Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

Sodat julle hierdie dinge egter steeds duideliker sal begryp, sal Ek julle weer, deur enkele voorbeelde, `n helder insig verskaf. Neem net `n klein stafie edelmetaal. As julle dit in ruwe toestand bekyk, dan is dit donker en ru. As jy dit egter slyp en daarna mooi poleer, sal dit heel anders daaruit sien as voorheen en tog is dit nog steeds dieselfde stafie. Wat is dan wel die eintlike rede van die verfraaiing van dié stafie? Ek sê vir julle, baie eenvoudig. Deur die slyp en poleer is die dele aan die oppervlakte van die stafie digter op mekaar gedruk en in `n sekere sin met mekaar verbind. Daardeur word dit ook meer konkreet en onderling hegter samehangend en in sekere sin ook, om dit maar eers so te sê, volkome eensgesind. In die vroeëre ruwe toestand, wat nog `n losser eenheid was, staan die deeltjies as`t ware vyandig teenoor mekaar. Elke los deeltjie woeker vir homself met die voedende strale van die lig, neem soveel daarvan op as wat hy maar kan, en laat vir sy buurman niks oor nie. In die gepoleerde toestand, wat `n gelouterde of gesuiwerde genoem kan word, gryp hierdie deeltjies inmekaar. Deur dié inmekaargryp word die daarop vallende ligstrale gemenegoed, omdat geen enkele deeltjie dit nou nog vir homself wil hou nie, maar selfs die kleinste bietjie lig reeds met sy bure deel. Wat is die gevolg daarvan? Almal het nou lig in oorvloed, sodat hulle by verre na nie in staat is om die rykdom op te neem nie. Die oorvloed van die nou algemene stralerykdom straal dan as `n pragtige harmonieuse glans terug van die hele oppervlak van die gepoleerde goudstafie. – Die Geestelike Son, Boek 1, Hoofstuk 1, Paragraaf 16

Desktop Kommentaar