Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

Die natuurlike en die geestelike son, verskil van hulle verskyningsvorm

[1.4.1] Julle vra en sê: “Ja, dit is wel goed om die fakkel met die liefdesvonkie aan te steek, maar van waar gaan haal ons dit?” “Daarop kan Ek julle werklik niks anders sê, as dat ons dit juis daar gaan haal, waar dit eintlik te haal is. Dit sou tog belaglik wees as ons met die hele, baie vurige son nie in staat sou wees om die pit van die fakkel aan te steek nie?! Want onder die liefdesvonkie verstaan ek nou juis die son, wat ons nou in heel haar lengte, dikte en breedte in ons hande hou. En as julle in staat is om met behulp van `n vergrootglas, wat die grootte van `n muntstuk is, `n stuk swam met die sonstrale aan te steek, terwyl hierdie son in natuurlike opsig tog meer as so `n 22 miljoen myl ver weg staan, dan sal die nou heel nabystaande son sekerlik ook in staat wees om die pit van ons fakkel aan te steek.

[1.4.2] En so sal ons dan hierdie baie maklike poging waag om die pit van ons fakkel met die vuur van die son in kontak te bring. Kyk tog net hoe maklik dit is!

[1.4.3] Die fakkel brand nou en kyk, voor die gees baai onafsienbare landstreke in die lig van `n ewige môrerooi, wat van hierdie fakkel afkomstig is.

[1.4.4] Ekself is die fakkel en gee `n regte hoeveelheid lig; wie in dié lig ondersoek, sien oral waarheid en geen bedrog sal sy oog ontmoet nie!

[1.4.5] Wat `n wonder, sê julle; in die natuurlike son het ons reuse gesien en `n groot verskeidenheid van alle dinge. Hier in die ligsfeer is alles gelyk. Ons sien nie `n ding bo die ander uitsteek nie. Dit is één lig, dit is één grootte en die liefde uit hom kom oral in onuitspreeklike lieftalligheid. Ons sien net suiwer vlak grond; waar is die natuurlike berge van die son?

[1.4.6] Eindeloos tevrede gees-engelwesens wandel oor die ligvelde en maak geen onderskeid tussen land en water nie. Sonder moeite verhef hulle hulleself in die ligte eter en swewe dronk van geluk daarin rond, terwyl hulle saligheid op saligheid uitstraal. Ons sien slegs baie lieflike boompies; waar is die reusagtige bome van die natuurlike bodem? Ook sien ons in al die lieflike gewasse `n wonderbaarlike ooreenkoms. Elke gewas versprei `n onuitspreeklike geluksgevoel, wat elke gees, wat in die omgewing kom, ten seerste verruk. Ja, uit elke boompie, uit elke teer grassprietjie stroom `n ander soort geluksgevoel, en tog sien ons by die boompies, by alle ander gewasse, netsoos by die gras, slegs een vorm en `n volmaakte eenheid tot in die ontelbare.

[1.4.7] Ons wandel deur eindelose landskappe. Ons ontmoet tallose skares van salige engelgeeste, maar ons ontdek nêrens `n woning nie. Niemand sê aan ons: Die stuk grond is van my en dit is van my buurman nie, maar as buitengewoon vrolike reisigers op `n landweg trek hulle oral jubelend en lofsingend rond. Waarheen ons onsself ook maar wend, ons sien niks anders as lewe en nogeens lewe stroom nie. Glansende gestaltes ontmoet mekaar en van alle kante klink `n groot vreugderoep!

[1.4.8] Maar ons staan soos volkome leke daarby en ons het geen raad nie. Waar is hierdie glansende wêreld wat ons nou aanskou? Is dit die geestelike son? Dit vra julle met verbaasde blikke en verbaasde harte.

[1.4.9] Maar Ek het julle tog gesê dat die geestelike son, op sigself geneem, volkome lyk soos die wyserplaat van `n uurwerk, waarop die hele doel van die kunstige meganisme tot uitdrukking kom. Julle sê verbouereerd: Is dit alles van die geestelike son? Dit is wel baie wonderbaarlik, verhewe en mooi, ook buitengewoon lewendig, maar daarby tog baie eenvoudig. Op die eintlike son het ons so `n onnoemlike verskeidenheid in grootte, ja, soveel wonderbaarlik gesien, maar hier kom dit vir ons voor asof hierdie hele eindelose vlakte net so `n groot weg is vir geeste, waarop trouens geen stof te ontdek is nie. Maar eerlik gesê, wat die eenvormigheid, en die in sekere sin, ewig lykende monotonie (eentonigheid) van hierdie buitengewoon glansende wêreld betref, het ons tog as gevolg van die geweldige fenomene (verskynsels) wat ons eers op die natuurlike son gesien het, iets heel besonders verwag.

[1.4.10] Julle het immers die uurwerk as voorbeeld. As julle in die inmekaar grypende ratwerk sou ronddwaal, wat sou julle dan dink van die effekte wat die verbasingwekkende meganisme teweegbring, as julle nog nooit `n wyserplaat van `n uurwerk sou gesien het nie? Sou julle, as julle die ratwerk bekyk, dan nie sê: As die middel al so wonderbaarlik lyk, van welke onbeskryflike, wonderbaarlike aard moet die doel dan wel wees! Julle sal aan die boumeester van die uurwerk sê: Heer, onnoemlik kunstig en buitengewoon goedberekend is die ratwerk. Hoe groot en buitengewoon kunstig moet die doel van dié wonderbaarlike meganisme dan nie wees nie? Laat ons daarom tog ook net daar gaan kyk, waar die sekerlik groot doel van dié wonderbaarlike meganisme tot uitdrukking kom. Dan verlaat die horlosiemaker die binnewerk en toon julle nou die buitekant van die wyserplaat!

[1.4.11] Julle maak alweer groot en verbaasde oë en sê: Wat?! Is dit alles waarvoor die inwendige kunswerk gemaak is? Niks anders as `n witgelakte ronde plaat met twaalf syfers en `n paar spits wysers, wat met `n onmerkbare beweging voortdurend op dieselfde manier langs die twaalf syfers gaan. Nee, dan het ons iets heel anders vir onsself voorgestel! Ek sê: Miskien `n kunstige marionette teater of miskien een of ander fantastiese kinderspel?

[1.4.12] O liewe mense, dan is julle voorstellings van die hele geestelike wêreld nog baie power. Het julle dan nie uit die gegewe voorbeelde begryp, dat al die uiterlike, in al sy verdeeldheid, hom ten slotte in die eenwording moet uiter nie? Julle het dit gesien by die voorbeeld van die boom, by die poleer van `n edelmetaal stafie, by die vervaardiging van glas, by die bou van `n huis en ten slotte oortuigend by die bekyk van `n uurwerk.

Desktop Kommentaar