Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.225.10] God kon die mense immers deur Sy almag gebind het, sodat hulle die berge nooit verder kon verwoes nie! Ja, dit sou vir God baie maklik gewees het; maar die mense sou dan opgehou het om mens te wees en sou daarna in die geesteryk ook nie meer as vrye mense kon bestaan nie. God het egter eerder toegelaat dat `n groot mensegeslag deur hulle eiesinnige wil liggaamlik ten onder gaan, as dat hulle siele, wat betref hulle vrye wil en volledige selfstandigheid, ook maar iets moes inboet.

[6.225.11] So is `n volkstam ook nog verskeie kere deur die koning van Salem gewaarsku om nie in die omgewing van Sodom en Gomorra te gaan woon nie, omdat daar op die bodem baie swawelhoudende aardlae was en daar ook aardpik voorgekom het. Dit was vir die volk ook duidelik en begryplik uitgelê dat daar uit die aardlae voortdurend onrein geeste is wat hulleself losmaak en die mense tot ontug prikkel; want, soos wat daar ontuggeeste in die wyn gevind word, wat die liggaam tot ontug aandryf, as `n mens teveel daarvan gedrink het, so is die geeste ook in swawel en aardpik aanwesig. Die volk was ook vertel dat daar in so `n omgewing dikwels aardbewings, bergbrande en baie swaar onweersbuie voorkom, wat dikwels groot skade aanrig, waarna hongersnood en pes maklik kon ontstaan; maar al die goeie raad, selfs uit die mond van JaHWeH, het niks gehelp nie. Omdat die omgewing verder baie weelderig begroeid en vrugbaar was, het die mense tog daar gaan woon en binne tweehonderd jaar was daar al, buiten Sodom en Gomorra, nog tien stede gebou. Die mense het heeltemal sinlik geword en het begin om allerlei onbeskryflike ontug en die allerafkuwelikste hoerery te bedryf, selfs met diere.

[6.225.12] Hulle word nogmaals in Nahor en opnuut in Tera se tyd gewaarsku en word aangeraai om die slegte streek te verlaat; maar niemand het hulle daaraan gesteur nie. Tera se seuns was Abraham, Nahor - wat na sy grootvader genoem was - en Haran, wat Lot verwek het. Haran het self daarheen gegaan en op God se bevel gepredik, maar het ook niks bereik nie. Lot, sy seun, het dieselfde gedoen gedurende `n aantal jare, het hom afwisselend dan in die een en dan weer in die ander stad opgehou en het daarby self byna `n slagoffer van die gees van ontug geword.

[6.225.13] Toe kom daar sigbare engele, wat eers vir Abraham besoek het, en JaHWeH was onder hulle en het Abraham presies vertel hoe Sodom en die ander stede sou vergaan. En beide die engele, in die gestalte van twee sterk jongmanne was daarheen gestuur om nog vir Lot te red. Die volk het gladnie na die jongemanne geluister nie, maar wou nog die mees onnatuurlike ontug met hulle gepleeg het. Lot het ontkom deur die waarskuwing van beide die jongmanne. Slegs sy vrou het `n slagoffer geword omdat sy getalm het uit nuuskierigheid; sy het liggaamlik `n soutpilaar geword, soos wat die jongmanne voorspel het. Want hulle het gesê: 'Ons moet nou dadelik vlug en ons nie eers die tyd gun om om te kyk nie; want die onderaardse vuur gryp vinnig om hom heen, en die vrykomende dampe verstik dadelik orals al die natuurlike lewe en verander alles in `n steenagtige sout!' Maar Lot se vrou het tog `n paar oomblikke gebly staan en is deur die dampe ingehaal en het daardeur `n slagoffer geword.

[6.225.14] Kyk, toe het God se almagtige wil opnuut in beginsel die volledige ondergang van hierdie slegte landstreek veroorsaak; want dit wat tydens Abraham se tyd gebeur het, moes hierdie onryp plek tog ook deur sy aard te wagte gewees het. Maar dat soveel mense daarby ten gronde gegaan het, was enkel en alleen die skuld van die ongehoorsaamheid van hulle vrye wil.

