Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die Heer kyk met die kommandant op `n heuwel na die aanbrekende oggend

[10.40.1] Na die maaltyd bedank die kommandant, sy vrou en sy dogter Veronica My vir alles wat hulle deur My bereik het.

[10.40.2] Ek sê: “Enersyds het julle geloof julle gehelp en andersyds het Ek deur jul geloof en deur julle vinnig ontbrande liefde vir My en daarmee ook vir Die Een wat in My woon en wat julle nog duideliker sal leer ken wanneer My Gees van ewige waarheid en wysheid binnekort oor julle uitgegiet sal word. Maar nou moet ook julle na julle huis gaan en tot môre rus; maar kom weer hierheen, dan sal ons nog oor baie dinge met mekaar spreek!”

[10.40.3] Daarop staan die kommandant en almal wat by hom was op, gee My alle eer en begewe hulle na hulle woninge; daar praat hulle nog enkele nagtelike ure lank met mekaar oor alles wat daar oordag gebeur het.

[10.40.4] Die ou rabbi en die Griekse herbergier bly nog tot middernag by ons en spreek in `n hoek van die kamer met mekaar oor die ongeloof van sommige Judeërs, wat tog die naaste aan die waarheid sou moes staan.

[10.40.5] Die rabbi sê ten slotte: “Dit bevestig ook die uitspraak van die profeet: “Vir wêreldse wyses en verstandiges bly dit verborge, en aan onmondige kinders word dit geopenbaar! “Van ouds het die kinders van die lig altyd by vol bakke met ligtebrood uit die hemele gesit en het geen honger hoef te gely het nie; maar omdat hulle nooit honger en dors hoef te gely het nie, vergeet hulle die hoë waarde van die spyse uit die hemele en wend hulle hulleself na die walglike spyse van die wêreld, soos wat ek dit self helaas ook gedoen het.

[10.40.6] Maar die heidene met hulle honger na lig merk hoe die uitverkore kinders van die lig hulle hemelse kos steeds meer die rug begin toekeer, en hulle kom om hulle meester te maak van die vol skottels. Met groot ywer lees hulle ons boeke en versadig hulle op die manier alreeds met ons brood uit die hemele, en daarom is hulle nou baie sterker as ons en het die Heer ook baie makliker en met meer sekerheid herken as ons. Maar Hy sal ook deur ons Judeërs herken word.”

[10.40.7] Sowel die Judese as die Griekse herbergier gee die rabbi gelyk en begewe hulle daarna ter ruste.

[10.40.8] Ek rus ook hierdie nag saam met die leerlinge tot die oggend aan die eettafel.

[10.40.9] In die oggend staan Ek op van die tafel en laat die leerlinge rus. Ek begeef My vinnig na buite, en wel tot buite die ander end van hierdie stad. In die huis weet niemand waar Ek heengegaan het nie.

[10.40.10] Alleenlik `n dienaar van die kommandant sien My deur die stad wandel en bring dit vinnig oor aan die kommandant, wat al wakker was. Hy verklee hom vinnig en kom My vlugtig agterna in die rigting wat die dienaar vir hom aangedui het.

[10.40.11] Toe hy by die genoemde end van die stad kom, sien hy My op `n heuwel. Vinnig klim hy die heuwel op na My toe.

Desktop Kommentaar