Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

Die groot betekenis van `n aardse kind van God

[2.2.1] Sien, ons verhewe gids begewe hom met die drie na die hoogte, wat, soos reeds vroeër aangegee was, hierdie keer deur `n nog sterker straleglans omgewe is. En soos julle sien, gaan die verhewe groep ook vinnig verder.

[2.2.2] Kyk nou egter ook net terloops na die omgewing van ons môregebied, veral na die hoogvlaktes van die heuwels, en kyk net hoe daar `n groot menigte allersaligste engelegeeste in besonder stralende gewade die Heer die allervriendelikste toewuif, en die nuwe aankomelinge te kenne gee wie Die Een is wat die drie na die huis lei! Psalms klink van alle kante af op en `n salige jubelgeroep kom ons tegemoet; en dit alles baie in die besonder om die nuwe aankomelinge te toon dat die Heer in Sy huis is.

[2.2.3] Julle sê nou: Dit lyk asof die Heer uit liefde vir hierdie drie vir `n kort tydjie die gehele boonste hemel verlaat het; en dat Hy nou weer na Sy huis terugkeer, en al hierdie salige hemelse engelskare hulle bomatig jubelend daarop verheug dat die Heer en heilige, liefdevolste Vader weer van so `n oes-reis tuiskom.

[2.2.4] Ek sê vir julle; by bepaalde geleenthede is dit ook werklik so, want by sodanige verlossinge laat die Heer dit dikwels lyk asof Hy uit die môregebied vertrek. Tydens so `n reis is Hy dan ook as wesenlike persoonlikheid - behalwe in die steeds sigbare genadeson - nêrens in die gehele hemelse môreryk te siene nie.

[2.2.5] Hierdie toestand, waarin gedurende so `n afwesigheid, die saligste geeste die Heer nie sien nie, word `n "saligheidsrus" genoem; want in hierdie toestand word alle saliges innerlik weer op `n hoëre saligheid voorberei en die groot verlange waarmee hulle op die Heer wag, is dit wat hulle voorberei.

[2.2.6] Op grond daarvan sien ons egter dan nou ook die hele, eindelose ver uitgestrekte môregebied soos in één lewe voor ons oë saamgesmelt, want uit alle oneindige ruimtes van hierdie hemel stroom die engelegeeste saam om die aankomende Vader met die allergrootste warmhartigheid te ontvang.

[2.2.7] Laat ons nou egter net `n blik werp op ons buitengewone verbaasde geselskap. Die prior wend hom tot die Heer en sê: O, eindeloos heilige en liefdevolle Vader, by u heilige wil, wat beteken dit nou? Is dit suiwer allersaligste engelegeeste, of is dit alles maar `n verskyningsvorm? Want dit is tog byna nie te glo, terwyl die mense op aarde so buitengewoon sleg is, dat U allerhoogste hemele al so bevolk kan wees. Want op aarde het ons by monde van vroom mense, wat reeds `n suiwer gees besit, te wete gekom dat slegs bitter weiniges in hierdie allerhoogste hemel kom; ietwat meer in die twee onderste hemele, maar baie in die sogenaamde suiweringsoord, en selfs buitengewoon baie - o Heer, behoed ons daarteen - in die hel!

[2.2.8] Omdat die aarde nog maar ruim vyfduisend jaar die mensegeslag dra, is die aanwesigheid van die baie groot aantal sigbare geeste hier nou onbegryplik. Dit is, seker oppervlakkig gesien, soveel dat hulle, dig teen mekaar geplaas, een miljoen jaar lank van jaar tot jaar kan afwissel en steeds deur nuwes vervang word, wat die aarde sodanig sou vul dat `n appel wat op hulle sou val nie tussen hulle deur op die aarde sou beland nie. O Heer en allerbeste, liefdevolle Vader, dit is vir my `n geheel en al onbegryplike aanblik! Tensy daar ook in U boonste hemele volmaakte verwekkinge sou plaasvind; so nie, dan is dit vir my alles volkome onbegryplik!

[2.2.9] Die Heer sê: Ja My liewe seun, jy sal in My huis nog baie verskynsels teëkom wat vir jou nog baie onbegrypliker sal voorkom as hierdie. Daar is egter allermins so iets soos suiwer verskyningsvorme, maar dit berus op die mees volkome en allersuiwerste waarheid!

[2.2.10] Hier is geen sprake van gesigsbedrog en ewemin van skynvertonings nie, maar alles wat jy hier sien is volkome reëel, duidelik en waar. In die ryk van die liefde is alles geheel en al sonder bedrog en so strak moontlik verenig. Daarom is hierdie geeste dan ook, net soos jy, nou volkome egte wesens en almal My liewe kinders!

[2.2.11] As jy die aantal van hierdie kinders al net oor die hele aarde verdeel, dan sou jy met jou berekening weliswaar wel gelyk hê, want hier is nie soveel van My kinders van die aarde nie en hulle wat daarvandaan kom is uitsluitlik bewoners van My heilige stad.

