Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Rein en onrein voedsel

[6.222.1] Terwyl die groep Fariseërs hulle met die leerlinge besig gehou het, praat Ek met Lasarus en sy herbergier oor baie gewone aardse dinge. Die talle aanwesige tollenaars, met hulle aanhang, luister egter aandagtig na alles wat Ek met Lasarus en sy herbergier bespreek en let goed daarop wat hulle by hulle landbou en hulle veeteelt goed kan gebruik.

[6.222.2] Ek wys hulle op baie wortelvrugte wat hulle deur My omskrywing goed kan herken, verbou en daarna as voedsel kan berei. Ook vertel Ek hulle hoe hulle die vleis van varke, herte, reebokke, gemsbokke, gaselle, wilde en mak hase en `n aantal voëls kon voorberei om dit te kan eet , sonder dat dit skadelik vir hulle was. So vertel Ek hulle ook, hoe en wanneer mens die diere die maklikste kon vang en doodmaak en hoe mens die vleis daarvan dan gemarineerd en goed gerook vir langer tydperke kon bewaar om, indien nodig, daarvan te eet.

[6.222.3] Dit hoor die Romeine ook, en ons Agricola kom van sy tafel af na My toe en sê: 'Heer en Leraar, ook van hierdie onderrig het ek alles gehoor en dit doen my baie genoeë dat U ons ook oor dergelike dinge inlig! Kyk, ons is gewoond om vir die misdadigers in die kerkers rivier seekreef te ete te gee! Hierdie diere word, wanneer hulle gevang kan word, in soutwater, waarby tiemie toegevoeg is, gekook. Wanneer hulle rooi word, is hulle voldoende gekook. As hulle so voorberei is, gee mens hulle vir die gevangenes om te eet. In die begin word hulle, soos wat mens weet, slegs deur erge honger genoodsaak om die voedsel te eet; maar na verloop van tyd smaak hierdie kos vir hulle baie goed, en hulle word tewens kerngesond, sien by die dag beter daaruit, en elkeen verheug hom uiteindelik oor die krewe. Hulle wat hulle straftyd agter die rug het, eet ook later bykans niks anders as kreef nie, as hulle dit tenminste kan kry. - Hoe vind U ons kos? Sou dit raadsaam wees as ander mense dit ook wil eet?'

[6.222.4] Ek sê: 'Ja seker, - maar slegs in bepaalde maande wat aan julle bekend is, en dan moet hulle natuurlik vars en lewend wees! Die bereidingswyse is baie goed. Maar rivierkreef is beter as die uit die see.'

[6.222.5] Daarmee was Agricola baie tevrede.

[6.222.6] Sommige leerlinge sê toe onder mekaar: 'Kyk nou tog eens na ons Heer en Leraar! Oor sulke dinge het Hy vir lank niks meer gesê nie! Hoe is dit dan dat Hy dit nou sê?'

[6.222.7] Maar ook die Fariseërs, wat met die oudste leerlinge oor My gepraat het, hoor wat Ek sê, skud hulle koppe en sê: 'Nou vertel Hy dinge wat in stryd is met die wet van Moses, en die Romeine bring niks daarteen in nie, terwyl Hy ons tog verwyt het dat ons die instellinge van Moses verwerp het en vervang het met die van ons! Weet Hy dan nie wat Moses voorgeskryf het nie, en dat die vleis van onrein diere die mense ook alreeds verontreinig as mens dit maar net aanraak? Wat het die voorbereiding daarmee te doen! Wat onrein is, bly ook by die beste voorbereiding onrein en verontreinig diegene wat dit eet! Ietwat vreemd van Hom dat hy so praat!'

[6.222.8] Jakobus sê heimlik vir My: 'Heer, hoor U nie hoe die Fariseërs U prys nie? Sê tog iets terug!'

Desktop Kommentaar