Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die beweging van die wêreldmens en sy hulssfeer. Die dubbelsonne

[6.248.1] Nou kom Lasarus na My toe en vra My: 'Heer, het so `n hulssfeer, wat ek my deur U barmhartigheid, ondanks haar reusagtige grootte, nou baie goed kan voorstel, geen ander beweging as die algemene van die groot wêreldmens nie?'

[6.248.2] Ek sê: 'O, ja, `n beweging om haar eie as, en die rede daarvoor is dat haar huid voortdurend teen die geheel en al omringende eter vryf en daardeur `n behoorlike hoeveelheid elektriese vuur opwek, soos wat die bliksemstraal produseer, wat dan as vernaamste voedsel vir alles in so `n sfeer aanwesige hemelliggaam dien; want `n ontsettende groot hoeveelheid van hierdie stof, wat by die wrywing tussen die sfeer en die buite eter ontstaan, vul die eterruimte in die sfeer. Deur die beweging van die ontelbaar talle hemelliggame binne `n bol word hierdie stof deur middel van die atmosfeer wat hulle omgewe, weer geaktiveer, versprei hulle eers in ruim mate in hierdie atmosfeer, en vervolgens op die hemelliggame self. Hoe groter `n hemelliggaam is - soos byvoorbeeld `n son of selfs `n sentrale son - en hoe geweldiger sy beweging is, soveel meer word daar van hierdie lig- en voedingstof op hom geproduseer. Vanaf die sonne word dit wat teveel is, aan die planete deurgegee.

[6.248.3] Daaruit kan jy dan goed sien dat ook `n hulssfeer dus `n beweging moet hê, en die draaiing om haar as, wat ongelooflik vinnig is, is vir haar behoefte meer as voldoende; en nog meer uitgebrei is die beweging van die groot wêreldmens in die groot, vrye eterruimte. Sy bewegingsnelheid binne `n oneindige groot kring is so buitengewoon, dat hy in `n oogwenk die afstand van duisend hulssfere deurloop, maar tog het hy honderdmaal duisendmaal duisend sonjare nodig om weer op die ou plek aan te kom.

[6.248.4] Daaruit kan julle vir julleself ten eerste `n begrip vorm, hoe groot die kring is wat hy steeds weer opnuut moet deurloop, en dat daar vir die voeding van al sy senuwees en vesels baie goed gesorg is. En ten tweede kan julle vir julleself ook `n helderder begrip maak van die mag, wysheid en orde in God, as wat tot nou toe die geval was. - Verstaan julle dit goed?'

[6.248.5] Die Skrifgeleerde sê: 'Heer, nou het alles vir my duidelik geword! Voorheen het U gesê dat `n mens God onmoontlik na waarheid sou kon liefhê as hy Hom nie eerste leer ken het nie, en die waarheid van U woord sien ek nou eers goed in. Nou ken ek God en het Hom nou dan ook in U, o Heer, buitengewoon lief. Maar hier is God ook maklik te herken wanneer U, as God Self, Hom aan ons op so `n ongehoorde wyse te kenne gee, en dit is ook natuurlik heeltemal geen verdienste van ons nie, omdat dit alles maar net U barmhartigheid is. Maar wie van alle mense van die hele aarde sou ooit die onmeetlike dieptes van U kon deurgrond en onthul het?! Dit kan slegs Hy wat dit geskape en baie wys en kunstig georden het!

[6.248.6] Ons kan hier niks anders doen nie, o Heer, as om U uit die diepste van ons hart ons liefdevolste dank te bring, maar ook daarby te vra of U ons voortdurend in U barmhartigheid sou wil bewaar en ons daarin steeds meer sou wil versterk. - Heer, U eerste leerlinge sal al wel meermale iets van U grootte gehoor het; mag ons hulle vra om dit alles vir ons te vertel?'

[6.248.7] Ek sê: 'O, baie verseker, - hulle weet al heelwat daarvan! Dit word al gou dag en dan sal julle genoeg geleentheid daarvoor vind. Maar nou moet elkeen van julle dit wat hy nou gehoor het, eers goed oordink en dit nougeset onthou vir hulle wat julle in My Naam sal toespreek!

[6.248.8] Maar nou gaan ons na buite om na die komende dag en die sonsopgang te kyk en laat iedereen se hart hom verbly! Intussen kan die mense van die herbergier vir `n oggendete sorg!'

[6.248.9] Die herbergier gee dadelik aan sy mense opdrag en dit word baie gou lewendig in die huis; maar ons staan op en gaan na buite.

[6.248.10] In die weste was daar nog `n aantal groot vaste sterre nog baie goed sigbaar en Lasarus vra My of daar nie ook dalk `n sentrale son is nie.

[6.248.11] Ek sê: 'By hulle, wat nou nog sigbaar is, is daar geen; maar baie ver daaragter is daar selfs baie, waarvan egter vir baie skerp oë in `n donkere nag hoogstens `n paar soos nouliks merkbare wasige puntjies te siene sal wees.

[6.248.12] Daar is egter ook nog spesiale soorte sonne, wat veelvuldig in elke afsonderlike songebied voorkom. Dit is die dubbelsonne, wat egter tog geen sentrale son is nie, maar slegs minder voorkomende soort planetêre sonne, en een van beide is altyd `n ent groter as haar begeleidster. Beide sonne is selde meer as sesduisendmaal duisendmaal duisend uur deurgaans van mekaar verwyderd. Die kleinere son lê haar baan soos `n groot planeet om die groot son af; maar tog beweeg daar om beide `n behoorlik aantal groot en kleinere planete, waarop hulle bewoners `n goeie bestaan het. Want ten eerste is dit by hulle byna nooit volkome nag nie en ten tweede nooit baie koud nie, en dit geld veral vir die kleinere planete tydens hulle deurgang tussen albei die sonne.

[6.248.13] Maar daar is ook groot planete wat om beide sonne `n groot elliptiese baan beskryf. Die bewoners van hierdie groot planete het dit daarby nie so goed soos die op die kleinere planete nie.

[6.248.14] Hierdie dubbelsonne het egter in elke songebied `n baie belangrike funksie, want hulle is die natuurlike reëlaars van die beweginge van die ander enkele, planetêre sonne en die verdelers van die bekende voedingstof vir `n hele songebied, en hulle is so verdeel, dat daar op elke sewenhonderd tot duisend enkele sonne een so `n dubbelson voorkom. Maar in My ryk sal julle dit alles baie duidelik leer ken, want hier is alle kennis daarvan slegs onbeduidende stukwerk.

[6.248.15] Maar nou rig ons ons oë weer na die sonsopgang; want dadelik sal ons son in al haar prag en majesteit opgaan, en die huidige sonsopgang moet julle almal baie goed in julle opneem!'

Desktop Kommentaar