Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Hoofstuk 100

Die wat in My glo, sal die dood nie smaak nie

[3.100.1] Nadat ons die aandete geniet het, kom Ouran, wat ook bo geëet het, na My toe en sê: "Here, vir wie se grootheid en verhewenheid die sterflike tong geen naam ken wat Jou waardig sou wees nie, hoe kan ek, ellendige stofwurm, Jou dank vir die nooit genoeg te waardeerde gawe wat Jou goddelike barmhartigheid my hier geskenk het, en hoe moet ek Jou, Ewig Verhewene, loof, prys en eer!?

[3.100.2] O Meester, waarom skenk Jy ons, sterflikes, soveel aandag?! Wat kan ons nou doen om Jou welgevallig te word?"

[3.100.3] Ek sê: "Kom nou, vriend, moenie soveel ophef maak nie! Want sien, jy is wat jy is, `n mens, met wel `n sterflike liggaam, maar waarin daar ‘n onsterflike siel en `n nog meer onsterfliker gees uit God woon. En Ek is ook `n mens, eweneens met `n goddelik onsterflike siel waarin die Gees van God in al Sy volheid woon vir sover dit vir hierdie aarde nodig is, en dit is die Vader in die hemel, wie se Seun Ek is en wie se kinders ook julle is.

[3.100.4] Maar julle was almal blind en is dit in baie opsigte nou nog. Ek kom egter siende in die wêreld om julle almal die Vader te toon en julle, net soos Ek, siende te maak.

[3.100.5] Ek het die volheid van die lewe van die Vader verkry en Ek kan elkeen, wat die lewe wil hê, ook die lewe gee. Want die Vader het reeds vóór die skepping van die wêreld My verorden as die Een waarin die volheid van die lewe sal woon en dat alle mense deur My sal lewe. En hierdie Verordende is Ek volgens My siel, maar volgens My gees is Ek één met Hom wat My verorden het.

[3.100.6] Kyk, daarom is Ek die weg, die waarheid en die lewe! Die wat in My glo, sal die dood nie sien, nog voel of proe nie, ook al sou hulle meer as één keer liggaamlik kon sterwe. Maar diegene wat nie aan My sal glo nie, sal sterwe, al sou hulle ook duisend lewens hê!

[3.100.7] Want elke mens het `n liggaam wat op ‘n dag sal moet sterwe - dit sal ook vir hierdie My liggaam nie uitbly nie. Maar die siel word met die aflegging van die liggaam net vryer, helderder en lewenskragtiger, en volledig één met Hom wat haar vóór die skepping van die wêreld verorden het tot heil van almal wat in die Seun van die mense sal glo en Sy gebooie sal hou.

[3.100.8] Dink dus ordentlik, en volg die eenvoudige gebooie na wat jou meegedeel sal word. Meer het jy nie nodig nie, want Ek het nie uitgegaan om roem en eer van mense te verlang nie! Dit is voldoende as die Een My prys, wat bo almal in die hemel en op aarde is. As iemand My wil eer, loof en prys, laat hy dan deur sy dade laat blyk dat hy My liefhet en laat hy My gebooie onderhou, dan sal sy loon eendag in die hemel groot wees.

[3.100.9] Wees dus opgewek en blymoedig, moet nie vir My oorskat nie en moet jouself nie te veel onderskat nie, dan sal jy op die regte wandel en sal jouself en My stadig maar seker beter leer ken.

[3.100.10] Maar voorlopig luister veral na Mathael. Hy sal jou tesame met jou dogter die vinnigste `n goeie stuk op die regte pad vooruit help! As jy of Helena egter `n spesiale versoek het, kom dan gerus na My toe, dan sal Ek altyd na julle luister. Maar daardie oordrewe eerbetoon moet julle weglaat.

[3.100.11] Want sien, ons moet hier slegs as mense, vriende en broers met mekaar praat en met mekaar omgaan, want élke mens het `n goddelike gees in hom, waarsonder hy geen lewe sou hê nie, en sodanige gees is nie minder goddelik as die oergoddelike gees self nie.

[3.100.12] Wees jy dus `n goeie dissipel van Mathael, dan sal jy vir My in jou land `n heel bekwame apostel kan wees! - Verstaan jy My?"

[3.100.13] Ouran sê: "Ja, Here, ek verstaan jou. Eers nóú word dit vir my duidelik wat mense vir my en my dogter oor die ware God vertel het. Voorheen het ek nooit gewaag om so daaroor te dink nie!" Toe het die Griek geswyg, want sy gevoelens het hom oormeester en hy het uit liefde vir My geween.

[3.100.14] Maar Ek vat saggies sy hand en vra hom: "Wat het Mathael dan presies oor God gesê?"

[3.100.15] Ouran snik nog, maar sê tog, terwyl hy My vol liefde en eerbied in die oë kyk: "O, dat God uit suiwer liefde bestaan! O, mees Heiligste, laat my in hierdie liefde vir jou sterwe!"

[3.100.16] "Nee" sê Ek, "dit sal jy nog lank nie, want jy sal nog `n bekwame werktuig vir My op hierdie aarde word! En as die einde eendag ook vir jou liggaam sal kom, sal jy nie sterwe nie, maar nog in jou liggaam deur My opgewek word. Daarom wees getroos, want jy het die goeie weg al gevind!

[3.100.17] Wie soek, soos jy al lankal gesoek het, hy sal vind. Wie vra, soos jy, vir hom sal gegee word, en wie aan die regte deur klop, soos jy nou aangeklop het, vir hom sal oopgemaak word. Maar gaan nou na Mathael en vertel hom alles wat Ek jou nou gesê het!" {mt.07,07-08; lk.11,09-10: jl.bmar.179,14; jl.ev01.145,04-05; jl.ev02.137,16; jl.ev03.100,17; jl.ev05.267,03; jl.ev08.069,02; jl.ev08.108,11-14; jl.ev11.007,10;}

Desktop Kommentaar