Help

jakob-lorber.cc

Die Huishouding van God

[1.5.29] Nou sien: Terwyl al die sonne met die aardes deur die mag van die barmhartige Liefde van die ewige en oneindige God geword het, het hulle nog nie ‘n glans gehad nie, geen lig, geen glinstering en geen geflikker nie, want dit was nog groot nag op die sonne en aardes en mane wat in wording was; maar in die sentrum van die sonne het die ewige Liefde ‘n klein vonkie van Sy genade geplaas en hierdie vonk het vinniger as ‘n weerligstraal die donker massas verhelder, en sien, hulle het vir die aardes met ‘n groot glans lig gegee, soos hulle vandag nog lig en voortaan sal lig vir solank die genadevonk nie van hulle geneem sal word nie.

[1.5.30] En sien, toe het ook die aardes en mane ‘n glans gekry en is aan die sonne in regverdige hoeveelhede toegedeel, en die Liefde het, deur die krag en mag van die Godheid, Sy asem oor hulle geblaas en sien, die lig op die sonne het begin bewe, die mere van die aardes het in vloede gegolf en gekolk en die lug en winde het oor die aardes geswem en gewaai nes die Gees van God oor die waters van die barmhartigheid! En die mane het magtig bo die aardes uitgestyg, wat vir hulle gegee was soos die vrug vir ‘n boom, en het begin, om in wye bane om die aardes as voortdurende begeleiers van hulle ontstaan, te wentel; en waar daar baie was, is hulle in vaste kringe as teken van die Liefde vir die kinders, wat aanhoudend die aangesig van hulle Vader moet aanskou, net soos die mane vir die aardes, verenig, sodat hulle as gevolg van hulle los samestelling nie uit hulle bane geruk en vernietig moet word nie.

[1.5.31] Want sien, die mane is nie vas nie, maar baie los en is soos skuim van die see, wanneer dit meer vas en gekonsolideer raak, en is kaal en sonder water; en die lug van die aarde is daar soos die water van die aarde (beteken waarskynlik: ... en die water van die maan is soos die lug van die aarde...(opmerking deur die vertaler)) en die lug soos die eter tussen sonne en aardes. En hulle (die mane) is bestem, om die wêreldsugtiges op te neem, en om te dra die geeste van die materie, en om hulle bestendigheid te toets en om hulle vir die ontvangs van genade ryp te maak.

Desktop Kommentaar