Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

[10.35.4] Toe die mense weer vol verbasing en vir `n deel ook vol vrees vir My na hulle huise gegaan het, kom die herbergier na ons toe en sê: “O groot Heer en Majesteit, alles sou nou pragtig, goed en in orde wees, as ek vir julle almal maar genoeg mondvoorraad besit het! Wyn het ek gladnie, maar ek sal in die Griekse herberg ietwat laat haal! Ek het wel ietwat koring- en garsbrood, en eweneens ietwat gerookte skaapvleis; as julle vir vandag daarmee tevrede sal wees, sal ek daarom baie bly wees. More sal daar, na my beste vermoë, beter vir alles gesorg word.”

[10.35.5] Ek sê: ”Vriend, ons het nie hierheen gekom om te eet en te drink nie; maar met wat jy het, sal ons onsself ook tevrede stel. Maak vir jou, wat die wyn betref, geen sorge nie en gaan geen onnodige uitgawes aan nie, maar gaan na jou kelder, en jy sal daar jou leë wynsakke gevul met wyn aantref. Want Die Een wat jou seun kan genees, is ook in staat om jou leë wynsakke met wyn te vul. Gaan nou dus met jou kinders na die kelder, en bring ons `n paar kraffies vol wyn!”

[10.35.6] Vol gelowige verbasing gryp die herbergier dadelik `n paar kraffies, maak hulle skoon, roep toe al sy kinders, asook sy vrou, en vertel hulle wat Ek vir hom gesê het. Toe loop hulle ylings na die kelder, en hoe staan hulle nie almal verbaas nie, toe hulle die voorheen leë sakke vol uitstekende wyn aantref.

[10.35.7] Die kraffies word ook onmiddellik gevul en na ons toe gebring, en opnuut weet die herbergier, sy vrou en sy kinders nie hoe hulle My voldoende daarvoor kon bedank nie. Daarby gaan dit vir hulle nou minder om die wonder as om My wil, dat Ek hulle so gelukkig wil maak; want na die genesing van hulle seun twyfel hulle nie in die minste daaraan dat alles vir My moontlik was wat Ek maar wil hê nie.

[10.35.8] Maar Ek sê vir hulle wat Ek hulle na die genesing van hulle seun ook al gesê het, naamlik dat Ek alleen op die harte let; en toe gaan hulle vol vreugde die kamer uit.

[10.35.9] Die vrou sê vir haar man: “Sê, dit moet `n groot profeet wees! Sou dit miskien die profeet Elia wees, wat weer sal terugkom? Daarom moet ons hom met die hoogste agting en eerbied bedien!”

[10.35.10] Die herbergier sê: “Sorg nou vir die tafel! Of hy nou Elia of selfs nog iets hoërs is - of uiteindelik die beloofde Messias Self, dit is nou voorlopig onbelangrik; nou is dit `n saak om hierdie wonderbaarlike gaste tevrede te stel!”

[10.35.11] Toe gaan iedereen aan die werk om die spyse voor te berei, en die herbergier bring ons brood en vra of ons dit wil eet, wat ons ook doen. Baie gou daarna word die baie goed voorbereide spyse op die tafel gesit, net soos ook verskeie lampe, waardeur die eetkamer baie goed verlig word.

[10.35.12] Ons neem die spyse tot ons, en die leerlinge spreek met mekaar oor die geskiedenis van die Israeliete, in die eerste tyd toe hulle vanuit die woestyn hierdie landstreek binnegetrek het, en oor die oorloë wat hulle met die Moabiete en later met die Filistyne moes voer; die herbergier vertel die een en ander van wat hy weet oor die ontstaan van die ou stad Pella en oor die lotgevalle wat die stad al oorgekom het. Ek rus egter en spreek weinig.

[10.35.13] So verloop daar `n paar uur, en toe sê Ek vir die herbergier, wat vir My `n goeie rusbed bring: “Laat staan maar - ons sal hier aan tafel vertoef en sal ons nagrus hier neem!”

[10.35.14] Dit was vir die herbergier nie onaangenaam nie, omdat hy maar baie matig voorsien was van rusbeddens. Hyself wil ons egter nie verlaat nie en bly die hele nag by ons aan tafel. Die nag gaan baie kalm verby, en niemand word in sy rus gesteur nie.

Desktop Kommentaar