Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.222.12] Slaan maar na in die Skrif, dan sal julle wel vind waarom Moses maar net die gebruik van suiwer en rein voedsel aanbeveel het! Dit het hy gedoen vanweë julle groot belustigheid vir vleis en vanweë julle buitensporige sinlikheid en geilheid. Ek sê egter nou, dat vir diegene wat in sy hart rein is, ook al die ander rein is, maar vir diegene wat in sy hart onrein is, alles onrein is.

[6.222.13] Wat julle vir die noodsaaklike instandhouding van julle liggaam eet of drink, sal julle nóg salig nóg ooit onsalig maak nie, maar slegs wat julle glo en hoe julle handel! Glo julle verkeerde dinge, dan kan julle niks doen wat reg en werklik goed is nie; want dan is die waarheid nie in julle nie. Maar daardeur sal julle siel nie in die oordeel bly nie, want dan sou alle heidene verlore gewees het en daar is geen sprake daarvan nie! Maar as julle die waarheid gehoor het en ook verstaan het, en tog verkeerd handel, sal die waarheid julle oordeel, egter nie tot die lewe nie, maar tot die dood van julle siele! Want soos wat die lig die dood van die nag is, so is ook die waarheid die dood van die leuen en die onwaarheid. Maar noudat die dag van julle siel gekom het, waarom wil julle dan na die nag van die oordeel en van die dood terugkeer?!'

[6.222.14] Die Skrifgeleerde sê: 'Heer, ek weet wel dat U die waarheid praat; maar U het ons tog verwyt dat ons die wette van Moses opgehef het en ander in die plek daarvan gestel het! En kyk, ons bestry dit nie, omdat dit werklik so is, maar as U nou alle Judeërs toelaat om ook die vleis van die onrein diere wat deur Moses genoem is, te eet, nadat hulle op `n bepaalde manier voorberei is, dan hef U ook immers op hierdie punt die wet van Moses op, net soos wat U dit ook nie altyd so streng gehou het, deur ook op die Sabbat siekes te genees nie! Want daar staan geskryf: 'Ses dae sal jy arbei, die sewende dag sal jy rus en aan JaHWeH God wy!' Met watter reg doen U dan so-iets self?'

[6.222.15] Ek sê: 'As Ek Die Een is wie Ek is, wat in hierdie wêreld gekom het, dan doen Ek dit nou met presies dieselfde reg as waarmee die Vader, wat in My is, deur Moses in die woestyn vir julle Israeliete die wette gegee het. Ek hef egter, soos wat jy dink, beslis geen wet van Moses op nie, maar Ek Self vervul die wet in alle opsigte. Ek laat julle maar net julle onbegrip sien ten aansien van die beoordeling van die wette van die profeet. Julle hou julle by die letter, die dood, en kan die gees nie lewend maak nie. Ek openbaar egter nou aan julle die Gees wat alles lewend maak; hoe kan jy dan sê dat Ek die wet van Moses ophef?

[6.222.16] Julle lettersifters voed wel die muggies met letters en daarvoor verslind julle kamele; want as julle dan so onwrikbaar letterlik aan die wette van Moses wil hou, hoe kan julle dan vir baie geld en ander offers aan ryk Judeërs vrystelling daarvan gee?!

[6.222.17] Julle eet selfs op die Sabbat gesuurde brood, julle eet wilde voëls en gee ook nog aan julle apostels verlof om alles te eet wat die mense in `n bepaalde land eet. Dit gaan vir julle egter maar net oor die aardse voordeel, en dit maak nou juis dat julle die wet breek; Ek gee die mense egter nou uit suiwer liefde en medelye hierdie raad en verlang geen offers vir die vrystelling nie en hef daarom ook nie die wet van Moses op nie! Want as die mens, wanneer hy honger het, sy liggaam versadig met watter eetbare voedsel dan ook, sondig hy teen geen enkele wet van Moses nie. Maar as `n Israeliet suiwer uit smulpapery (vraatsug) en om sy verhemelte onnodig te streel, tot ergernis van sy medemense die vleis van onrein of verstikte diere eet, terwyl hy voldoende vleis van rein diere het, dan sondig hy omdat hy sy swak medemens daarmee vererg.

[6.222.18] Hiermee sê Ek niks anders as: `n Mens kan, indien nodig, ook die vleis van al die diere wat deur My aangegee is, eet en hoef geen gewetensaak daarvan te maak nie; maar hy moet dit eers voorberei soos wat Ek juis nou vertel het, dan sal dit hom nie skaad nie! Maar bloed, veral van verstikte diere, moet niemand eet nie, omdat baie bose (besoedelde) geeste daarin verberg sit! Julle weet dit goed, en tog eet julle in die geheim die vleis van verstikte hoenders, kalwers en lammers, omdat dit vir julle beter smaak en julle daarvan bedwelmd en geil en uiteindelik heeltemal gevoelloos word.

[6.222.19] Dink eers oor jouself na, oor wat jy doen, en daarna kan jy eers vir My sê of Ek die wet van Moses ophef! Hoe kan jy vir jou buurman sê: 'Kom, laat my die splinter uit jou oog haal!', terwyl daar in jou eie oog `n behoorlike balk sit?! Dwaas! Haal eers die balk uit jou eie oog en kyk dan eers wat jy aan die splinter in die oog van jou buurman kan doen! Laat elkeen eers sy eie straatjie vee en dan eers na sy buurman toe gaan en sê: 'Voor my deur is dit nou skoon, as jy wil, sal ek ook voor jou deur vee, sodat die verbygangers hulle nie aan ons vuilheid sal vererg nie."

Desktop Kommentaar