Help

jakob-lorber.cc

Die Huishouding van God

Hoofstuk 8: Die sondeval

[1.8.1] En sien, toe het die ewige Liefde Haar aangesig verberg, en het volgens die getal van orde vir ‘n bepaalde tyd weggegaan en was uit die diepte van barmhartigheid blind en wou en kon nie weet, wat die nuwe skepsels in die oordeel van die Godheid deur die Liefde van barmhartigheid vir die proef van hulle vryheid gedurende die kort tyd op aarde, sou doen nie. En die plek, wat aan hulle as woning op die vaste land gegee was, was ‘n vallei en was ‘n tuin en was die Paradys genoem; en dit was die land, wat later van melk en heuning oorgeloop het, en was tydens die groot tyd van tye die plek van die grootste daad van die ewige Liefde en het Bethlehem geheet en sal vir ewig so heet, en was die punt, waar die ewige woord, vir die eerste keer in die vlees, liggaamlik die lig van Sy genade, die druppel van barmhartigheid wat deur die wye son, die maan en al die sterre, uitgestraal word, aanskou het.

[1.8.2] En sien, hulle begeerte het in die oordeel van die versoekende Godheid in Sy grimmigheid, gegroei. En daar het ‘n boom in die tuin gestaan, en die’ boom het appels van die mooiste soort gedra, en Eva was lus daarvoor, en sy het vir Adam gesê: “Sien, Adam, ek is baie lus vir hierdie vrug! As jy wil, sal ek een pluk en daaraan proe en dit vir jou, as die eerste gawe uit my hand, gee!”

[1.8.3] En sien, Adam het geswyg, en nagedink oor dit wat Eva gesê het. En ‘n innerlike stem, wat heilig was, aangesien dit uit die Godheid in hom gekom het, het vir hom gesê: “As julle van die vrug van hierdie boom sal eet, dan sal julle sterf!” En Adam het sodanig groot daaroor geskrik, dat hy vir die geliefde Eva geen antwoord daarop kon gee nie.

[1.8.4] En die begeerte het in Eva opgekom en het haar onder die boom getrek en het haar ‘n appel daarvan laat pluk. En Adam het dit nou gewaar, dat Eva ontrou aan sy hart geword het, en was bedroef en het gesê:

[1.8.5] “Eva, Eva, wat doen jy? Sien, ons is nog nie deur die Here van mag en krag en die lewe geseën nie! Sien, jy hou die vrug van die dood in jou hand; gooi dit weg van jou, sodat ons nie in naaktheid voor die Here van geregtigheid moet sterf nie!”

[1.8.6] En sien, toe skrik Eva in haar begeerte vir die erns van Adam en laat die vrug van die dood op die aarde val. En haar begeerte het haar verlaat, en sy was vry van haar begeerte, en Adam het ‘n groot welgevalle aan die bevryding van Eva, uit die strik van haar dodelike begeerte, gevind.

[1.8.7] Maar sien, die begeerte wat uit die hart van Eva verban was, het nou op die aarde gelê en is deur die mag van die oordeel van die grimmigheid van die Godheid na die figuur van ‘n groot slang omvorm, wat die vrug van die dood in sy bek geneem het, en op die boom gekruip en dit heeltemal van die stam tot in alle takke van die wortel tot by die kroon omstrengel het en het straks vir Eva gekyk. En Eva het dit gewaar en het vir die slang gekyk, en Adam het dit ook deur Eva gewaar; maar hy het nog nie die slang gesien nie.

[1.8.8] En sien, Eva het vir die slang genader en het met groot lus die verleidende windings om die boom en die skitterende kleure van die koue skubbepantser, bekyk.

[1.8.9] Maar die slang het beweeg en het nou die appel in die skoot van die nou sittende Eva gelê, het sy kop dan weer opgetel en het vir Eva die volgende woorde gesê:

[1.8.10] “Eva, sien, jou dogter wat deur jou verstoot is, omstrengel die boom van jou lus! Moet nie die geringe gawe, wat ek in jou skoot gelê het, versmaai nie, maar geniet onbesorg die vrug van jou liefde; jy sal nie net nie sterf nie, maar sal versadig raak met die erkentenisse van die lewe en oor God, vir wie jy vrees, waar Hy tog swakker is as jy!” En sien, toe verdeel die tong van slang en het twee skerp pyle geword, en die slang het haar kop na die bors van Eva afgebuig, asof sy dit volgens kinderlike geaardheid wou soen; maar sy het nou die twee gifpyle in die borste van Eva gesteek, en Eva het haar eie figuur in die slang herken.

[1.8.11] En nou het ook Adam waargeneem, wat daar onder die boom gebeur het, en hy het baie van die tweede Eva gehou, en hy het nie opgemerk, dat dit net ‘n slang was nie. En sien, toe ontbrand ook hy in sy begeerte in die lus vir die tweede Eva, neem die vrug uit die skoot van Eva, was ontrou aan sy liefde en het met wellustige begeerte, die verbode vrug uit Eva se skoot geniet; en in sy genot het hy homself as die eerste een erken, wat deur die groot ydelheid van sy blinde selfsugtigheid in die ryk van die lig van die ewige Liefde, verlore gegaan het en in die toornmeer van die onverbiddelik dodelike Godheid, geval het.

[1.8.12] En nou sien, soos wat hy homself so herken het en die verblinde Eva deur hom, het daar uit die diepte van sy hart ‘n groot berou in hom opgekom, en Eva het vir haar naaktheid en die naaktheid van Adam skaam gekry en was van kroon tot voetsole verleë en het haar naaktheid met blare van ‘n vyeboom bedek. En ook Adam het sy hande na blare gerek, om sy kaalheid te bedek en het homself in ‘n grot verberg en het daar trane van groot smart gehuil; en Eva het agter ‘n doringbos weggekruip en het diep oor haar skuld van verleiding getreur.

Desktop Kommentaar