[6.225.15] God kon hierdie mense natuurlik wel met Sy almagtige wil daar weggeneem het en na `n ander gesonde landstreek verplaas het; maar dit sou duidelik teen hulle wil gewees het. Omdat God egter die meeste daarmee rekening hou en ook moet hou, laat Hy liewer toe dat hierdie mense almal liggaamlik ten gronde gaan, as wat daar ook maar net `n atoom van die vrye wil van hulle siel verwoes word. Want selfs vir God is dit die grootste meesterwerk van Sy Liefde, Wysheid en Mag, om mense te skep wat in Hom in alles volkome gelyk kan word.

[6.225.16] Om dit te bewerkstellig, moet die mens bykans sonder krag in die grootste verlatenheid van hierdie wêreld gebore word en sy onderrig geleidelik aan in die uiterlike wêreld opdoen. Eers as hy so vir hom sekere kennis en vaardighede vergader het, gaan die goeie en ook slegte geeste wat hom omring, baie ongemerk op hom inwerk, - die goeie op sy gemoed en die slegte op sy fisieke natuur, sodat die siel steeds in `n volkome vrye ewewig bly.

[6.225.17] As `n mens teen alle aanvegtinge van sy sintuie in, vrywillig gehoor gegee het aan die goeie raad en vermanings wat van buite kom, en sy lewe daarvolgens ingerig het, word die stille invloed van die goeie geeste ook steeds kragtiger, wat geen mens egter andersins voel en mag voel as wat dit deur homself gewil word nie. As die invloed van die goeie uit die hemele deur die eie wil van die mens eenmaal so kragtig geword het, dat die siel heeltemal daarin oorgegaan het, word die ware goddelike gees van die liefde in haar wakker, deurdring die siel heeltemal, en dan eers het die siel die eerste fase van haar vervolmaking ingegaan, is dan al onveranderlik vry en kan, ook al is sy nog in die liggaam, verskynings en openbaringe van geeste en selfs van die hoogste engele ontvang.

[6.225.18] En dan gebeur dit dikwels dat sulke mense verskynings kry, met siele aan die ander kant praat en haar persoonlik deur hulle laat voorlig en daarvan ook aan ander, nog heeltemal natuurlike mense getrou en waaragtig kan berig. Wie hulle glo, doen sekerlik goed daaraan, - hulle moet net nie dadelik eis om ook dieselfde te ervaar nie; want dit kan nie gebeur alvorens hulle nie die hiervoor beskrewe geestelike sielerypheid bereik het nie.

[6.225.19] Elke mens moet homself egter eers gelowig volgens die ontvangde goeie lesse rig en dan op sy gemoed let, maar ook op die dikwels sluimerende, bose hartstogte in sy liggaam, wat hom in traagheid, arbeidskuheid, wellus, eieliefde, starheid, hoogmoed, nyd, gierigheid en heerssug maar al te duidelik kenbaar maak. Aan hierdie laaste moet hy deur die krag van die liefde tot God en deur die liefde tot die naaste, deur geduld, deemoed en sagmoedigheid die hoof bied, dan sal hy glad nie lank hoef te wag voordat die goeie geeste hulle meer voelbaar en duideliker aan hom sal openbaar nie.

[6.225.20] Origens is daar byna geen enkele mens wat nie een keer `n paar toegelate bepaalde wenke en selfs gesigte uit die hiernamaals gekry het nie. Maar wanneer die mens dit alles daarna in die wind slaan en dit maar net as sinsbegogeling beskou, kan `n mens hom nie help nie. Ek glo dat Ek jou beswaar en teenwerping nou volgens die ewige waarheid volkome belig het, en elkeen moet daaruit kan sien hoe hierdie saak met die mense op hierdie aarde staan. - Het jy miskien nog iets daarteen in te bring?'

Desktop Kommentaar