Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[3.123.3] Die hout sal die stil gloed baie vinnig sover bring dat daar klein vlammetjies sal ontstaan. Hierdie vlammetjies sal dan weldra op die hout oorspring en dan ontvlam alles tot `n helder vuur en die hart word helder verlig en verkry nuwe lewenswarmte. Dan eers praat die daardeur gewekte God eenderse gees in die hart:

[3.123.4] 'O Jy my heilige Vader in die hemele! Jou Naam sal geheilig word! Laat Jou Vaderliefde kom na ons arme dooie en nagvolle sondaars! Jou enig heilige wil geskied hier op hierdie Jou aarde soos in al Jou hemele! As ons teen Jou ewige, heilige orde gesondig het, vergeef ons dan die dwaasheid en wees geduldig en toegewend met ons, soos ook ons met diegene geduld en begrip toon wat ons op die een of ander wyse onreg aangedoen het! Moet dit tog net nie toelaat dat ons in ons liggaamlike swakheid enigsins bo ons vermoë deur die wêreld en deur die duiwel versoek word nie, maar verlos Jy ons deur Jou groot genade, liefde en barmhartigheid van die duisendvoudige soorte kwaad waardeur ons liefde tot Jou, o heilige, groot, goeie Vader, vertroebel en verswak sou kan word! Maar as ons honger en dorstig is, sowel geestelik as liggaamlik, dan gee Jy, goeie, liewe Vader, vir ons wat ons volgens Jou heilige goeddunke daagliks nodig het! Aan Jou al my liefde, alle eer en alle lof vir ewig en ewig! {mt.06,09-13; lk.11,02-04; mk.11,25-26: jl.ev10.032,06**; jl.ev08.092,05-06*; jl.him1.293,08-294,17*; jl.ev11.338-339; jl.him2.160-168; jl.ev03.123,04; jl.ev01.076,02; jl.ev01.155,16-17; jl.ev08.140,04-08; jl.ev09.210,03; jl.rbl2.248,14; jl.bmar.179,01-03; LGeh.104; jl.KenZ.152; VatB.160}

[3.123.5] Kyk, dit noem ek bid. ‘n Gebed het slegs dan enige waarde voor God indien daar vooraf in die diepste diepte van die hart op die hiervoor beskrewe wyse, die liefde tot God in helder en vurige vlamme oorgaan deur die eenwording van alle gedagtes en gevoelens in die goddelike sentrum van die hart. As hierdie voorbereiding ontbreek, is elke gebed van nog sulke mooi woorde voor God `n gruwel en sal nie aangesien en nie aangehoor word nie.

[3.123.6] Want God Self is `n gees en moet daarom in die gees van die liefde en in die helderste vlammelig van die waarheid aanbid word. - Verstaan jy nou wat waaragtig bid is volgens my gevoel en my begrip?"

[3.123.7] Mathael sê: "O lieftallige meisie! Wie sou dan ooit by jou so `n diepe wysheid verwag het!? Werklikwaar, ek sou eerder jou dissipel kan wees, en ek skaam my nie in die minste om dit hier voor elkeen hardop en openlik te beken nie! Ja, nou verstaan ek eers jou onoorwinlike aanhanklikheid tot die Here en vice versa (omgekeerd), soos wat die Romeine sê! Dit lyk dat jy net soos ek ook baie vinnig deur die Here gewek was?!"

[3.123.8] Jarah sê: "Wie God die Here bo alles liefhet, word vinnig en maklik gewek. Maar wie Hom met die verstand soek om Hom lief te hê, wanneer hy Hom eers eenmaal so behoorlik met die verstand rotsvas gevind het, het `n groot en vergeefse werk op hom geneem, waarmee hy nooit die gewenste doel op hierdie wêreld bereik nie. Daarom het ook jy so vinnig God se kragtigste barmhartigheidslig bereik, want in die hart van jou siel moes die vlamme nogtans hoog gebrand het, ofskoon jy liggaamlik `n hele tyd deur die bose geeste van die hel beheers was!"

