Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die wat hulle van die wêreld afkeer en die ryk van God

[6.220.1] Daarop sê Ek: 'En salig is ook hulle wat hom nie vir My vererg nie! Julle blinde Fariseërs sê: 'As die lug in die aand rooi is, sal dit môre `n mooi dag wees; maar is die oggend rooi, dan sal die dag somber wees!' Hierdie tekens kan julle beoordeel; waarom sien julle dan nie die groot tekens van hierdie tyd, wat deur My aan julle gegee word nie? Die tekens sien julle ook goed en julle verstaan dit ook; maar vanweë julle wêreldse ryk wil julle dit nie aanneem nie en hou julle ook die volk daarvan af. En dus wil julle self nie in die hemelryk ingaan nie, maar laat julle ook niemand anders daarin toe nie; en daarom sal julle eendag ook des te meer verdoem wees!

[6.220.2] As `n blinde teen `n rots stamp, kan niemand hom dit kwalik neem nie. Maar as `n siende dit doen, is dit duidelik `n growwe fout; want hy kan tog sien dat daar `n rots in die pad lê. En dit is soveel meer by geestelike dinge die geval. Wie op grond van sy sieleblindheid hierdie tekens en woorde wat Ek doen en praat nie kan verstaan nie, vir hom sal dit ook nie as `n sonde aangereken word nie - maar wel word dit diegene wat sien en tog vyandig teenoor die waarheid staan, veelvoudig aangereken!

[6.220.3] Dit is tans by julle Fariseërs en Skrifgeleerdes die geval. Julle sien self baie goed in dat Ek die Beloofde is; maar julle sien daarnaas ook in dat julle totaal geruïneerde Judeërdom naas My leer nie kan bestaan nie, omdat julle Moses en die profete bykans heeltemal vervang het deur julle eie voorskrifte om die volk, die weduwees en die wese te kan onderdruk, en nie om hulle te steun nie. En omdat julle dit doen en julleself nie tot My bekeer nie, bly julle sonde in julle, en daarmee ook die oordeel en die dood! Helaas, met dieselfde maat waarmee julle nou meet, sal julle eens deur My ware Vader vergeld word!'

[6.220.4] Toe sê `n Fariseër wat eers nog heeltemal ongelowig was: 'Heer, dit vind ek `n vreemde redenasie van U! Is dit dan gladnie moontlik dat ons van nou af aan ook U leerlinge kan word nie?'

[6.220.5] Ek sê: 'Julle kan wel leerlinge van My word, maar nie so maklik as wat jy dink nie; want wie `n leerling van My wil word, moet heeltemal met die wêreld breek en mag nie na haar verlokkings kyk nie; want die hele wêreld is in `n aanhoudende oordeel en in `n voortdurende dood! Wie die wêreld liefhet, is nie geskik nie en is ondeugdelik om `n egte leerling van My te word; want die liefde tot die wêreld het geen lewe in haarself nie, maar slegs die oordeel en die dood. Ek het egter geen dooie, maar volkome vrye, lewende leerlinge nodig. As julle dit kan word, dan kan julle ook by My bly!

[6.220.6] Want Ek het nie in hierdie wêreld gekom om al die blinde en kortsigtige mense te oordeel nie, maar Ek het slegs gekom om die verlorenes te soek, die siekes te genees, die geboës op te rig en alle gevange mense vry te maak. Wie Ek help, sal ook vir ewig geholpe wees; wie egter My hulp nie wil aanneem nie, die sal niemand nóg in die hemel nóg op hierdie aarde kan help nie.

[6.220.7] Ek bedoel hier egter nie Myself as persoon nie, maar My leer; want dit is die ryk van God wat nou vlak by julle gekom het en elkeen wat daarvolgens leef, die ewige lewe sal gee. Waarlik, Ek Self sal niemand oordeel nie; maar die woord wat Ek tot julle spreek sal julle oordeel, soos wat ook die waarheid oordeel en dood bring aan die leuen!'

[6.220.8] Daarop sê die Skrifgeleerde: 'Heer, U het nou baie goed en wys gespreek en so is dit ook; maar tog is daar nog iets waarmee ek dit nog nie so goed eens kan wees nie, en dit is die volgende: U sê dat mense die wêreld nie moet liefhê nie, omdat die wêreld die oordeel en die dood is. Nou, dit is op sigself heeltemal waar, - maar bedink nou eers hoe groot hierdie wêreld is en hoeveel mense onvrywillig op haar lewe! Wie gaan na hulle toe en bring vir hulle troos, en `n evangelie uit die hemele? Hulle groei wild op soos die onkruid op `n veld en ken niks en weet niks nie. Moet sulke mense ook deur die almagtige wil van God heeltemal blind op hierdie aarde geplaas word, en geen liefde vir hierdie aarde hê wat hulle dra en voed nie?

[6.220.9] Ons Judeërdom is al byna meer `n heidendom as `n egte Judeërdom; hoe sien dit dan met die ander volke en mense daaruit? Want, sover ons weet, ons denke en herinnering reik, kan geen mens tog iets daaraan doen dat hulle volkome willoos in hierdie slegte en ellendige wêreld gebore is nie! As hulle egter eenmaal daar is, dan word hulle dadelik vanaf hulle geboorte tot aan die rand van die graf voortdurend met al die moontlike gepla waarmee `n mens maar gepla kan word. Uiteindelik volg daar dan `n pynlike en bittere dood.

[6.220.10] Ja, as jy maar `n bietjie goed daaroor nadink, dring die belangrike vraag homself onwillekeurig aan jou op: Waarom is ek eintlik `n mens? Wie het my in die tranedal geplaas, en waarom?

[6.220.11] As die mens sy hele ellende so bekyk, kan jy dit hom tog egter nie kwalik neem dat hy in die wêreld op soek gaan na `n plekkie waar hy sy lot ietwat draagliker kan maak nie. Wel, na baie pyn en moeite het hy eindelik so `n plekkie verower, waar dit met hom ietwat beter en rustiger sou kon gaan vir die res van sy lewe, - en dan kom daar dadelik profete en ander bodes vol van die Gees van God en verkondig aan hom die toorn van God, die oordeel, die dood en `n aantal ander nie sulke opwekkende dinge, en met die moeisaam verkryde rusplekkie is dit finaal uit.

[6.220.12] Ja, as die mens vanaf sy geboorte al met `n God `n ooreenkoms gesluit sou gehad het onder watter voorwaarde hy op hierdie wêreld sou lewe, dan sal dit natuurlik alles baie anders wees! Maar jy word heeltemal naak en blind en byna so goed as bewusteloos in die wêreld gebore en dadelik deur alles gekwel. En as jy na allerlei lyding en wedervaringe eindelik `n man geword het - sê maar - selfs gesond van lyf en lede, en in staat om uit die lewe miskien so hier en daar tog `n aangename dag te ontrafel, dan reën dit al van alle kante stapels wette van allerlei soort, en met die aangename dag is dit gedaan! Want as ek hom deurgebring het, dan het ek teen `n aantal wette gesondig wat daarna my kwellende gewete aktiveer; maar het ek die wette voor oë gehou, wel, dan bly daar van die aangename dag ook niks meer oor nie! Ja, waarom is dit alles dan so?

[6.220.13] Ek glo nou wel, dat u die Een is wat ons volledig kan help; maar wat gebeur daar met die tallose talle ander mense wat op hierdie aarde lewe? Wie sal hulle help? En waarom was ons Judeërs en die Grieke en Romeine nie vroeër geholpe nie?'

Desktop Kommentaar