[2.2.12] Wanneer jy egter ooit op aarde `n helder nag na die sterrehemel gekyk het, sal jy jou van die aanwesigheid van die tallose hoeveelhede sterre kon oortuig het. Dink jy dalk dat hierdie sterre slegs skitterende punte aan die onmeetlike hemel sou wees? Sien, dit is ook tallose wêrelde, waarop oral gelyksoortige mense woon wat My oral as die Heer van die hemel en hulle wêreld erken.

[2.2.13] Maar die kinders van die aarde is die naaste aan My, omdat Ek hulle daar wesenlik persoonlik in die vlees tot My eerste kinders gemaak het. Hulle is daarom hier - by My - diegene wat die twaalf stamme van Israel rig, dat in hierdie allerhoogste, hemels pragtige en geestelik allerdiepste betekenis soveel wil sê as:

[2.2.14] Aan hulle, My kinders, is dit deur My gegee om die oneindigheid met al sy tallose skeppinge saam met My te beheers, te deurgrond en te oordeel, waarby die kinders van die ander hemelliggame hulle netso ten dienste staan soos die ledemate van `n liggaam steeds gereedstaan om aan die wil van die gees te gehoorsaam. Daarom vorm hierdie geeste met een van My kinders in hulle grootskaalse daadwerklike liefde as`t ware één mens wat voorsien is van alle noodsaaklike ledemate, waaraan sy wil behoefte het.

[2.2.15] Daarom is `n kind van die aarde wat in My gees wandel, een volmaakte wil met tallose ander geeste uit die sterre, wat ook elkeen `n eie wil het waarmee hulle na eie vrye, salige genoegdoening kan doen wat hulle maar wil. Tog gaan in gevalle van liefdeswerk die wil van My hoofkinders by hulle almal in en uit, en dan is hulle met miljarde tegelyk soos één mens, wie se werkende geesteswil van een van My kinders is! Dit begryp jy weliswaar nog nie geheel en al nie; kou egter op die oomblik nie te swaar daaraan nie, want in My ewige woonplek is nog baie hoërskole, waarin jy nog baie nuwe dinge sal leer ken.

[2.2.16] Neem egter vir die oomblik genoegdoening met My liefdevolle antwoord op jou vrae en gaan nou saam met My, jou vrou en jou broeder My huisie binne, wat ons nou net bereik het. Daar sal jy jou vereers in My ryk en aan My tafel voed en die ewige ware brood en die mees lewende water geniet. Gaan dus nou saam met My die woning binne.

[2.2.17] Sien, almal gaan nou na binne en die prior se oë rek groot wanneer hy `n heerlike eenvoud in die huisie aantref, voorsien van baie eenvoudige alledaagse huisraad. En die Heer vra hom: Wel nou, My geliefde seun, hoe geval My huishouding jou? Die prior sê: O Heer, liefdevolle, heilige Vader, dit geval my buitengewoon goed, want dit lyk werklik asof mens hom op aarde in `n helder, vredige plattelandse huisie bevind. Dit kom my slegs buitengewoon wonderbaarlik voor dat U, o allerbeste, heilige Vader, aan wie tog alle hemelse en wêreldse heerlikhede bekend is, met so `n eenvoudige behuising genoegdoening neem. Voorwaar, dit maak U nog onuitspreeklik beminliker en heiliger as wat die mees volkome gees hom ook maar enigsins sou kan voorstel.

[2.2.18] Die Heer sê: Ja, kyk net na My geliefde seun, by My heet dit dan tog ook en seker met reg: Sapienti pauca sufficient!* - Die prior maak van suiwer liefde `n buiging en spreek diep geroer: O allerbeste, liefdevolle en heilige Vader, nie Sapienti, maar quam maxime aeterne Sapientissimo!** - En dit is, o Heer en My allerliefste Vader, daar seker nie pauca, maar ook quam maxime immense multa!*** Want hierdie eenvoudige en geringe dinge op sigself is sekerlik in wese van so `n buitengewone en wonderbaarlike betekenis, dat ek werklik vir ewig nouliks ook maar die geringste deel daarvan sal kan bevat.

[2.2.19] Die Heer sê: My liewe seun, kom maar weer orent, dan sal daar na die nuttiging van die maaltyd aan My tafel, baie spoedig duidelik word hoeveel van die weinige jy dadelik sal kan begryp. Maak jou egter van die maaltyd geen al te groot voorstelling nie, want hier sal jy in die letterlike betekenis van die woord merk dat 'kort hare vinnig geborsel is'. Van die sogenaamde hemelse swelgpartye is hier geen sprake nie; mens eet hier baie eenvoudig en leef so te sê op water en brood. Jy sal egter spoedig ontdek dat My kinders, ondanks hierdie eenvoudige kos, buitengewoon goed lyk. Gaan daarom nou aan tafel, want dit is al voorsien van water en brood, en eet en drink soos wat jy My sal sien eet en drink.

Desktop Kommentaar