Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Siel en liggaam

[6.219.1] (Die Romein:) 'Ons reis na Memphis en kry onderdak, wat die plaaslike owerste en goewerneur ons in sy groot paleis besorg. Gedurende die eerste drie dae bekyk ons die stad, haar omgewing en die ou tempel met haar entourage (omliggende dele), wat ons Romeine natuurlik baie interesseer.

[6.219.2] Op die derde dag, nog baie vroeg, merk ek dat daar iets homself in my groot slaapvertrek ophou en beweeg. Ook die bediendes wat by my wag gehou het, bemerk dit. Ek vra hulle dadelik wat dit was, en wat dit beteken. Maar die bediendes weet dit nie en sweer dat hulle so-iets nog nooit voorheen waargeneem het nie. Dit lyk nou eers soos `n skaduwee op die muur en dan weer rook wat van die vloer van die kamer af opstyg en heen en weer sweef asof dit deur `n ligte sagte windjie beweeg word. Daar kon egter niks maklik aan die brand raak nie, omdat bykans alles van klip was, selfs die tafels, beddens en stoele. Ons staar `n tydjie in stomme verbasing na die skynbare spel van die natuur, en elkeen wag met `n sekere angs op wat uiteindelik daaruit sou voortkom.

[6.219.3] Dit duur egter nie baie lank tot die skaduwee- en rookspel opeens verdwyn nie. Daarna word `n sterk geruis hoorbaar en `n baie jeugdige maar origens baie bedroefde uitsiende vroulike gedaante kom te voorskyn; deur haar vreemde klere lyk sy soos `n vrou uit die ou Egipte.

[6.219.4] Ek skep moed en vra haar met die stem van my hart wie sy was, en wat sy hier wou hê.

[6.219.5] Oombliklik rig die wese haar op en sê: 'Ek is `n dogter van Sesostris en my naam is Isia. Jy is ook van dieselfde stam en jy kan my vrymaak uit hierdie vesting van ellende en vertwyfeling waarin ek al `n lang aardse tyd bly. Vertel my van `n egte, ware God! Slegs Hy sal my kan bevry van hierdie lang kwelling; maar jou en my gode is maar net dooie gedagtes van die blinde mense.'

[6.219.6] Ek (Agricola) sê: 'Rig jouself dan tot die God van die Judeërs!'

[6.219.7] Toe ek dit gesê het, word die gedaante heeltemal wit en verdwyn.

[6.219.8] Wat daar verder gebeur het, is egter nie hier tersake nie. Die verskyning was hierdie keer vroulik en het presies gelyk soos `n meisie van hoogstens drie-en-twintig jaar. As dogter van Sesostris het sy beslis ook eens liggaamlik op hierdie aarde geleef, en dit sou my baie verwonder het as sy nie volkome soos haar toenmalige liggaamlike gedaante gelyk het nie.

[6.219.9] Maar dit lewer tog wel `n volledige en onomstootlike bewys, dat elke liggaamlike mens ten eerste `n onsterflike siel het, en dat sy tydens die lewe van die liggaam die hele liggaam bewoon, en na die vergaan van die liggaam self heeltemal dieselfde gedaante het as wat sy vroeër in die liggaam gehad het. Meer het julle nie gevra nie, en dus het ek julle ook niks verder te vertel nie.

[6.219.10] Maar dat die siel die hele liggaam van die mens inneem, kan ek julle deur nog `n self beleefde gebeurtenis bewys, luister dus verder!

[6.219.11] Ek ken in Rome `n man wat in `n veldslag `n been tot bo sy knie verloor het en in die lewe gebly het. Toe ek die man vra of hy nooit meer iets van die verlore been, soos die ware gevoel vanuit sy herinnering, merk nie, en of hy voel dat hy geen been het nie, sweer die man dat dit vir hom voel asof hy heeltemal geen been kwyt was nie. Deur die gevoel het dit hom al meermale oorgekom dat hy op die voet, wat daar nog steeds blyk te wees, wou gaan staan, en daardeur het hy ook al `n aantal kere behoorlik hard geval.

