Help

jakob-lorber.cc

Die Geestelike Son

Die geestelike son, `n genadevonk van die Heer

[1.1.1] Voor ons onsself in die eintlike geestelike son kan begewe, moet ons eers weet waar hy is, hoe hy in verband staan met die natuurlike son en van watter aard hy is.

[1.1.2] Om so `n goed as moontlike begrip van die geheel te kry, moet eerstens opgemerk word dat die geestelike alleen dit is wat die mees innerlike, en tegelykertyd ook die alles deurdringende, en bygevolg die alleen werksame en bepalende is.

[1.1.3] Neem byvoorbeeld `n vrug. Wat is die mees innerlike daarin eintlik? Niks anders nie as die geestelike krag in die kiem nie. Wat is dan die vrug self, wat met al haar bestanddele daar is vir die beskerming en die behoud van die binneste kiem? Sy is in wese weer niks anders nie as die uiterlike orgaan wat deur die krag van die kiem deurdring is, wat in al sy dele weldadig inwerk op die aanwesige kiem.

[1.1.4] Dat die uiterlike vrug `n orgaan is wat deur die geestelike krag van die kiem bepaal word, blyk ook al hieruit dat nie net die vrug nie, maar die hele boom, of die hele plant uit die geestelike kiem tevoorskyn kom.

[1.1.5] Wat is derhalwe die geestelike? Die geestelike is vir eers die innerlike krag in die kiem, waarvan die bestaan van die hele boom met wortels, stam, takke, fyn takkies, blare, bloeisels en vrugte afhang. En wederom is dit die geestelike, wat al hierdie genoemde dele van die boom, asof vir homself, of vir eie welsyn deurdring.

[1.1.6] Die geestelike is bygevolg die mees innerlike, die deurdringende en dus ook die alomvoutende, want wat die deurdringende is, is ook die omvoutende.

[1.1.7] Dat dit korrek is, kan julle aan menige natuurverskynsels waarneem. Neem maar net `n klok. Op watter plek is die klank? Sou julle sê: Meer aan die buitekant, meer in die middel van die metaal of meer aan die binnekant? Dit is verkeerd! Die klank is die inwendige geestelike fluïdum (by plante vloeibare gasse of sappe) wat in die materiële hulsels opgesluit is.

[1.1.8] As daar nou teen die klok geslaan word, dan word die slag deur die inwendige fluïdum, wat `n baie elastiese en rekbare geestelike substraat is, waargeneem as iets wat sy rus verstoor. Daardeur gaan die hele geestelike fluïdum oor in `n strewe na vryheid, wat hom dan uiter deur `n aanhoudende galm. Word die uiterlike materie van die klok oorgeblaas met `n ander stof, wat nie met sulke maklike prikkelbare geestelike vermoë deurtrek is nie, dan word die vibrasies van die prikkelbare geestelike vermoëns, of beter gesê, hulle strewe na vryheid, spoedig gedemp. So `n klok sal dan baie gou ophou om te klink. Is die klok egter nie oorgeblaas nie, dan weergalm die geluid nog lank. As sy bowendien nog van buite omgewe word deur `n uiters gevoelige substansie, byvoorbeeld deur suiwer elektries gelaaide lug, dan word die klank daardeur nog versterk en brei hom ver in so `n saamtrillende substansie uit.

[1.1.9] As julle dié beeld nou `n bietjie oordink, sal dit vir julle duidelik word dat dit weer die geestelike hier is wat die mees inwendige, die deurdringende en die omvoutende is. Ons sal nog `n voorbeeld neem.

[1.1.10] Neem `n magnetiese stuk staal. Waar in hierdie magneet, sit die aantrekkende- of afstotende krag? Dit sit in die inwendige, dit wil sê in die hulsels, wat eintlik die sigbare materie van die staal uitmaak. As inwendige krag deurdring sy die hele materie, wat geen belemmering vir haar is nie, en omvou dit heeltemal. Dat dié magnetiese fluïdum die materie waarin sy haarself bevind, ook uiterlik omvou, kan elkeen maklik sien wanneer so `n magnetiese stuk yster, `n stukkie van dieselfde metaal, wat `n entjie van haar af lê, aantrek. As dit nie `n omvoutende, en daardeur ook `n werkende krag buite die sfeer van die materie was nie, hoe kon dit dan `n voorwerp wat verder weg lê, aantrek?

[1.1.11] Ter verduideliking sal ons nog `n paar kort voorbeelde gee. Bekyk net `n slag `n elektriese geleier of `n elektriese fles.* As so `n geleier of so `n elektriese fles met die elektrisiteit van `n gevryfde glasplaat gelaai word, dan deurdring sy die hele materie en is dan ook haar inwendige, en tegelyk haar deurdringende element. As julle `n soortgelyke geleier of fles begin te nader, dan sal julle spoedig deur `n sagte waai en trek merk dat die fluïdum die hele materie van die geleier of fles omvou het.

Desktop Kommentaar