders tot gevolg sou gehad het as die veroorsaking van die volkome vernietiging van die maan reeds na vyf jaar, terwyl die aarde oorbesaai sou gewees het met deeltjies van die maan. Wat die massas, wat op die aarde sou neerstort, teweeg sou bring, hoef Ek julle nie van naderby te verklaar nie, maar sê net, dat niemand dan in die lewe sou gebly het nie.

Desktop Kommentaar