Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

[2.1.4] Die prior (kloosterhoof) kyk `n bietjie rond en sien aan die linkeroewer van die rivier `n groot stad lê. Hy sê: O liefdevolste Vader, daar aan die rivier, wat seker vol lewende water is, sal wel U hemelse Jerusalem lê waaroor geskrywe staan dat dit die stad van die lewende God is. Daarom sit ek seker nie die pot te ver mis as ek sê dat U in hierdie heilige stad woon, want so iets onsegbaar verhewe soos hierdie heilige stad hier, kan `n geskape engelegees hom tog in alle ewigheid nie voorstel nie.

[2.1.5] Die Heer sê: My liewe seun, vriend en broeder, jy het nie so verkeerd geraai nie, want in sodanige stede, wie se aantal langs hierdie eindelose lang rivier oneindig is, bly Ek by bepaalde geleenthede graag oor. Maar heeltemal tuis is Ek geensins daar nie, behalwe in die son wat jy sien, waardeur Ek wel in alle hemele op dieselfde wyse tuis is. Daarom mag jy verder raai.

[2.1.6] Die prior sê: Dan sal U, o Heer en liefdevolste Vader, miskien wel in een van die groot wonderpaleise tuis wees en wel sigbaar soos nou, want U het immers self gespreek oor `n groot huis in die hemele waarin baie woninge sou wees. Omdat daar in so 'n groot paleis, wat nouliks te oorsien is, tog seker baie woninge sal wees, is U dan miskien tuis in die allergrootste van die eindelose baie?

[2.1.7] Die Heer sê: Ek sê jou, My liewe seun, broeder en vriend, ook nou is jy baie naby, want waarlik, net soos in die stede, kom Ek ook by belangrike geleenthede persoonlik in hierdie groot woonhuise, en verskyn wesenlik. Maar vir tydsduur en uitsonderlikheid is Ek ook in hierdie groot woonhuise nie anders aanwesig as in die stede nie; daarom mag jy nogeens daaroor nadink.

[2.1.8] Die prior sê: O, heilige, liefdevolste Vader, nou gaan daar vir my `n lig op! Aangesien U op aarde veral so liefdevol en vertroulik na die kleinste en onbelangrike gegaan het, sal U miskien ook hier U woning dáár hê waar op die verste heuwels die klein, lieflike huisies ons so gasvry toelag. Omdat hierdie huisies egter almal volkome na mekaar lyk, is dit vir my moeilik om uit die baie huisies presies die korrekte aan te wys en om die eerste en die beste te neem, lyk my teenoor U, o Heer, ietwat onagsaam en onwaardig.

[2.1.9] Die Heer sê: My seun, broeder en vriend, hier is dit raak met jou "miskien" want kyk, hier kan jy kies wat jy maar wil, dit is altyd die goeie. Weet jy trouens dat jy My op aarde miskien eens gedra het? Kan jy My nou ook sê hoe, wanneer en waar?

[2.1.10] Die prior sê: O Heer, ek kan my die "miskien" herinner en wag nou met groot en salige verlange na die onthulling daarvan. Wat betref die dra deur my van U allerheiligste wese op aarde, daaronder kan seker niks anders verstaan word as dat ek U in die vorm van brood en wyn in my hande gedra het nie. Dit lyk my wat die drie aanduidings, die hoe, wanneer en waar, duidelik sigbaar is. Anders sou ek oor die dra van U tog niks waardevol na vore kan bring nie.

[2.1.11] Die Heer sê: My liewe seun, broeder en vriend, kyk na die stad en na die rivier; die verbeelde brood en wyn; soos Ek in die stad tuis is in wat My oerwesenlik kenmerk, so is Ek ook in jou brood en wyn. Kyk, daarom is daar nog een probleempie met die dra en het jy die betekenis van die vraag nie begryp nie, want op hierdie manier het jy My nie gedra nie en daarom moet jy die hoe, wanneer en waar êrens anders soek.

[2.1.12] Die prior sê: O Heer, liefdevolste, heilige Vader, as ek my daarin vergis het, weet ek werklik niks anders te bedink as dat U in U heilige gees, wanneer ek in U Naam tot die volk gepreek het en U woord verkondig het, in my mond en op my tong aanwesig was; want volgens die getuienis van Johannes is U woord tog seker U allersuiwerste woning!

[2.1.13] Die Heer sê: My liewe seun, broeder en vriend, kyk net na die pragtige paleise. Hulle is vol helderheid, vol lig en vol lewe uit My. Maar soos wat Ek oerwesenlik eintlik ook in hierdie paleise tuis is, ook so het jy My gedra in jou mond en op jou tong. Jy het egter gesien dat Ek daar nie eg wesenlik tuis is nie; daarom is daar ook in die geval `n probleem wat jou dra betref. Daaruit blyk dit dat jy My nóg op die hand, nóg op die arm gedra het; nie as vriend en opvolger van My eerste leerlinge nie, nóg as broeder, as getuie en verkondiger van My woord. Daarom mag jy jou ook hier oor die hoe, wanneer en waar nog eens duidelik uitspreek.

[2.1.14] Die prior sê: O Heer, liefdevolle heilige Vader, ek het `n voorgevoel van iets groters, maar durf dit nouliks uit te spreek. Was dit miskien toe ek U as seuntjie in my hart nog so innig liefgehad het, dat ek dikwels uit liefde in trane wou wegsmelt of miskien wel in my amp, wanneer ek ook heimlik so 'n sterk liefde vir U gevoel het dat ek dikwels van suiwer verrukking as`t ware siek geword het, of was dit miskien in die oomblikke waarin ek by die sien van my arm broeders tot trane toe beweeg was en waarby ek hulle met U genade ook soveel moontlik die helpende hand gebied het? Het ek U in so 'n situasie miskien eens gedra? Maar dan sou ek tog nog nie weet watter keer dit was, dat U o Heilige Vader, U so diep verneder het dat U U deur my sou laat dra het nie.

[2.1.15] Die Heer sê: My liewe seun, broeder en vriend, kyk net na die klein huisies in die môre. Soos dit daar is, so is dit ook hier; wat jy ook neem, jy het die korrekte gegryp; en kyk, hier het die hoe, wanneer en waar één geword. Hoe dra jy My? Kyk, altyd in jou liefde vir My! Wanneer dra jy My? Altyd in jou liefde vir My! Waar dra jy My? Altyd in jou liefde vir My! Jy het My dus altyd in jou hart gedra.

[2.1.16] Maar wie My in sy hart dra, die dra My ook op sy hand en sy arm. Maar soos daar in een hand en in een arm geen krag lê om te dra, as dit nie vooraf uit die hart kom nie, so kan ook niemand My dra op sy hand en sy arm wanneer hy My nie vooraf dra in sy hart nie. So is dan die "miskien" vir jou ontsluier, want dit was vir jou onseker hoe, wanneer en waar jy My gedra het.

[2.1.17] Maar nou het die hoe, wanneer en waar tot één versmelt en uit die vriend en broeder het `n seun opgegroei. Daarom sê Ek vir jou dan ook nie meer: My vriend, broeder en seun nie, maar slegs: My geliefde en liefdevolle seun, volg My nou verder na die wonings op die berg, daar sal Ons onder één dak saam woon en werk vir ewig! Amen!

Desktop Kommentaar