Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die Heer kyk met die kommandant op `n heuwel na die aanbrekende oggend

[10.40.1] Na die maaltyd bedank die kommandant, sy vrou en sy dogter Veronica My vir alles wat hulle deur My bereik het.

[10.40.2] Ek sê: “Enersyds het julle geloof julle gehelp en andersyds het Ek deur jul geloof en deur julle vinnig ontbrande liefde vir My en daarmee ook vir Die Een wat in My woon en wat julle nog duideliker sal leer ken wanneer My Gees van ewige waarheid en wysheid binnekort oor julle uitgegiet sal word. Maar nou moet ook julle na julle huis gaan en tot môre rus; maar kom weer hierheen, dan sal ons nog oor baie dinge met mekaar spreek!”

[10.40.3] Daarop staan die kommandant en almal wat by hom was op, gee My alle eer en begewe hulle na hulle woninge; daar praat hulle nog enkele nagtelike ure lank met mekaar oor alles wat daar oordag gebeur het.

[10.40.4] Die ou rabbi en die Griekse herbergier bly nog tot middernag by ons en spreek in `n hoek van die kamer met mekaar oor die ongeloof van sommige Judeërs, wat tog die naaste aan die waarheid sou moes staan.

[10.40.5] Die rabbi sê ten slotte: “Dit bevestig ook die uitspraak van die profeet: “Vir wêreldse wyses en verstandiges bly dit verborge, en aan onmondige kinders word dit geopenbaar! “Van ouds het die kinders van die lig altyd by vol bakke met ligtebrood uit die hemele gesit en het geen honger hoef te gely het nie; maar omdat hulle nooit honger en dors hoef te gely het nie, vergeet hulle die hoë waarde van die spyse uit die hemele en wend hulle hulleself na die walglike spyse van die wêreld, soos wat ek dit self helaas ook gedoen het.

[10.40.6] Maar die heidene met hulle honger na lig merk hoe die uitverkore kinders van die lig hulle hemelse kos steeds meer die rug begin toekeer, en hulle kom om hulle meester te maak van die vol skottels. Met groot ywer lees hulle ons boeke en versadig hulle op die manier alreeds met ons brood uit die hemele, en daarom is hulle nou baie sterker as ons en het die Heer ook baie makliker en met meer sekerheid herken as ons. Maar Hy sal ook deur ons Judeërs herken word.”

[10.40.7] Sowel die Judese as die Griekse herbergier gee die rabbi gelyk en begewe hulle daarna ter ruste.

[10.40.8] Ek rus ook hierdie nag saam met die leerlinge tot die oggend aan die eettafel.

[10.40.9] In die oggend staan Ek op van die tafel en laat die leerlinge rus. Ek begeef My vinnig na buite, en wel tot buite die ander end van hierdie stad. In die huis weet niemand waar Ek heengegaan het nie.

[10.40.10] Alleenlik `n dienaar van die kommandant sien My deur die stad wandel en bring dit vinnig oor aan die kommandant, wat al wakker was. Hy verklee hom vinnig en kom My vlugtig agterna in die rigting wat die dienaar vir hom aangedui het.

[10.40.11] Toe hy by die genoemde end van die stad kom, sien hy My op `n heuwel. Vinnig klim hy die heuwel op na My toe.

[10.40.12] By My gekom, buig hy diep voor My en vra wat My daartoe kon gebring het om sonder leerlinge `n oggendwandeling na hierdie oostelike sy van die stad Pella te maak.

[10.40.13] Ek sê: “Wees maar `n klein bietjie geduldig, dan sal jy dit straks goed te wete kom! Laat die son nou eers bokant die horison kom, dan sal Ek jou daarna onthul waarom Ek hierdie oggend die punt uitgekies het!”

[10.40.14] Daarop neem ons plaas op `n gladde blok basalt, vanwaar ons in alle rus die gebeurtenisse van die oggend in oënskou kon neem.

[10.40.15] Goudomrande wolke swewe bokant die horison, waar, vanaf ons plek gesien, baie min berge was met `n hoogte van enige betekenis, omdat die land vanaf ons stad al gedeeltelik vlakker begin te word in die rigting van die verre Eufraat woestyne; maar daar was die opgang van die son des te mooier, omdat hy as’t ware vanuit `n diepte in bloedrooi kleure opstyg en in `n westelike rigting die hoë bergtoppe begin te kleur, wat die kommandant ook baie prys as `n pragtige skouspel van die natuur.

[10.40.16] Tog vra hy My hoe Ek, wat tog elke oomblik oor alle eindelose en baie groter skoonhede van die hemel kon beskik, welbehae kon hê aan hierdie aardse natuurlike skoonhede.

[10.40.17] Ek sê vir hom: “Vriend, as die Heer Self geen welbehae sou hê aan Sy werke nie, wie sou dit wel hê? Of dink jy dat die Heer al die werke sou geskape het, as Hy hulle nie al baie lank vooraf duidelik in Sy gees gesien het en daar `n buitengewoon groot welbehae in gehad het nie? Maar as jy sien dat Ek welbehae het aan die oggendtafereel, dan sal die rede daarvan vir jou nou goed duidelik wees?”

[10.40.18] Die kommandant sê: “Kyk, o Heer en Majesteit, as ek nou U antwoord oordink, wat tog helderder is as die helderste waterdruppel, verbaas ek my oor my eie domheid, dat so-iets nie vanself in my origens tog nie so swak verstand opgekom het nie, omdat ek immers nie alleen vas glo nie, maar ook oortuig is wie ek in U so onmeetlike barmhartigheid is!”

[10.40.19] Ek sê: “Maak jou nie daaroor bekommerd nie; want die wêreld is so deur My ingerig, dat alles hulle baie geleidelik aan moet ontplooi en ontwikkel! Kyk na die ontstaan van die dag, kyk na die ontwikkeling van die plante, die diere en ten slotte nog meer van die mense; dan sal jy maklik begryp om welke rede dit vir jou by jou eerste binnekoms in My ryk nie alles so duidelik kan wees as wat dit vir jou later sal word nie, wanneer My Gees hom meer en meer in jou sal uitbrei en jy in één oomblik meer sal inneem, en beter begryp as wat jy tot nou toe kon, deur jarelank te dink! Daaroor kan jy nou dus heeltemal gerus wees, omdat jy jou al op die beste weg bevind! Laat ons daarom nou verder na die taferele van die mooi oggend kyk!”

Desktop Kommentaar