Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die aktiwiteite van die drie liggame van die mens

[8.25.1] (Die Heer:) “As julle maar `n bietjie sal oplet, sal julle aan elke tasbare en bestaande ding `n drievoudigheid opmerk wat onderskei kan word. Die eerste wat in die oog spring is natuurlik die uiterlike vorm; want daarsonder sou geen tasbare ding denkbaar gewees het nie. En as dit eers eenmaal bestaan, is die tweede natuurlik die inhoud van die bestaande dinge; want sonder inhoud sou jy ook gladnie bestaan nie en sou jy ook geen vorm of uiterlike gestalte hê nie. Wat is nou die derde, wat by `n tasbare en bestaande ding net so noodsaaklik is as die eerste en die tweede? Kyk, dit is `n inwendige krag in elke ding, wat die inhoud van die tasbare en bestaande dinge op `n bepaalde wyse bymekaar hou en die eintlike wese daarvan uitmaak. En omdat hierdie krag die inhoud en derhalwe ook die uiterlike vorm van die tasbare en bestaande dinge uitmaak, is sy ook die oorspronklike wese van alle bestaan, van watter aard dit ookal mag wees, en sonder hierdie krag sou daar ewemin `n wese of `n tasbare ding denkbaar gewees het netso sonder die inhoud of sonder `n uiterlike vorm.

[8.25.2] Julle sien nou dat die genoemde drie dele op sigself goed te onderskei is, omdat die uiterlike vorm nie sy inhoud en die inhoud nie die bepalende krag self is nie. En tog is die drie genoemde dele volledig één; want as daar geen krag sou wees nie, sou daar ook geen inhoud en sekerlik ook geen vorm wees nie.

[8.25.3] Laat ons nou weer teruggaan na ons siel! Die siel moet nou eenmaal, vanweë `n sekere en bepaalde bestaan, `n uiterlike vorm hê, naamlik die van `n mens. Die uiterlike vorm is sodoende dit wat ons die liggaam of ook die vlees noem, hetsy nog materieel of vergeestelik substansieel, dit is hierby om`t ewe.

[8.25.4] Wanneer die siel nou, wat haar vorm betref, as mens bestaan, sal sy ook, een met die vorm, `n ooreenkomstige inhoud hê. Hierdie inhoud of wel die inwendige liggaam is die wese wat haar lewe gee, dus die siel self.

[8.25.5] En as alles daar is, dan is ook die krag daar, wat die hele siel bepaal, en dit is die gees wat uiteindelik alles in alles is, aangesien daar sonder hierdie gees onmoontlik `n soliede substansie en daarsonder ook geen liggaam en derhalwe ook geen uiterlike vorm sou wees nie.

[8.25.6] Hoewel die drie te onderskeie persoonlikhede as geheel slegs één wese is, moet elkeen tog apart benoem en onderskei word.

[8.25.7] In die gees, oftewel die ewige essensie, woon die liefde, as die alles tot standbringende krag, die hoogste intelligensie en lewende vaste wil; dit alles bymekaar bring die substansie van die siel voort en gee haar die vorm oftewel die wese van die liggaam.

[8.25.8] As die siel of die mens dus eenmaal daar is, ooreenkomstig die wil en die intelligensie van die gees, trek die gees homself diep in die sentrum terug en gee die nou bestaande siel volgens haar diepste innerlike wil en intelligensie aan haar `n geskeie vrye wil en `n vrye as`t ware selfstandige intelligensie; en die siel kan dan deels deur uiterlike waarnemingsintuie en deels deur `n innerlike opnemingsvermoë dit so vir haar toe-eien en vervolmaak as sou hierdie volkome vry intelligensie haar eie werk wees.

[8.25.9] Ten gevolge van hierdie noodsaaklikerwys so gevormde toestand, waarin sy as`t ware geskei voel van haar gees, is die siel in staat om sowel `n uiterlike as `n innerlike openbaring te ontvang. As sy dit ontvang, aanneem en daarvolgens handel, begin sy daardeur ook één te word met haar gees en gaan daardeur dan ook steeds meer in die onbeperkte vryheid van die gees oor, sowel ten aansien van die intelligensie en die wilsvryheid, ooreenkomstig die verligtende intelligensie, asook in die krag en die mag om alles te kan bewerkstellig wat sy erken en wil.

[8.25.10] Daaraan kan julle weer sien dat die siel, as die in lewende substansie veranderde gedagte van die gees, wat eintlik die gees self is, tog in sekere sin beskou kan word as iets wat as tweede uit die gees voortgekom het, sonder om daarom iets anders te wees as die gees self.

[8.25.11] Dat die siel ten slotte as `n individu sigbaar word, beklee met `n uiterlike liggaam wat in `n sekere sin as die derde persoonlikheid verskyn, laat die daaglikse ervaring julle sien. Die liggaam is vir die siel `n uiterlike openbaring van haar diep innerlike gees en het ten doel om die intelligensie en die vrye wil van die siel wat na buite keer, te beperk, om dan eers die innerlike onbeperktheid van die intelligensie, van die wil en die ware krag daarvan te soek en dit te vind, en daardeur as `n oneindige verheerlikte en volkome selfstandige individu één te word met die innerlike gees, wat die enigste is wat eg bestaan en werksaam is in die mens.

[8.25.12] Omdat julle nou deur hierdie verklaring van My hopelik duidelik sal insien hoe `n mens, op sigself beskou, net soos op `n laer vlak ook elke ander ding, uit `n sekere te onderskeie drieledigheid bestaan, sal ons tot besluit van hierdie hoogs belangrike toeligting oorgaan na die drie-enige wese van God self, sodat julle helder en duidelik sal insien waarom Ek julle, vanweë die hoër en innerlike lewende waarheid, met klem moes aanraai om die mense wat in My glo en My leer mettertyd aangeneem het, in die Naam van die Vader, die Seun en die Heilige Gees te doop, dit wil sê, te versterk.

[8.25.13] Luister dus weer goed na wat julle nou uit My mond sal verneem, om dit heeltemal volkome waarheidsgetrou volledig te maak!

[8.25.14] Kyk, soos julle ook almal baie goed weet, sê en verklaar die boek van die profete dat Ek, Jesus, die Messias - ook Menseseun genoem - die ware God is, hoewel Hy met verskillende name, naamlik as Vader, Seun en Heilige Gees, aangedui en benoem word! En tog is God maar één persoonlike majesteit in die hoogs volmaakte vorm van `n mens.

[8.25.15] Soos julle nou ook goed weet, is die siel, haar uiterlike liggaam en haar diep innerlike gees sodanig verenig dat sy slegs één wese of uiteindelik één individuele substansie uitmaak, maar hulle vorm is tog ten opsigte van mekaar `n goed te onderskeie drieledigheid; so is ook Vader, Seun en Gees so verenig, soos die geskrifte van die ou vaders en profete, wat Ek so flussies genoem het, dit leer.

[8.25.16] Dawid het eens die wens uitgespreek dat sy siel, sy liggaam en sy gees in die oë van God onberispelik bevind mag word. Wanneer die woorde van die ou, wyse koning egter so lui, sou mens dan ook nie kan vra: Wat? Bestaan die mens dan uit drie persone of uit drie mense? As dit egter by die mens al nie kan opgaan nie, by wie die splitsing van die drie, vanweë sy ontwikkeling en ware lewensvoleinding, noodsaaklikerwys tog duidelik voelbaar bestaan - hoe sou God dan, wat in Homself ewig geheel en al volmaak slegs Eén is, in drie verskillende persone of selfs in drie gode verdeel kan word?”

Desktop Kommentaar