Help

jakob-lorber.cc

Die Huishouding van God

Hoofstuk 23

[1.23.1] En sien, toe die stad nou klaar gebou was, toe neem Cahin vir Hanoch en het vir hom in die hoë woning, wat daar vir hom gebou was, gelei, en het vir hom in die teenwoordigheid van al sy kinders en ook reeds kleinkinders die volmag oor hulle oorhandig en het van hom vereis, om vir hulle almal wette volgens sy regte insig, vry na eie willekeur, te gee, deur te sê:

[1.23.2] “Sien, Hanoch, in hierdie net vir jou alleen geboude woning, oorhandig ek aan jou al my vaderlike regte met alle mag en geweld vir die vrye leiding van my, jou en hulle almal se kinders deur wette na willekeur, wat deur hulle geheilig moet word; want daar is min aan die wet self geleë, of dit nou so of so is, maar alles hang af van die presiese nakoming daarvan, en daarom sal dit lui: ‘Daarvolgens gehandel, reg gehandel, - oortreding daarvan, ten volle onregmatig!’, en moet dan altyd gestraf word volgens die graad van oortreding.

[1.23.3] En op die’ manier sal ons deur die handhawing en nie deur die wet self nie, vry word, waarvan die samestelling nie belangrik is nie, maar net die nakoming daarvan.

[1.23.4] Maar jy as die wetgewer is vrygestel van die nakoming daarvan, omdat jou vryheid ter wille van die wet heilig moet wees; want indien jy ook aan die wet gebind is, dan sou dit vir jou beperk, om in die noodsaaklike vrye sfeer werksaam te wees, aangesien jy dan self daarin vasgevang sou wees. Daarom moet jy buite die wet staan, vry as iemand, wat geen wet ken nie; maar elke daad van jou moet vir hulle wat totaal onderdanig aan jou is, as ‘n streng wet dien, en wanneer jy wil, dan moet hulle so handel, soos jy dit wil, - en op die’ manier moet al hulle take en bewegings niks anders wees as die’ van jou wil nie.”

[1.23.5] En toe maak die nuwe vors sy mond oop en het met ‘n baie gesaghebbende stem gesê: “Luister dan, julle almal wat my onderdane is, manlik en vroulik! Niemand mag ooit iets as sy eiendom beskou nie, terwyl alles net as my eiendom beskou moet word, sodat die gestry en getwis onder julle ‘n einde moet kry! Daarom sal julle in toekoms net vir my dien en vir my skure werk; daarvoor sal elkeen van julle volgens sy ywerigheid kos kry, en die mees getroues mag nader aan my kom as die wat minder getrou is, en die opsigters en die wetstoepassers en die wat die regverdige strawwe voltrek, sal beter kos ontvang. Wee hom wat ongehoorsaam is! Vir hom sal ek na die berge uitdryf, en die diere daar sal hom verwurg en verskeur. Maar diegene wat die wet uit traagheid, onoplettendheid en uit ligsinnigheid sal oortree, sal met stokke tot op die bloed getugtig word; maar hulle, wat dit sal waag, om vir my as vors in enige iets te weerspreek, sal met slange tot in die murg van hulle beendere getugtig word, en hulle tonge sal vir hulle uitgeruk word en vir die slange as kos gevoer word. En wie ooit vir my met skewe oë sal kyk, vir hom sal die oë uitgesteek word, sodat hy voortaan nie meer sy vors sal kan aanskou nie. Die een wat traag is, sal ‘n vragdraer word en sal soos ‘n pakdier met stokke en knuppels behandel word, sodat sy voete sal hardloop en sy hande vinniger sal word.

[1.23.6] Andersins gee ek vir julle geen wet as net die strengste gehoorsaamheid ten opsigte van al my vrye wense en bevele, wat ek aan julle sal gee gedurende elke tyd van die dag sowel as in die nag, amen.”

[1.23.7] En sien, toe het selfs Cahin en al die ander bo alle norme geskrik en het diep bekommerd uit die woning van Hanoch gegaan en het in hulle harte hulle grusame vader Cahin verwens, wat vir hulle uitsonderlike groot moeite sodanig klaaglike lot veroorsaak het.

[1.23.8] En toe dit nou aand geword het, het almal honger geword, en niemand het dit gewaag om te eet nie en almal het bedroef na Hanoch toe gegaan en gesê: “Heerser, ons het die hele dag gewerk; nou, gee ook vir ons om te eet, soos wat jy belowe dit het!”

[1.23.9] Maar Hanoch het opgestaan en gesê: “Waar is die vrugte van julle werk? Bring dit hiernatoe, en wys dit vir my, en plaas dit in my skure, dan sal ek elkeen gee wat hom toekom!”

[1.23.10] En hulle het gegaan en gebring, soos wat dit vir hulle beveel was, sommiges baie en die ander min, en het dit aan sy voete gelê.

[1.23.11] Maar Cahin en sy vrou het niks gebring nie omdat hulle van mening was, dat hulle vrygestel was daarvan. En sien, toe het Hanoch die vrugte uitgedeel en het gesê: “Wie daar gewerk het, die sal ook eet; maar wie nie gewerk het nie, sal ook nie eet nie.”

