Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

[1.3.11] Waarmee kom dan die tweede wiel ooreen, wat dieselfde beweging maak en wat deur middel van `n ketting met die veerwiel verbind is? Dié wiel kom ooreen met die wysheid, wat haar lewe uit die liefde ontvang en dus ook in die nouste verbinding daarmee staan. Waarmee kom die sentrale hoofspilwiel ooreen? Met die ewige ordening, wat uit die vooraf genoemde twee wiele duidelik na vore kom en waardeur die hele meganisme in al sy dele so ingerig word, dat alles hulle ten slotte moet skik vir die bereiking van die hoofdoel, wat vanuit die liefde en die wysheid juis in hierdie ordening tot uiting kom. Kyk, nou het ons reeds die geheel. Die spilwiel is gevind en heet ordening. Langs hierdie spil sal ons dus ook omhoog klim en die groot, uiteindelike bestemming van die dinge aanskou, soos dit tot uiting kom, presies in ooreenstemming met die ewige liefde, wysheid en die uit beide voortkomende orde.

[1.3.12] Nou het ons ons doel volkome met hierdie voorbeeld bereik. Ons bevind ons daarom ook al op die geestelike son, sonder dat julle nog kan vermoed of insien hoe en op welke manier. Maar Ek sê vir julle: Gaan maar net vlugtig die gegewe voorbeelde na en julle sal, om te begin by die bewerking van die bome, tot en met die uurwerk, maklik ontdek dat ons juis met hierdie voorbeelde as`t ware ‘incognito’ (in verskuilde persoonlikheid) heel vrolik rondloop op die geestelike son, terwyl julle nog steeds wag om daarop te kom. Ons is al op die wyserplaat en hoef dus nie meer langs die spil omhoog te klim nie.”

[1.3.13] Julle vra: “Hoe dan?” Dit klink alles soos `n raaisel. Maar Ek sê: “Waar die betekenis van die dinge, al is dit ook meer in die algemeen, as in die besonder, getoon word, waar aangetoon word hoe alles uiteindelik neerkom op die eenwording, waar selfs hierdie eenwording deur allerlei aanskoulike voorbeelde uitgebeeld word, daar skyn, nie meer die natuurlike- nie, maar die geestelike son. Wat nou gaan volg, sal alles in `n helder lig plaas en dan sal ons daaruit baie duidelik kan aflei dat ons onsself reeds op die geestelike son bevind.

[1.3.14] As iemand `n fakkel in sy hand hou, sal hy tog ook wel weet waarvoor die fakkel gemaak is. As hy nog in die duister wandel, wat is dan makliker as om homself van `n fakkel te bedien? Mens hoef die fakkel maar net aan te steek en die duisternis sal bliksemsnel verdwyn. Ons het immers die fakkel in die hand. Die gegewe voorbeelde is die fakkel. Wat is daar nog verder nodig om hierdie fakkel met `n klein vonkie liefde aan te steek, sodat hy die groot, betekenisvolle wyserplaat van die geestelike son weldra helder sal verlig. Daarom sal ons vir die volgende geleentheid ook niks anders doen as om ons goeie fakkel met die scintilla amoris* aan te steek en by dié pragtige lig die groot betekenis van die dinge op die geestelike son beskou. En so laat ons dit vir vandag hierby. *(liefdesvonkie)

Desktop Kommentaar