Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.225.6] As Ek deur My almag sou wil dat geen mens ooit `n sonde sou begaan nie, dan sou geen mens ook ooit meer gesondig het nie; want hy sou hom geen tree buite My wil kon waag of beweeg nie, soos wat ook niemand sy liggaam anders kan vorm as wat dit deur die wil van God gevorm is nie, en ook sy liggaamlike lewe nie na willekeur sal kan verleng nie, omdat dit alles van die almagtige wil van God afhang. As God dit nie sou toestaan dat `n mens ooit `n sonde sou begaan nie, wie sou dan die verdienste gehad het van die sondevrye lewe van die mens wat alleen deur God se almag so gelei word, soos wat die groei van die bome en van alle ander vrugte gelei word en die wêrelde gelei en begelei word deur die eindelose ruimte? Tog sekerlik niemand anders as net God nie, omdat die mens in die geval slegs `n speelpop in die hande van God sou wees! Dit sou vir God baie makliker gewees het, soos wat dit vir Hom ook makliker is om die meeste verskillende diere met hulle veelsoortigste en seldsaamste eienskappe te skep en hulle dan te lei en elkeen op sy wyse besig te laat wees.

[6.225.7] Maar die mense van hierdie aarde is voorbestem om vrye en volledige selfstandige kinders van God te word, en dus moet hulle ook so gelei word dat hulle noodsaaklike vrye wil daarby nie die geringste dwang mag ondergaan van die kant van `n sterker gees nie, maar moet slegs deur openbaring en lering en deur uiterlike wette sodanig gelei word dat hy uit homself die ware en goeie wat hy geleer word, met sy vrye wil aangryp en dit uit eie beweging gaan doen.

[6.225.8] Kyk, om rekening te hou met die vrye wil van die mens van hierdie aarde gaan God selfs sover dat Hy nie eers altyd toesien op wat een of ook meer mense dink, wil en doen nie. Slegs wanneer hulle te ver van God afgewyk het, sien God na hulle om en verwek weer sieners, leraars en profete, om die mense weer die wil van God en sy planne met hulle opnuut mee te deel. Hou die mense rekening daarmee, dan gaan dit weer heeltemal goed; hou hulle hulleself egter nie daarby nie, en bespot en vervolg hulle die sieners, leraars en profete, wat deur God vir hulle opgewek is, dan word God gedwing om `n uiterlike strafoordeel oor die mense, en dikwels oor `n hele volk te laat kom. Maar selfs so `n oordeel gaan nooit direk vanaf die almagtige wil van God uit nie, maar kom altyd deur die blinde en boosaardige verkeerdheid van die mense.

Desktop Kommentaar