[1.23.12] En so moes Cahin en sy vrou vir hierdie keer vas. En sien, toe het Cahin met sy vrou in trane die woning van Hanoch verlaat en het ook geen barmhartige hart onder al sy kinders en kleinkinders gevind nie. Toe het hy op die lande uitgegaan en het van die vrugte wat daar agtergebly het, geëet; en omdat daar vir hom geen woning opgerig was nie, het hy met sy vrou onder die oop hemel oornag.

[1.23.13] En toe die volgende dag die kinders weer opgedaag het, om te werk, het hulle hom reeds gekry, waar hy besig was om vrugte bymekaar te maak. “Sien”, het hulle gesê, “vir die eerste keer werk hy op hierdie land; dit is net reg so, aangesien hy dit so wou gehad het: in plek van liefde die reg!”

[1.23.14] En sien, toe hulle nou weer ononderbroke tot die middel van die dag gewerk het, - sommiges het vrugte bymekaar gemaak, ander het nog bykomstige huise, wonings en skure gebou, en sommiges het die vors en sy vrou en kinders vir sy groter gemak gedien, - toe het weer almal na sy hoë woning gekom en het vir hom die vrugte en ander bewyse van hulle vermoeiende ywer gebring en het volgens reg gevra, om te eet, wat ook Cahin en sy vrou gedoen het.

[1.23.15] En sien, toe het Hanoch baie kwaad opgestaan en het baie ernstig gesê: “Hoeveel keer per dag wil julle dan eet?! Dink julle, ek laat vir julle die vrugte bymekaar maak, sodat julle dan kommerloos gevoer kan word?! Waarvan moet dan ek en my bediendes lewe, wat nie veronderstel om soos julle te werk nie, maar om hulle heerser op hulle hande te dra?! Daarom gaan weg van my, en niemand van julle almal sal dit meer waag, om ooit weer die drumpel van hierdie my woning te betree nie! Van nou af sal ek daagliks deur my bediendes die vrugte vir my huis in ontvangs neem; maar julle kan spaarsaam net van die’ vrugte eet, wat daar vanself van die struike en bome afgeval het, - so ook die versamelaars, en ook hulle wat daar bou. En dit is vir julle ‘n nuwe gebod, wat julle as heilig moet beskou; wee die oortreders!”

[1.23.16] En sien, toe het Cahin die woord opgeneem en het baie bedroef en diep bewoë gevra: “O Hanoch, jy groot vors, my gewese seun, sê volgens jou hart reg en regverdig, is jou vader en jou moeder nie vrygestel van alles, wat jy in wysheid vir jou onderdane volgens jou vrye willekeurigheid beveel het nie? En as ek dan soos my kinders moet wees, dan gebied, dat hulle vir hulle vader en moeder moet sorg, aangesien ons reeds oud, moeisaam en baie swak geword het. Of gee vir my genadiglik die toestemming, om van hier af tot aan die einde van die wêreld te trek, sodat ek nie verder die groot hartseer van my kinders moet aanskou nie, wat daar smag onder die swaar juk van die vrye geregtigheid.”

[1.23.17] En sien, toe het Hanoch gesê: “Hoe vra jy dan vir my?! Is ek dan verkeerd, in dit wat ek doen, soos wat jy vir my geleer en vir my die mag gegee het?! Het jy tog self niemand, behalwe vir my, as bo die wet verklaar en het geen uitsondering met jouself gemaak nie! Hoe verwag jy dan wederregtelik van my en wil vir my daardeur dwing, om vir jou, die eerste wetgewer, van die streng geregtelike gevolge van ongehoorsaamheid, as voorbeeld ter afskrikking vir die ander, vry te stel?! En wanneer ek sodanig optree, sê, is ek dan verkeerd?! Aangesien by ons geen liefde is nie, maar die koue reg, hoe kan jy daar teen die wette van my vrye willekeur praat, om ‘n genadiglike uitsondering te maak, wat nooit met die regte van die wette van jou vors versoen kan word nie?! Dat jy my vader is, het niks met my te doen nie?! Ek het tog deur jou onstaan, sonder dat ek dit onder enige voorwaarde wou geword het nie! En so het jy vir my sonder my wil verwek en het van my ‘n vors sonder my wil gemaak! Sê dan vir my, aangesien ek nou geword het en is, wat ek is, en soos ek is, sonder my wil, aangesien ek geen gehad het nie, en ook sonder enige voorwaarde, bloot toevallig deur jou wellustigheid en vors deur jou ambisie, watter verbinding, suiwer regs gewys beskou, ek dus met jou het?!

[1.23.18] Dus vlug uit my oë, waarheen jy wil, sodat die streng gevolge van die geregtigheid, nie vir jou inhaal nie! Dit is die enigste genade, wat ek vry uit my aan jou sal toestaan, aangesien ek kan doen wat ek wil; gaan nou en vlug!”

Desktop Kommentaar