Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die wese van God

[8.26.1] (Die Heer:) “Luister! Wanneer God as Skepper van alle wesens, maar nietemin te onderskei van alle ander wesens wat deur Hom geskape is, sekerlik ewig was, is en sal wees, is dit dan vir Hom `n onwrikbare noodsaaklikheid om in die bepaalde oersentrum te bly? Wanneer dit al aan die mens gegee is om homself selfs met sy liggaam vry in alle rigtings te beweeg en nog baie meer met sy gees, hoe sou God in Sy onbeperkte vryheid Homself dan moet beperk in dit waarin Hy selfs Sy skepsele die volste vryheid gee? Ek sê vir julle: Die goddelike oneindigheid het in alles die mag om Homself eweneens eindeloos vry te beweeg! Vir Haar kom dus seker ook die reg toe om Haar heerlikheid met `n stoflike liggaam te omhul om vir die mens wat deur Haar geskape is, Self ook as `n ewige geheel en al volmaakte mens sigbaar en begryplik aanwesig te wees.

[8.26.2] Maar die eindelose Heerlikheid van God het nie die mag, en kan dit ook onmoontlik hê, om buite Haarself ander, volledig aan Haar gelyke godhede te skep nie; want as Sy dit sou kan doen, sou Sy buite die een oneindige ruimte ook nog ander oneindige ruimtes kan skep, waarvan elke ook maar enigsins helder denkende mens reeds van `n afstand kan sien dat dit die louterste onsin is. Want wanneer die een ruimte in alle denkbare rigtings oneindig is, waar sou dan `n tweede ewe oneindige ruimte moet begin?

[8.26.3] `n Tweede volmaakte God met die volste oneindige heerlikheid is sodoende ewemin denkbaar as `n tweede oneindige ruimte, en so kan julle nou dus duidelik sien dat Ek, wat nou net soos julle ook as `n Menseseun in die vlees leef, geen tweede, maar slegs één en dieselfde God is, wat Ek vóór alle skepsele van ewigheid was en ook in alle ewigheid sal bly. Ek kan dus niks in stryd met My ewige heerlikheid doen nie, maar ten behoewe daarvan alles.

[8.26.4] As Ek buite My nog twee Gode sou skep, soos ook byvoorbeeld die Seun en die Heilige Gees, sodat beide individueel van My onderskei sou wees, dan sou hulle onvermydelik aanspraak moet maak op al My onbeperkte mag, waarsonder geen God denkbaar is nie, ewemin as wat `n mens hulleself `n tweede of selfs derde oneindige ruimte kan voorstel wat op `n bepaalde manier opgedeel is en waarvan die dele onderling beperk is. As dit egter wel denkbaar sou wees, hoe sou dit dan gestel wees met God se soewereiniteit, waarvan daar tog maar één kan wees?

[8.26.5] Daar kan egter maar één so `n eindelose goddelike hoogste gesag bestaan! Want sou daar drie van bestaan, dan sou God se eindelose eenheidsryk versplinter wees, en die bestaan daarvan sou ewe ondenkbaar en onmoontlik wees as die bestaan van drie oneindige ruimtes naas mekaar.

[8.26.6] Die eenheidsryk van die éen God kan ewig bestaan, omdat slegs Hy alleen die enigste Koning en Heer daarvan is, soos dit ook wel geskrywe staan in die boeke van die profete, wat uit die mond van God geprofeteer het: “God sal Sy heerlikheid aan niemand anders gee nie” (Jesaja 42:8). Want alleen Ek, die Messias, is die enige God! Mense, engele, heerskappye en magte, ja alle dinge in die hemel en op alle aardes (planete) het altyd voor My gebuig en sal ook in ewigheid alleen voor My buig en nooit voor iemand anders nie, soos die kosmiese skeppingsruimtes, wat alles in julle oë so eindeloos lyk, deur die éen oneindige skeppingsruimte verslind word en daarmee vergeleke totaal verwaarloos lyk.

Desktop Kommentaar