Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

[1.3.4] Laat ons egter weer teruggaan na die inwendige van die uurwerk. Daar sal ons `n vaste bo- en onderplaat ontdek en vaste suiltjies, (pilaartjies) waarmee die bo- en onderplaat aan mekaar bevestig is. So sal ons ook `n groot aantal vaste pennetjies, hakies en reëlingskroefies ontdek. Lê daar in hierdie onbeweeglike dinge van die werktuig ook al iets van die uiteindelike bestemming, wat op die wyserplaat tot uitdrukking kom? Ja, ook aan hierdie onbeweeglike dele lê die uiteindelike bestemming stilswyend ten grondslag.

[1.3.5] Wanneer ons egter verder kyk in die uurwerk, dan sien ons die ratjies op verskillende maniere beweeg; allereers `n lewendige slingertjie, dan die nabystaande ratjie. Die slingertjie is nog erg ver van die eindbestemming af, want dit kan nog geen volledige sirkel beskryf nie, maar word steeds heen en weer gedryf en hoewel dit die snelste beweging maak in die hele meganisme, kom dit tog nie verder nie. Die volgende ratjie, wat klaarblyklik deur die drukdoende slingertjie beheer word, bespied die vrolike spronge van die slingertjie en glip by elke sprong `n treetjie verder in sy sirkelgang en maak daardeur wel `n taamlik vinnige, maar tog voortdurende sirkelbeweging. Mens merk by hierdie beweging nog wel die spronge van die slingertjie op, maar dit doen geen afbreuk aan die geheel nie. Die sirkelvormige beweging is tog bereik. Die volgende ratjie beweeg hom al veel reëlmatiger, beskryf `n rustige sirkel en is al veel nader aan die eindbestemming. Die hierop volgende rat beweeg hom nog langsamer, reëlmatiger en rustiger en is daardeur nog veel nader aan die hoofdoel, ja, dit hou al heeltemal verband daarmee. Met die laaste rat is die einddoel bereik; dit gee al blyke daarvan, meganies gesien, maar is nog nie as sodanig self aan die meganika te herken nie.

[1.3.6] Maar juis hier, waar die eindbestemming hom as`t ware in die verborgene, in die materiële meganisme kenbaar maak, kom uit die sentrum van die meganika `n as deur die middel van die wyserplaat na buite. Aan hierdie spil is die wysers bevestig, wat in groot eenvoud ten slotte die uiteindelike bestemming van die hele kunstig saamgestelde meganisme tot uitdrukking bring.

[1.3.7] Sien julle nie baie duidelik in, in watter rigting dit alles gaan nie? Al is dit hoe veelsoortig saamgestel, dit toon in sigself die uiteindelike eenwording as hoofdoel; en daar mag geen enkele onaansienlike pennetjie ontbreek nie, as die einddoel volkome bereik wil word.

[1.3.8] Nou gaan ons weer terug na ons son. Beskou dié groot, goue uurwerk as meter van tye, wat vir julle ondenkbaar lank is. Ons het die veelsoortige meganisme van dié reusagtige uurwerk gesien. Hier sien ons dat My liefde ook hier die almagtige, lewende dryfveer is, wat tussen die twee groot plate, die ewigheid en oneindigheid heet, dié groot werk in beweging stel. Ons het die tallose tandwieletjies, alle pennetjies en suiltjies gesien. Ons ken nou die meganiese werk. Uit die veelsoortigheid van sy dele is die uiteindelike hoofbestemming netso moeilik op te maak, as wanneer iemand, sonder om die wyserplaat te raadpleeg, die in ure verdeelde tyd noukeurig sou wil bepaal, slegs deur te kyk na die verskillende bewegings van die ratwerk. Dit is waar en niks kan daarteen ingebring word nie, sal menigeen sê, maar die vraag is: Hoe kom ons dan by die groot meganisme op die sentrale as wat hom uit die materiële verhef en uitstyg bo die groot wyserplaat van die uiteindelike enige groot bestemming? Ek sê vir julle: Maak julle nie besorg daaroor nie, want niks is makliker as juis dit nie, as `n mens `n werk maar eers so grondig ondersoek het, dat `n mens alle onderdele daarvan deur en deur ken. Aangesien ons die uurwerk nou eenmaal as `n goeie voorbeeld gekies het, sal ons onsself ook, aan die hand van dié voorbeeld, na die groot oppervlakte verhef.

