Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.224.8] Wanneer daar dan weer `n profeet onder die volk opstaan en te kenne gee dat God deur hom praat, dan word die mense maar net vererg oor so iemand en dan sê die mense vir hom: 'Bewys maar eers dat jy net so onsterflik is soos EliJaH!' of 'Roep die reeds lank gestorwe vaders en profete, sodat ons hulle kan sien en hulle vir ons in lewende lywe kan getuig - ten eerste, dat daar werklik `n lewe na die dood is en hoe, en ten tweede, dat jy `n egte profeet is! As jy nie vir ons hierdie bewys kan gee nie, glo ons jou net so min soos wat ons nou en in die toekoms die ou profete geglo het en ooit sal glo; want hulle het gesterf soos wat jy ook sal sterwe, en niemand het na hulle dood ooit meer iets van hulle gehoor nie. Ons het wel hulle geskrifte bewaar, maar dit is deur die onversadigbare aarde verslind. Wat het ons egter aan hulle geskrifte vol lesse oor die ewige lewe, wanneer hulle as leraars, ons nie na hulle dood die oortuigende bewys kon gelewer het dat hulle leer waar was nie?!'

[6.224.9] Kyk, Heer en Leraar, so sal die mense met verloop van die tyd dink en optree, en hulle het die profete ook gedood, wat meestal gebeur het omdat hulle nie opgehou het om hulle allerlei straf van God te voorspel nie! Waarom word dit dan nie toegestaan dat `n gestorwe profeet af en toe weer na hierdie aarde toe kom en deur sy verskyning getuig van wat hy tydens sy aardse lewe geleer het nie? En waarom word die ongeloof van die mense steeds as skuld vir hulle aangereken?

[6.224.10] As daar maar net één keer iemand kon gekom het - natuurlik wel op `n manier dat `n mens hom sou kon herken as die een wat hy liggaamlik op aarde was, dan sou dit die geloof bevestig het, en die mense sou dan ook beslis volgens sy leer gelewe het. Maar vir sover ons weet, het dit nog nooit voorgekom nie, en daarom is dit ook baie natuurlik dat die mense wantrouig en ongelowig word. Dat die tempel tans en al baie lank gelede bykans heeltemal anti-messias geword het, vind sy oorsaak vernaamlik in dit wat ek gesê het, en kom ook omdat die Sadduseërs, wat van ons afgeskei het, baie openlik nie meer aan die onsterflikheid van die siel glo nie. En wie kan hulle streng genome en redelikerwys ongelyk gee? En daarom is die tempeldienaars dan eintlik nie heeltemal alleen skuldig aan die slegtigheid wat nou in die tempel heers nie, maar hulle kan steeds maar nie bewys lewer van die lewe na die liggaamlike dood nie. As die sterk en oortuigende bewyse ontbreek daarvoor, dan verdwyn die geloof in `n God ook vanself; en ook al glo `n mens nog aan die bestaan van God, dan het mens tog geen regte agting en liefde vir Hom nie en beskou `n mens die gebod wat Hy aan die mense gegee het, as `n menslike bedenksel wat binne `n bepaalde tydperk en vir die menslike lewensverhoudinge wat in daardie tyd gegeld het, baie goed kon gewees het, maar vir die teenswoordige tyd nouliks meer te gebruik is. Dit sê ek nie om ons en die tempel uiteindelik goed te wil praat nie; maar dit is tog geen onwaarheid dat dit so was en nou nog ook so is nie.

[6.224.11] U, Heer en Leraar, toegerus met die volheid van God se Gees, is vir ons nou natuurlik wel die sterkste bewys, en borg vir `n ewige lewe van die siel na die dood; maar buiten ons is daar nog tallose talle mense wat altyd die baie duidelike bewyse sal mis. Kan dit hulle dan as skuld aangereken word as hulle nie in `n ewige lewe na die liggaamlike dood glo nie, en uiteindelik die son of die vuur as God aanbid? Sou dit dan nie moontlik wees, dat die gestorwe ouers in elke geval na hulle kinders kon gaan om hulle te vertel wat hulle na die verlaat van die liggaam te wagte staan nie, wat die siel is, en hoe sy daar uitsien nie?

[6.224.12] Maar so-iets gebeur nie, en daarom is alles wat dan oor die hiernamaals gesê word, `n soort fabel, waaraan net `n swaksinnige mens kan glo, maar wat `n dieper denkende mens nooit volledig as waarheid sal kan aanvaar nie! En ons priesters verrig selfs iets goeds as ons die volk so dom as moontlik hou en dit met baie bombasme en erns hulle van alles wysmaak wat dui op `n hiernamaals. Want as ons die volk net so wys sou maak soos wat ons is, sou dit baie gou afgeloop wees met die Judese godsdiens, en die mense sou hulle gou in `n afgryslike toestand bevind het.

[6.224.13] Slegs ons priesters hou die volk in toom en moedig hulle aan om die aarde vlytig te bewerk en om die tiende gewetensvol aan ons te gee, - en daarmee is hulle tevrede. Maar die tevredenheid sal natuurlik gou verdwyn wanneer ongevraagde profete elke oomblik aan die volk verskyn en hulle teen ons oprui. Daarmee bedoel ek nie U nie, Heer en Leraar, omdat U geen profeet nie, maar die Heer Self is; ek bedoel slegs die profete soos wat ek dit vroeër aangegee het.

[6.224.14] Het ek nou goed gepraat en ons geloof, soos wat dit is, volgens waarheid belig of nie? Elkeen wat dit beter en waaragtiger kan uitlê, sal ek baie dankbaar wees; want dit is beslis geen grappie om altyd aan die dood en aan die sekere en ewige vernietiging te moet dink nie, waarvan mens nêrens ter wêreld die teenbewys kan vind nie. Want alles sterf en vergaan en kom nie terug nie. Selfs `n klip verweer en los hom in vlugtige stof op waaruit geen harde klip meer ontstaan nie, soos wat ook geen mens ooit meer uit die graf sal opstaan op die een of ander jongste dag nie, hoewel ons dit aan die volk moet leer! - Ek het gepraat.'

Desktop Kommentaar