[3.123.9] Mathael sê: "Ja, goddelike kind, daarmee is jy baie reg! Ek het God reeds vanaf my kinderjare bo alles liefgehad, waarom my ouers my ook vir die diens in die tempel laat inwy het, waar my liggaam eerste tot `n ware helse masjien omvorm was, terwyl my siel ondanks dit nogtans gebly het wat sy vanaf die oerbegin van haar bestaan was. Maar daaroor wil ek geen verdere woord meer praat nie, want ek herinner my nie graag daaraan nie. - En sê jy nou eers, liefste Helena, hoe hierdie wyse meisie jou geval! Is dit nie verbasingwekkend dat die kind so wys is nie?"

[3.123.10] Helena sê: "Waar en wie is tog haar ouers?"

[3.123.11] Mathael antwoord: "Wel, wel, dit is mos alles reeds bekend en jy het haar hier aanwesige vader Ebahl, `n herbergier uit Genesareth, al gisteraand benede by julle drie tente gesien en mee gepraat! Het jy dit dan al vergeet? Sê my liewer hoe jy die buitengewoon kernagtige wysheid van die meisie vind, en of jy nie ook soos ek `n lewendige verlange voel om net so wys te wees soos hierdie allerliefste, bekoorlike kleintjie nie! Waarlik, ek weet baie, - maar die kind weet meer! In my gemoed sien ek dat haar kuis bors dinge bewaar, waarvan ons nog geen floue idee het nie. Maar dit lyk nie vir my dat Rafael by haar so hoog aangeslaan is nie! Hoe geval dit alles vir jou my bekoorlike eggenote Helena?"

[3.123.12] Helena sê, in plaas van opgewek en vrolik, heel weemoedig: "O liewe Mathael, sover sal die arme Helena dit nooit bring nie! Dit lyk wel of die hart van die Almagtige sonder meer in die hart van die meisie sit, want so `n ervaring in die sfeer van die mees innerlike lewe met God kan `n mens maar net uit die mond van die Skepper Self verneem! En dan is dit heel verstaanbaar dat sy die engel nie so hoog aanslaan nie, want wat egte wysheid betref is hulle so gelyk aan mekaar soos die een oog aan die ander. Dit ly geen twyfel nie dat die engel deur die Here `n oneindige mag en krag besit, maar of hy uit liefde tot die Here meer wysheid het as die meisie, wil ek sterk betwyfel.

[3.123.13] Ek sou wel met haar wou praat as ek nie so `n besonder groot ontsag vir haar wysheid gehad het nie! Want ons kon baie maklik net `n enkele onnosele woord voor die meisie laat val en uit haar mond sodanige teregwysing ontvang, dat ons ons lewe lank geen woord meer oor ons lippe sal laat gaan nie.

[3.123.14] As die meisie arm sou wees, sou ek alle skatte vir haar wou gee wat ek by my het. Maar gesien die taamlik kosbare kleding skyn sy `n kind van welvarende ouers te wees, en `n geskenk van my sou by haar sekerlik geen goeie byval vind nie. Haar ongelooflike wysheidsdiepte verag elke wêreldse prag nog baie meer as ons, en in besonder ek wat nie in staat sal wees om vir haar ook net die kleinste waterdruppel wysheid aan te gee nie!

[3.123.15] Ek het die meisie onbeskryflik lief, maar haar nabyheid besorg my tog behoorlik angs en vrees.

[3.123.16] Maar vir die aanwysing, hoe `n mens op die regte manier tot God moet bid, is ek groot dank aan haar verskuldig. Maar hoe sal ek die kind nou op ‘n paslike wyse daarvoor bedank?"

[3.123.17] Jarah, wat intussen met Rafael in gesprek was, sê: "Liewe, geëerde koningin, wees lief vir my soos wat ek vir jou lief is, - meer is nie nodig nie! Wat alle skatte van die wêreldse vir my beteken, dit weet jy in elk geval en het dit vantevore ook heel wys uitgespreek. As dit werklik nodig was dat ons mekaar deur middel van growwe, stoflike, skatte tegemoet moes kom, dan sou ek vir jou beslis baie groter skatte kan gee as jy vir my. Maar wat is al hierdie wêreldse prag vergeleke met die kleinste vonkie van die ware, lewende liefde tot God in ons hart!? Vriendin, daardie juweel moet ons suinig in ons hart bewaar, behoed en versorg, om dit nie van ons te vervreem nie! As die prag, die reinheid en die lewensintensiwiteit daarvan altyd in ons toeneem, besit ons meer as wat alle hemele kan bevat! - Verstaan u dit?"

Desktop Kommentaar