Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

Elke mens dra `n ander saadkorrel vir die ontwikkeling van die geestelike wêreld in homself

[2.124.1] Wanneer julle die evangelie hieroor naslaan, sal julle sonder moeite vind met watter algemene beelde Ek die hemelryk Self voorgestel het. Onder die gelykenisse vind julle die een van die mosterdsaadjie. Hierdie gelykenis is nou juis die een, wat hier die meeste geskik is. Klein is die saadkorreltjie; en wie sien die boomagtige groot plant daarin? Tog dra die mosterdsaadjie `n hele oneindigheid synsgelykes in homself. Tallose volkome gelyke mosterdsaadjies kan uit die een voortkom. Saai mens egter tallose mosterdsaadjies in die aarde, dan sal mens daaruit weliswaar dieselfde suiwer plante kry, maar van `n sekere simmetrie van die vorme is daar geen sprake nie, want daar sal nie een stam soos die ander lyk nie; net so min sal julle aan een en dieselfde boom twee volkome identiese simmetriese blare aantref.

[2.124.2] Wie die voorbeeld vanuit dié gesigspunt opneem, sal tog sekerlik die gevolgtrekking daaruit trek dat aan die simmetriese vorm, wat die mens `n blywende of konstante sou kan noem, niks geleë is nie. Want of `n blaar op die een of die ander plekkie van die stam, tak of uitgroeisel groei, of dit ietwat groter of kleiner is of die stam self hoër opgroei of laer bly, meer of minder takke en latte uitskiet en altyd anders gestruktureerd is, dit maak nie saak nie, as die bestanddele van die plant en die bruikbaarheid daarvan maar een en dieselfde bly.

[2.124.3] Kyk, dit is in wese niks anders as wat Ek julle sê nie: Aan die vorm of die verskyningswyse van die geestelike wêreld is niks op sigself geleë nie, as aan al hierdie eindelose verskillende vorme en verskynings, maar een en dieselfde waarheid en een en dieselfde doel ten grondslag lê.

[2.124.4] En so dra elke mens dan `n ander saadkorrel vir die ontwikkeling van die geestelike wêreld in homself, wat in hom opkom en ten slotte uitgroei tot `n boom wat die vorm van sy innerlike wêreld is.

[2.124.5] Wanneer julle verskillende saadkorrels in die aarde strooi, en wel in presies dieselfde aarde, dink julle dalk dat daaruit presies dieselfde gewasse tevoorskyn sal kom, of selfs dat daar uit een en dieselfde soort saadkorrel `n volkome gelyke gewas sal opgroei? O volstrek nie, oral iets anders en by gelyksoortige sade ten minste `n ander uiterlike vorm.

[2.124.6] Nietemin bly die grondstof altyd dieselfde; julle kan alle materie skeikundig ontleed soveel as wat julle maar wil of kan, en tog sal julle by die uiteindelike ontleding slegs op twee oergrondstowwe uitkom, naamlik op die welbekende baie vlugtige koolstof en op die saambindende suurstof.

[2.124.7] Kyk, dit is weer gelyk aan die grondwaarheid en aan die hoofdoel van alle verskyningsvorme in die ryk van die geeste.

[2.124.8] Daar is oral slegs één God, één Vader, één Liefde, één Wysheid en daaruit kom sowel die oneindige as die ewige voort!

[2.124.9] Beskou die wolke wat daagliks bokant julle aardbodem in die lug verbytrek. Het julle al ooit net `n onveranderlike vorm daarby ontdek? Sal julle in die aand dieselfde sien as in die oggend of die volgende dag of in `n volgende jaar?

[2.124.10] In eindelose verskeidenheid verander die kontoere van die wolke; nooit sien julle een in presies dieselfde vorm weer terug nie. Maar bring dit julle lewe in die war? Sekerlik nie, want `n wolk mag in watter vorm dan ook in die lug verbytrek, sy bly daarom tog maar één wolk en slegs één waarheid, en haar doel is om reën te gee en wat ookal, op een en dieselfde wyse, wanneer alle voorwaardes, wat vir die ontstaan van reën noodsaaklik is, keurig aanwesig is.

[2.124.11] En so is hier weer niks geleë aan die vorm nie, maar alles enkel en alleen aan die wesenlike en aan die doel.

[2.124.12] Trouens, wat die skynbare, steeds wisselende vorm betref, dit is daar slegs om die gees, wat sy vreugde daaraan beleef, te stimuleer. Want onder `n ewige, volkome gelykvormigheid sou alles in `n ewige slaap weggesink het.

[2.124.13] Die mens moet slegs sy heil en saligheid nie in die vorm nie, maar in die realiteit, in die werklikheid soek. Vir die ewige, steeds opnuut bekorende vormrykdom het Ek al vanaf die ewighede gesorg, en ook daarvoor geld die basisteks uit die evangelie:

[2.124.14] "Soek bo alles die ryk van God en sy geregtigheid, en al die ander sal daarby aan julle geskenk word".

[2.124.15] Vra daarom nie hierdie of daardie nie; hoe lyk die hemel en hoe die geesteswêreld? Dit is vergeefse moeite! Trag egter om elke woord van My deur die werke van die liefde in jouself lewend te maak; dan het jy al die hemel en alles wat aan die geesteswêreld behoort, lewend in jouself.

[2.124.16] Want niemand sal ooit in `n hemel kom, wat sal lyk soos wat hy, op watter manier dan ook beskrywe, met sy voorstellingsvermoë in sy geheue opgeneem het. Elkeen dra sy eie hemel en sy eie geesteswêreld in homself, waarvan die vorm hom altyd sal rig volgens die aard van die liefde wat in hom is en na die werke wat daaruit voortgekom het.

[2.124.17] Iemand wil graag die vorm van `n appelboom duidelik herkenbaar aan `n vreemdeling beskrywe en sê vir hom: Kyk, daar voor ons staan `n appelboom. Onthou goed hoe hoog en dik die stam is, waar sy takke en uitloopsels hulle presies bevind en hoe die blare en die bas lyk, en dan sal jy elke appelboom wat volkome aan hierdie vorm beantwoord, herken. So ge-onderrig, teken die vreemdeling die vorm van die boom noukeurig na en gaan daarmee na `n groot boord wat byna heeltemal uit appelbome bestaan. Hy vergelyk alle bome met sy getekende voorbeeld, maar vind nie één daar wat volkome so lyk nie, en daarom staan daar volgens hom in hierdie boord geen appelboom nie.

[2.124.18] Daarom moet niemand hom ook vaslê op een of ander verskyningsvorm nie, want dan kom hy altyd bedroë daaruit. As hy dit egter heeltemal vanuit die gees van die waarheid aanskou, dan sal hy onder elke vorm die waarheid en die weg en die lewe vind!

[2.124.19] Hierdie saak is van die grootste belang. Daarom moet elkeen alles wat hier gegee is, goed oordink en noukeurig aan homself toets, sodat hy vervolgens die ware grondsteen van die wysheid mag vind. So is dit en sal dit ewig wees; waar en goed. Om dit alles van naderby te belig, volg daar nog meer voorbeelde hierna!

Desktop Kommentaar