Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Oor die Hooglied van Salomo

[6.217.1] Na lang vrae en beraadslaging kom hulle op die gedagte om die Romein te vra hoeveel sandkorrels daar in die see is en hoeveel grasspriete daar op aarde is.

[6.217.2] Die Romein sê: 'Slegs dwase en mense wat nooit nadenkend is, of nie hulle verstand gebruik nie, kan so `n vraag stel, waarvan die numeriese korrekte antwoord self ewiglik vreemd en volkome onbekend vir hulle sal bly en ook moet bly, ten eerste, omdat die tel daarvan om baie verstaanbare redes vir elke sterfling volkome onmoontlik is; en ten tweede - gestel dat byvoorbeeld die tel van die gras op aarde moontlik sou wees - omdat daar tans tog geen enkele getal aan ons bekend is, wat die totaal van die gras op die hele aarde sou kon weergee nie; en uiteindelik ten derde - gestel dat ek julle deur `n bykans eindelose reeks van ons bekende grootste getalle en syfers die totaal van die sand in die see en die gras op aarde sou meedeel - bly daar nog die vraag: Wie sal kan sê of ek die oneindige groot getal te hoog of te laag aangegee het? En as iemand dit kan sê, dan is ek as hoë Romein en deur die keiser met baie staatsmag voorsien, volkome gemagtig om van my teenstander op lewe en dood die volledig rekenkundige bewys of teenbewys te eis, wat geen mens aan my, maar slegs God sou kon gee; want die man sou eers onder toesig van baie getuies die sand en die gras moes tel, wat tog heeltemal onmoontlik sou wees, sowel volgens die elementêre verhoudings as vanweë die menslike leeftyd, en dus kan julle my in duisend en nogmaals duisend jaar absoluut geen geldige teenbewys lewer nie.

[6.217.3] Waarom so `n belaglike vraag, waar die mossies op die dak die onsin daarvan moet kan insien? Julle kan my maar net sulke dinge vra waarvan julle kan bewys dat julle dit self presies weet en hoogstens kan vermoed dat ek nie daarvan op die hoogte is nie. Maar met vrae waarop ek kan antwoord wat ek wil, en waarvan julle my nooit bewyse kan gee dat ek julle `n onware antwoord gegee het nie, verslaan ek julle die maklikste! Julle het dus nou met julle tweede vraag nog meer afgegaan as met die eerste; gee my dus nou `n derde, maar verstandige vraag!'

[6.217.4] Nou begin die volk te juig vanweë die domheid van die skrifgeleerde en hulle prys die Romein vanweë sy nugter, helder verstand. Maar die Romein vra vir stilte, omdat hy nog nie klaar was nie. Wanneer hy klaar sou wees, kan hulle na hartelus jubel. Toe word die volk weer rustig, en die Romein vra vir die derde vraag.

[6.217.5] Na `n kort pouse vra die Skrifgeleerde aan die Romein: 'Omdat jy so besonder baie van ons Skrif af weet, vra ek jou of jy die Hooglied van Salomo ken en wat die betekenis daarvan is.'

[6.217.6] Die Romein sê: 'O ja! Die lied is vanweë sy sterk poëtiese karakter en mistiek reeds vir lank baie geliefd by my. Ek verstaan tot op hede nie die diep sin daarvan volledig nie, maar omdat ek Hom nou gevind het op Wie dit uitsluitend van toepassing is, verseker ek julle dat daar geen vers in voorkom wat vir my nie so duidelik is as die son op die middel van `n onbewolkte dag nie. As julle dit aangenaam vind, wil ek vir julle hier, waar al die volk by is, dadelik `n voorbeeld daarvan gee dat ek die lied nou goed verstaan.'

[6.217.7] Toe dink die Skrifgeleerde dat hy die Romein liewer nie verder daaroor moet uitvra nie, want hy het goed gemerk dat die Romein alles baie sinvol op My en My leer betrek, wat tog die nuwe gemeente (kerk) is wat in My haar gesogte vriend gevind het, en My uitgenooi het as gas van die liefde en die lewe.

Desktop Kommentaar