Help

jakob-lorber.cc

Die Huishouding van God

Hoofstuk 1: Aanmaningsoproep deur God (15-3-1840, na 6 uur in die oggend)

So het die Here tot en in my (Jakob Lorber) gespreek vir ieder en elk, en dit is waar, getrou en gewis:

[1.1.1] “Wie met My wil praat, die kom na My, en Ek sal vir hom die antwoord in sy hart lê; maar net die wat rein is, wie se hart vol nederigheid is, sal die toon van My stem verneem.

[1.1.2] En wie vir My voor al die wêreld voorkeur gee, vir My lief het soos ‘n teer bruid haar bruidegom, met hom wil Ek arm in arm wandel. Hy sal My altyd sien soos ‘n broer die ander broer, en soos Ek hom reeds van ewigheid af aanskou het, nog voor hy was.

[1.1.3] Maar vir hulle wat siek is, sê: Hulle moet nie in hul siektes bedroef wees nie, maar moet hulle ernstig aan My wend en moet vas op My vertrou. Ek sal hulle troos, en ‘n stroom van die kosbaarste balsem in hulle harte uitstort, en die bron van die ewige lewe wat nooit sal opdroog nie, sal aan hulle geopenbaar word; hulle sal genees en verkwik word soos die gras na ‘n donderstorm.

[1.1.4] Diegene wat My soek, sê vir hulle: Ek is orals en nêrens. Ek is orals, waar mense My lief het en My gebooie hou, - maar nêrens, waar mense My net aanbid en vereer nie. Is dan die liefde nie meer as die gebed nie, en die nakoming van My gebooie nie meer as die verering nie?! Waarlik, waarlik Ek sê vir jou: Wie vir My lief het, aanbid My in die gees, en wie My gebooie hou, dit is hy wat My in waarheid vereer! My gebooie kan egter niemand hou as net hy, wat My lief het; maar wie vir My lief het, het geen ander gebod meer nodig nie behalwe, dat hy My en my lewendige woord, wat die ware ewige lewe is, moet liefhê.

[1.1.5] Vir die swakkes laat weet uit My Mond: Ek is ‘n sterk God. Hulle moet hulle almal aan My wend; Ek sal hulle vervolmaak. Uit die muggievanger wil Ek ‘n leeutemmer maak, en die wat bang is sal die wêreld vernietig, en die groottes van die aarde sal soos kaf uitmekaar gewaai word.

[1.1.6] Vir die dansers en danseresse sê sonder vrees, dat hulle almal erg van die Satan mislei is. Hy gryp hulle almal by die voete en draai vinnig saam met hulle in ‘n warrelkring, sodat hulle daardeur deur en deur duiselig word en nie meer kan staan, nóg loop, nóg sit, nóg slaap, nóg rus, nóg hoor, nóg voel nóg ruik, nóg proe, nóg voel nie; want hulle is soos dooies, - daarom kan vir hulle nie gepreek nóg gehelp word nie. En sou hulle ook na My opkyk, dan sal dit met hulle gaan soos met iemand, wie deur ‘n sterk persoon by die voete gehouvas word en vinnig in die rondte gedraai word; sou hy ook na die hemel opkyk, sou hy nie ‘n son, maar net ‘n ligte streep sien, wat hom sou verblind, sodat hy dan sy oë sal sluit en hoegenaamd niks meer wil sien nie.

Desktop Kommentaar