[6.219.12] Uit die ware voorval kan ook weer dadelik tot die slotsom gekom word dat die siel, in die eerste plek die hele liggaam deurdring en geen ledemaat verloor nie, ook al word die liggaam heeltemal vermink, en ten tweede dat die siel self onsterflik is en na die liggaamlike dood verder bly lewe en haar verder ontwikkel.

[6.219.13] Ek glo dat ek julle vraag nou heeltemal ordelik beantwoord het. Ek sal julle nog wel `n aantal sulke feite uit die ou tye en van alles oor ons bekende volke kon vertel; maar dit sou die waarheid van my antwoord nie vergroot nie. En dus het ek ook hierdie vraag heeltemal volledig beantwoord en kan julle my nou wel die vyfde vraag stel! Wat dink julle daarvan?'

[6.219.14] Die Skrifgeleerde sê: 'Dat jy hierdie vierde vraag buitengewoon goed beantwoord het, moet ons almal toegee. Maar ons gee ook toe dat ons jou geen vrae meer kan stel nie; want jy is `n uitermatige geleerde man met baie ervaring, by wie ons almal in die leer sou kon gaan. Wat moet of kan ons jou nog verder vra?! Ons sal jou die honderd pond goud betaal en daarmee hou die saak op.'

[6.219.15] Die Romein sê: 'Beste! Inmiddels kan ons hierdie geskiedenis wel laat vir wat dit is, omdat julle nou kan insien dat ons Romeine nie so dom is as wat julle gewoond was om van ons aan te neem nie. Julle het nou gesien dat ons alles deeglik ondersoek en daarby die gevinde goeie en ware behou. Maar omdat julle nou goed daarvan oortuig is, vra ek julle: Het ek gelyk, as ek julle nou julle groot dwaasheid verwyt om die Elohimmens wat daar sit, nie as sodanig te wil en te kan erken vir wat Hy volgens my mening onteenseglik is nie?'

[6.219.16] Die Fariseërs sê: 'Beste, werklik baie wyse vriend! Dit wil ons ook, en ons is selfs heimlik daarvan oortuig dat die Galileër baie goed die beloofde Messias kan wees en ook sal wees; maar ook ons kan `n ou spreekwoord van julle aanhaal, en dit lui: Ultra posse nemo tenetur.* En dit is by ons die geval. Ons kan dit nie glo vanweë die betrekking wat ons jammer genoeg beklee nie. Want as ons openlik sy leerlinge sou word, sal ons deur die tempel, sonder enige oorweging, vervloek en uitgestoot word. Waarheen moet ons dan, en wat doen ons dan, en wie sal ons kos en inwoning gee? *`n Mens moet van niemand meer verwag as wat hy kan nie.

[6.219.17] Ja, as iemand kon lewe soos `n voël in die lug, dan sou dit baie maklik gewees het om `n leer te aanvaar, wat op sigself wel vol van die suiwerste waarheid is, maar absoluut die teenoorgestelde is van ons huidige Judeërdom! Ons kan dit dus maar net heel in die geheim vir onsself aanneem en glo. Na buite toe moet ons daarteen wees, omdat ons anders niks sou hê om van te lewe en êrens te woon nie. Wie dit bedink, sal beslis goed kan insien wat ons kan of nie kan doen nie.'

[6.219.18] Die Romein sê: 'Hierdie verontskuldiging van julle is so waardeloos en so leeg soos `n uitgeblase eier en bevat nie die minste rede om julle van die aanneem van die waarheid af te kan hou nie. Want noudat julle weet en wel moet erken wie hierdie Elohimmens is, kan julle tog onmoontlik vra wat julle sal eet, waarmee julle julleself sal klee en waar julle sal woon. As die hoogste Gees van God in Hom woon, wat hemel en aarde geskape het en alles onderhou en bestuur, en as elke asemhaling en elke polsslag slegs van Hom afhang, dan sal Hy ook wel diegene wat in Hom glo en Hom liefhet alles gee wat hulle vir hulle liggaamlike lewensonderhoud nodig sal hê.

Desktop Kommentaar