Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[10.38.4] Toe hy die wyn gedrink het, bars ook hy uit in `n groot lofprysing op die wyn en My mag, en as slot van sy lofprysing, die opnuut gevulde beker hoog opheffend, sê hy (die rabbi): “Ja, U is inderdaad Die Een op wie alle Judeërs en ook die heidene solank al gewag het. Daarom heil U, Seun van Dawid, en heil ook aan alle mense op aarde deur U! Eer julle God in die hoë en eer aan U, Sy Seun!”

[10.38.5] Ek sê: "Nou was jou woorde goed; maar as jy nog eens “Heil die hoë gode van Rome!” sal roep, sal die dood nie ver van jou wees nie! Vir alle mense, of julle nou Judeërs is of heidene, om na waarheid `n vriend te wees is goed en waar, en is ook My wil - want ook Ek laat My son in gelyke mate oor Judeërs en heidene skyn en straal. Maar om mense wat in hulle ou blindheid na lig smag, nog in hulle dwaling te versterk in plaas van hulle uit ware, suiwer en belangelose naasteliefde na die weg van die oerlig te lei, is slegter as om `n dief en `n straatrower te wees. Onthou dit, ou dubbelsinnige leraar, wat die Judeërs die God van Abraham, Isak en Jakob dikwels met vurige ywer laat bely, maar dadelik daarna na die skool van die heidene gaan en teenoor hulle neerhalend handel teenoor die God van Abraham, Isak en Jakob en Hom belaglik maak! Wees óf `n volmaakte Judeër, óf word `n heiden, as jy in die heidendom `n groter bevrediging vind vir jou verkleurmannetjie-agtige siel!”

[10.38.6] Die rabbi sê: “Heer, wees my, groot sondaar teenoor U, barmhartig en betoon medelye, en vergeef my my baie groot sonde!”

[10.38.7] Ek sê: “Wat My aanbetref, is dit jou vergewe; maar sorg daarvoor dat jy ook deur die mense vergewe word, aan wie se siele jy ter wille van die beloning, baie skade toegebring het!”

[10.38.8] Hierop sê die kommandant vir My: “Heer, ek sal die saak wel vir hulle in orde kry, en hy sal nou self goed begryp wat hom in die vervolg te doen staan! Maar ek dink dat ons in die toekoms geen heidense priester meer sal nodig hê nie. Of ons kinders deur heidense of Judese lerare in lees, skrywe en rekene onderrig word, sal wel om te ewe wees, en dus kan hierdie rabbi ons kinders wel in die drie vakke verder onderrig; wat die godsdiens egter betref, sal ek wel self daarvoor sorg dat ons ou veelgodedom so vinnig moontlik in `n Een Elohimgodsdiens verander word. Maar nou vra ek U, goddelike Heer en Majesteit en van nou af aan ons God, of U ons, wat tot nou toe heidene was, die korrekte weg sou wil wys wat ons in die toekoms moet gaan; want tot nou toe is ons nog in die ou duisternis.”

[10.38.9] Hierop begin Ek oor die ryk van God op aarde te vertel en onderrig hierdie heidene in alle dinge op dieselfde manier wat Ek dit op ander plekke gedoen het.

[10.38.10] Die leerrede duur sewe volle ure, dus tot byna drie uur na die middag, en almal glo in My - ook hulle wat buite die huis was, aangesien hulle My woorde deur die oop vensters gehoor het.

[10.38.11] Eers toe Ek My prediking beëindig het, word die middagmaal opgedien, waaraan hulle, wat buite gelowig geword het, ook moes deelneem.

Desktop Kommentaar