Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.225.14] Kyk, toe het God se almagtige wil opnuut in beginsel die volledige ondergang van hierdie slegte landstreek veroorsaak; want dit wat tydens Abraham se tyd gebeur het, moes hierdie onryp plek tog ook deur sy aard te wagte gewees het. Maar dat soveel mense daarby ten gronde gegaan het, was enkel en alleen die skuld van die ongehoorsaamheid van hulle vrye wil.

[6.225.15] God kon hierdie mense natuurlik wel met Sy almagtige wil daar weggeneem het en na `n ander gesonde landstreek verplaas het; maar dit sou duidelik teen hulle wil gewees het. Omdat God egter die meeste daarmee rekening hou en ook moet hou, laat Hy liewer toe dat hierdie mense almal liggaamlik ten gronde gaan, as wat daar ook maar net `n atoom van die vrye wil van hulle siel verwoes word. Want selfs vir God is dit die grootste meesterwerk van Sy Liefde, Wysheid en Mag, om mense te skep wat in Hom in alles volkome gelyk kan word.

[6.225.16] Om dit te bewerkstellig, moet die mens bykans sonder krag in die grootste verlatenheid van hierdie wêreld gebore word en sy onderrig geleidelik aan in die uiterlike wêreld opdoen. Eers as hy so vir hom sekere kennis en vaardighede vergader het, gaan die goeie en ook slegte geeste wat hom omring, baie ongemerk op hom inwerk, - die goeie op sy gemoed en die slegte op sy fisieke natuur, sodat die siel steeds in `n volkome vrye ewewig bly.

[6.225.17] As `n mens teen alle aanvegtinge van sy sintuie in, vrywillig gehoor gegee het aan die goeie raad en vermanings wat van buite kom, en sy lewe daarvolgens ingerig het, word die stille invloed van die goeie geeste ook steeds kragtiger, wat geen mens egter andersins voel en mag voel as wat dit deur homself gewil word nie. As die invloed van die goeie uit die hemele deur die eie wil van die mens eenmaal so kragtig geword het, dat die siel heeltemal daarin oorgegaan het, word die ware goddelike gees van die liefde in haar wakker, deurdring die siel heeltemal, en dan eers het die siel die eerste fase van haar vervolmaking ingegaan, is dan al onveranderlik vry en kan, ook al is sy nog in die liggaam, verskynings en openbaringe van geeste en selfs van die hoogste engele ontvang.

[6.225.18] En dan gebeur dit dikwels dat sulke mense verskynings kry, met siele aan die ander kant praat en haar persoonlik deur hulle laat voorlig en daarvan ook aan ander, nog heeltemal natuurlike mense getrou en waaragtig kan berig. Wie hulle glo, doen sekerlik goed daaraan, - hulle moet net nie dadelik eis om ook dieselfde te ervaar nie; want dit kan nie gebeur alvorens hulle nie die hiervoor beskrewe geestelike sielerypheid bereik het nie.

[6.225.19] Elke mens moet homself egter eers gelowig volgens die ontvangde goeie lesse rig en dan op sy gemoed let, maar ook op die dikwels sluimerende, bose hartstogte in sy liggaam, wat hom in traagheid, arbeidskuheid, wellus, eieliefde, starheid, hoogmoed, nyd, gierigheid en heerssug maar al te duidelik kenbaar maak. Aan hierdie laaste moet hy deur die krag van die liefde tot God en deur die liefde tot die naaste, deur geduld, deemoed en sagmoedigheid die hoof bied, dan sal hy glad nie lank hoef te wag voordat die goeie geeste hulle meer voelbaar en duideliker aan hom sal openbaar nie.

[6.225.20] Origens is daar byna geen enkele mens wat nie een keer `n paar toegelate bepaalde wenke en selfs gesigte uit die hiernamaals gekry het nie. Maar wanneer die mens dit alles daarna in die wind slaan en dit maar net as sinsbegogeling beskou, kan `n mens hom nie help nie. Ek glo dat Ek jou beswaar en teenwerping nou volgens die ewige waarheid volkome belig het, en elkeen moet daaruit kan sien hoe hierdie saak met die mense op hierdie aarde staan. - Het jy miskien nog iets daarteen in te bring?'

Desktop Kommentaar