[1.3.9] Wie ooit `n uurwerk bekyk het, sal ontdek dat drie dinge daarin prakties dieselfde beweging maak. Die eerste is die kapsulewiel, waarin die dryfveer vasgeheg is, die tweede is die hoofdryfwiel wat deur middel van die ketting met die veerkapsulewiel verbind is en die derde is die sentrale spilwiel wat die wysers op die wyserplaat in beweging stel.

[1.3.10] As ons op die groot wyserplaat wil uitkom, dan moet ons weet waarmee hierdie drie wiele ooreenkom. Waarmee kom die veerkapsulewiel dan ooreen? Dit is voor die hand liggend dat dit ooreenstem met die liefde, dat die veer die liefde voorstel, deurdat sy opgesluit lê en in `n sekere sin van binne-uit die lewe en die hele meganisme tot stand bring. Dus lê die hoofbestemming van die meganisme, reeds geheel en al in die liefde beslote.

[1.3.11] Waarmee kom dan die tweede wiel ooreen, wat dieselfde beweging maak en wat deur middel van `n ketting met die veerwiel verbind is? Dié wiel kom ooreen met die wysheid, wat haar lewe uit die liefde ontvang en dus ook in die nouste verbinding daarmee staan. Waarmee kom die sentrale hoofspilwiel ooreen? Met die ewige ordening, wat uit die vooraf genoemde twee wiele duidelik na vore kom en waardeur die hele meganisme in al sy dele so ingerig word, dat alles hulle ten slotte moet skik vir die bereiking van die hoofdoel, wat vanuit die liefde en die wysheid juis in hierdie ordening tot uiting kom. Kyk, nou het ons reeds die geheel. Die spilwiel is gevind en heet ordening. Langs hierdie spil sal ons dus ook omhoog klim en die groot, uiteindelike bestemming van die dinge aanskou, soos dit tot uiting kom, presies in ooreenstemming met die ewige liefde, wysheid en die uit beide voortkomende orde.

[1.3.12] Nou het ons ons doel volkome met hierdie voorbeeld bereik. Ons bevind ons daarom ook al op die geestelike son, sonder dat julle nog kan vermoed of insien hoe en op welke manier. Maar Ek sê vir julle: Gaan maar net vlugtig die gegewe voorbeelde na en julle sal, om te begin by die bewerking van die bome, tot en met die uurwerk, maklik ontdek dat ons juis met hierdie voorbeelde as`t ware ‘incognito’ (in verskuilde persoonlikheid) heel vrolik rondloop op die geestelike son, terwyl julle nog steeds wag om daarop te kom. Ons is al op die wyserplaat en hoef dus nie meer langs die spil omhoog te klim nie.”

[1.3.13] Julle vra: “Hoe dan?” Dit klink alles soos `n raaisel. Maar Ek sê: “Waar die betekenis van die dinge, al is dit ook meer in die algemeen, as in die besonder, getoon word, waar aangetoon word hoe alles uiteindelik neerkom op die eenwording, waar selfs hierdie eenwording deur allerlei aanskoulike voorbeelde uitgebeeld word, daar skyn, nie meer die natuurlike- nie, maar die geestelike son. Wat nou gaan volg, sal alles in `n helder lig plaas en dan sal ons daaruit baie duidelik kan aflei dat ons onsself reeds op die geestelike son bevind.

[1.3.14] As iemand `n fakkel in sy hand hou, sal hy tog ook wel weet waarvoor die fakkel gemaak is. As hy nog in die duister wandel, wat is dan makliker as om homself van `n fakkel te bedien? Mens hoef die fakkel maar net aan te steek en die duisternis sal bliksemsnel verdwyn. Ons het immers die fakkel in die hand. Die gegewe voorbeelde is die fakkel. Wat is daar nog verder nodig om hierdie fakkel met `n klein vonkie liefde aan te steek, sodat hy die groot, betekenisvolle wyserplaat van die geestelike son weldra helder sal verlig. Daarom sal ons vir die volgende geleentheid ook niks anders doen as om ons goeie fakkel met die scintilla amoris* aan te steek en by dié pragtige lig die groot betekenis van die dinge op die geestelike son beskou. En so laat ons dit vir vandag hierby. *(liefdesvonkie)

Desktop Kommentaar