Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[6.222.10] Die Fariseërs het dit egter ook gehoor en hulle begin hulleself af te vra of Ek dit ook nou op hulle bedoel het, terwyl hulle tog gelowig geword het.

[6.222.11] Maar Ek gaan staan en sê vir hulle: 'Ja, dit slaan ook op julle! Blinde dwase! Wat deur die mond na binne gaan en via die mond in die liggaam beland en langs die natuurlike weg weer die liggaam verlaat, verontreinig nie die mens nie; maar wat deur die mond uit die hart kom soos slegte gedagtes, slegte en onfatsoenlike praatjies, eerroof (laster), meineed, allerlei leuens, bedrog, nyd, gierigheid, ontug, hoerery en egbreuk en vraat- en swelgsug, dit verontreinig die hele mens, ook as hy rein spyse eet!

[6.222.12] Slaan maar na in die Skrif, dan sal julle wel vind waarom Moses maar net die gebruik van suiwer en rein voedsel aanbeveel het! Dit het hy gedoen vanweë julle groot belustigheid vir vleis en vanweë julle buitensporige sinlikheid en geilheid. Ek sê egter nou, dat vir diegene wat in sy hart rein is, ook al die ander rein is, maar vir diegene wat in sy hart onrein is, alles onrein is.

[6.222.13] Wat julle vir die noodsaaklike instandhouding van julle liggaam eet of drink, sal julle nóg salig nóg ooit onsalig maak nie, maar slegs wat julle glo en hoe julle handel! Glo julle verkeerde dinge, dan kan julle niks doen wat reg en werklik goed is nie; want dan is die waarheid nie in julle nie. Maar daardeur sal julle siel nie in die oordeel bly nie, want dan sou alle heidene verlore gewees het en daar is geen sprake daarvan nie! Maar as julle die waarheid gehoor het en ook verstaan het, en tog verkeerd handel, sal die waarheid julle oordeel, egter nie tot die lewe nie, maar tot die dood van julle siele! Want soos wat die lig die dood van die nag is, so is ook die waarheid die dood van die leuen en die onwaarheid. Maar noudat die dag van julle siel gekom het, waarom wil julle dan na die nag van die oordeel en van die dood terugkeer?!'

Desktop Kommentaar