Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die leerlinge en die Heer onderrig die inwoners van Pella

[10.39.1] Na die maaltyd, wat meer as `n uur geduur het, loop Ek met die kommandant in die stad rond en maak alle siekes gesond, en steeds meer volk volg My. My leerlinge bly egter in die herberg en onderrig die Judeërs.

[10.39.2] Teen die aand keer Ek saam met die kommandant weer na die herberg terug, waar die leerlinge nog volstoom met die Judeërs in gesprek was. Hulle begin My ten slotte tog as die beloofde Messias beskou, maar kon daarby tog nie begryp waarom Ek met so `n onopvallende verskyning in hierdie wêreld gekom het nie, omdat immers die groot koning Dawid as volg oor My gespreek het: “Maak die poorte wyd en die deure hoog, sodat die koning van ere kan binnekom! Wie is die koning van ere? Dit is die Heer JaHWeH Sebaot!”

[10.39.3] Hulle, die Judeërs van Pella, wis egter nie dat daar by My koms in hierdie wêreld in die een of ander stad `n poort verwyd en `n deur verhoog was nie.

[10.39.4] My leer en die tekens wat Ek doen, stem wel ooreen met, veral die profeet Jesaja en die profeet Esegiël oor wat oor die beloofde Messias voorspel is; maar My optrede onder die mense op hierdie wêreld kom, volgens hulle, nie volkome ooreen met wat die profete oor die Messias voorspel het nie. En sodoende het die leerlinge dit moeilik met die Judeërs.

[10.39.5] Toe Ek met die kommandant, sy ondergeskiktes, sy vrou en sy geneesde dogter, asook met die geneesde seun van die herbergier die kamer binnekom, val daar `n stilte oor die Judeërs en hulle bekyk My, om te sien of hulle ook iets buitengewoon aan My persoon kon ontdek.

[10.39.6] Maar Ek sê vir hulle: “Die vrede sy met julle! Wat julle by My soek en probeer vind, kom nooit as te nimmer met groot uiterlike vertoon nie, maar dit bevind hom inwendig in die mens.

[10.39.7] Ja, die Judeërs moet by My koms in hierdie wêreld die poorte van hulle harte wyd en die deure van hulle siele hoog maak; maar hulle slaan al sedert `n baie lang tyd geen ag meer op die oproep van Dawid nie. Daarom het hulle ook in die Babiloniese gevangenskap beland en het die slawe van die heidene geword, uit welke slawerny hulle nooit verlos sal word as hulle in hulle ou halsstarrigheid volhard nie.

[10.39.8] Maar daar staan die heidene; hulle wat die poorte van hulle harte by My verskyning wel dadelik wyd gemaak en die deure van hulle siele verhoog het tot ver bokant alle sterre. Daarom sal die lig ook van die Judeërs afgeneem word en sal dit aan die heidene gegee word!”

[10.39.9] Toe Ek dit vir die Judeërs gesê het, vererg sommiges hulle daaroor; maar die heidene hef `n groot lofprysing oor My aan.

[10.39.10] Daarop sê die kommandant baie hardop aan die Judeërs: “Wat bly julle nog ondersoekend daar sit, as julle ondanks alles wat die Heer hier vir ons gedoen het, nog nie kan glo nie?! Trek julle terug in julle duistere kamers en bly in julle ou nag van alle twyfel, en hinder ons nie in hierdie tog al te klein ruimte nie!”

[10.39.11] Op die baie gebiedende woorde van die kommandant trek die meer ongelowige Judeërs hulle terug en gaan na buite; die Judeërs wat gelowiger was, bly egter en wou nog met die leerlinge oor die een en ander spreek.

[10.39.12] Maar Ek sê vir hulle: “Uit die mond van My leerlinge het julle die volle waarheid gehoor, en `n ander, meer uitgebreide waarheid is daar nie; glo dit en handel daarvolgens, so sal julle harte en siele nog breër en hoër verlig word!

[10.39.13] Gaan kyk julle maar net buite by die heidene hoeveel van hulle Ek vanmiddag gesond gemaak het en hoeveel Ek van al hulle lyding bevry het, sodat julle deur die heidene verlig kan word, en nie die heidene deur julle nie! Die lig het weliswaar van die Judeërs uitgegaan - maar die heidene het dit vroeër as die Judeërs gesien en herken; hulle sal die lig daarom ook behou, en die Judeërs sal dit by hulle moet kom haal, as hulle dit wil hê. Gaan julle ook nou dus maar na buite en word deur die heidene verlig!”

[10.39.14] Toe die meer gelowige Judeërs dit uit My mond gehoor het, loop hulle dadelik na buite na die juigende heidene, en hulle hoor hoe hulle die God van Abraham, Isak en Jakob in My hoog loof en prys; en hulle was nie weinig verbaas, toe hulle dit hoor uit die mond van die heidene en hulle geneesde siekes nie. Toe word die meeste Judeërs ook gelowig, gaan na hul huise toe en spreek met mekaar oor alles wat hulle vroeër van die leerlinge gehoor het en wat Ek vir hulle gesê het. Die lowende woorde van die heidene wat hulle harte baie wyer gemaak en die gedagtes van hulle siele verhoog het, het hulle laat begryp wat Dawid met sy Psalm bedoel het.

[10.39.15] Ons neem egter die welbereide aandete tot ons en spreek met mekaar oor die dinge wat die middag alles gebeur het.

Desktop Kommentaar