Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.225.10] God kon die mense immers deur Sy almag gebind het, sodat hulle die berge nooit verder kon verwoes nie! Ja, dit sou vir God baie maklik gewees het; maar die mense sou dan opgehou het om mens te wees en sou daarna in die geesteryk ook nie meer as vrye mense kon bestaan nie. God het egter eerder toegelaat dat `n groot mensegeslag deur hulle eiesinnige wil liggaamlik ten onder gaan, as dat hulle siele, wat betref hulle vrye wil en volledige selfstandigheid, ook maar iets moes inboet.

[6.225.11] So is `n volkstam ook nog verskeie kere deur die koning van Salem gewaarsku om nie in die omgewing van Sodom en Gomorra te gaan woon nie, omdat daar op die bodem baie swawelhoudende aardlae was en daar ook aardpik voorgekom het. Dit was vir die volk ook duidelik en begryplik uitgelê dat daar uit die aardlae voortdurend onrein geeste is wat hulleself losmaak en die mense tot ontug prikkel; want, soos wat daar ontuggeeste in die wyn gevind word, wat die liggaam tot ontug aandryf, as `n mens teveel daarvan gedrink het, so is die geeste ook in swawel en aardpik aanwesig. Die volk was ook vertel dat daar in so `n omgewing dikwels aardbewings, bergbrande en baie swaar onweersbuie voorkom, wat dikwels groot skade aanrig, waarna hongersnood en pes maklik kon ontstaan; maar al die goeie raad, selfs uit die mond van JaHWeH, het niks gehelp nie. Omdat die omgewing verder baie weelderig begroeid en vrugbaar was, het die mense tog daar gaan woon en binne tweehonderd jaar was daar al, buiten Sodom en Gomorra, nog tien stede gebou. Die mense het heeltemal sinlik geword en het begin om allerlei onbeskryflike ontug en die allerafkuwelikste hoerery te bedryf, selfs met diere.

[6.225.12] Hulle word nogmaals in Nahor en opnuut in Tera se tyd gewaarsku en word aangeraai om die slegte streek te verlaat; maar niemand het hulle daaraan gesteur nie. Tera se seuns was Abraham, Nahor - wat na sy grootvader genoem was - en Haran, wat Lot verwek het. Haran het self daarheen gegaan en op God se bevel gepredik, maar het ook niks bereik nie. Lot, sy seun, het dieselfde gedoen gedurende `n aantal jare, het hom afwisselend dan in die een en dan weer in die ander stad opgehou en het daarby self byna `n slagoffer van die gees van ontug geword.

Desktop Kommentaar