Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

[1.3.4] Laat ons egter weer teruggaan na die inwendige van die uurwerk. Daar sal ons `n vaste bo- en onderplaat ontdek en vaste suiltjies, (pilaartjies) waarmee die bo- en onderplaat aan mekaar bevestig is. So sal ons ook `n groot aantal vaste pennetjies, hakies en reëlingskroefies ontdek. Lê daar in hierdie onbeweeglike dinge van die werktuig ook al iets van die uiteindelike bestemming, wat op die wyserplaat tot uitdrukking kom? Ja, ook aan hierdie onbeweeglike dele lê die uiteindelike bestemming stilswyend ten grondslag.

[1.3.5] Wanneer ons egter verder kyk in die uurwerk, dan sien ons die ratjies op verskillende maniere beweeg; allereers `n lewendige slingertjie, dan die nabystaande ratjie. Die slingertjie is nog erg ver van die eindbestemming af, want dit kan nog geen volledige sirkel beskryf nie, maar word steeds heen en weer gedryf en hoewel dit die snelste beweging maak in die hele meganisme, kom dit tog nie verder nie. Die volgende ratjie, wat klaarblyklik deur die drukdoende slingertjie beheer word, bespied die vrolike spronge van die slingertjie en glip by elke sprong `n treetjie verder in sy sirkelgang en maak daardeur wel `n taamlik vinnige, maar tog voortdurende sirkelbeweging. Mens merk by hierdie beweging nog wel die spronge van die slingertjie op, maar dit doen geen afbreuk aan die geheel nie. Die sirkelvormige beweging is tog bereik. Die volgende ratjie beweeg hom al veel reëlmatiger, beskryf `n rustige sirkel en is al veel nader aan die eindbestemming. Die hierop volgende rat beweeg hom nog langsamer, reëlmatiger en rustiger en is daardeur nog veel nader aan die hoofdoel, ja, dit hou al heeltemal verband daarmee. Met die laaste rat is die einddoel bereik; dit gee al blyke daarvan, meganies gesien, maar is nog nie as sodanig self aan die meganika te herken nie.

Desktop Kommentaar