Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

[1.2.4] Nou het ons die ruwe materiaal in die omgewing alreeds gekultiveer. Daar kom die boumeester ook al en lê sy bouplan uit. Die grond word uitgegrawe, die messelaars en hulle handlangers is druk besig en ons sien hoe die ruwe materie onder die hande van die bouers die vorm aanneem van `n geordende gebou. Langsamerhand groei die statige huis bo die grond uit en bereik die voorafbepaalde hoogte. Nou spring die timmermans aan die werk en binne `n kort tydjie is die gebou volledig van dakbedekking voorsien. By hierdie geleentheid het ons vroeëre hope ru materiaal ook totaal verdwyn. Ons sien nog net `n deel van die sand en `n deel van die gebluste kalk, maar daar word nou begin met die sogenaamde pleisterwerk en die afwerking van die huis. Hiermee verdwyn ook nog die twee laastes van die materiaal. Kyk, die huis is nou heeltemal afgewerk, van buite, sowel as van binne. Nou kom daar nog `n aantal ambagsmanne vir die kleiner werk: `n Timmerman, `n slotmaker, dan nog `n verwer, `n oondbouer en nog iemand wat die vloere lê. Hierdie ambagsmanne is nog `n ruk besig en dan staan die huis daar en dwing as te ware eerbied af.

[1.2.5] As julle nou net julle gevoelens vergelyk, te begin by die sien van die ruwe materiaal, tot by die voltooiing van die statige gebou, dan sal julle tog sekerlik `n baie groot verskil daarin ontdek. Waardeur word die verskil egter teweeggebring? Ek sê vir julle: Deur niks anders as deur die doelmatige en goeie ordening en die eenword van die geskeide ruwe materie tot `n geheel. Toe julle aanvanklik tussen die hope ruwe materie rondgeloop het, was dit vir julle onbehaaglik in julle gemoed en julle gevoelens het chaoties deurmekaar gewoel. Toe julle gesien het dat die ruwe materie deur die vuur en deur die werktuie van die timmermans meer georden en bruikbaar gemaak was, het julle al behaagliker gevoel, want julle het nou reeds die moontlikheid gesien dat daar `n huis uit sulke geordende materie kan ontstaan. Maar nog steeds kon julle vir julleself geen volledige voorstelling van die huis maak nie.”

[1.2.6] Toe julle die boumeester die bouplan sien uitlê, voel julle in `n sekere sin al aangenaam verras, want julle kon toe al sê: "Haai, kyk net, dit word `n manjifieke gebou!" Maar toe julle dit gesien het, nadat dit, op die afwerking na, voltooi was, het julle na die voltooiing daarvan verlang. En toe die gebou heeltemal klaar was, bekyk julle dit met groot genoeë en toe julle in die mooi en sierlike vertrekke van die huis rondgelei was, was julle hoogs verbaas en gesê: Wie het gedink dat so-iets uit die voorheen nog heeltemal ruwe materie kon ontstaan?

Desktop Kommentaar