Help

jakob-lorber.cc

Die Groot Johannes Evangelie

Die Heer in die skool in Pella

[10.34.1] Daarna bring hy ons na die sinagoge, waar enkele Judese kinders van `n ou rabbi wat lawwe onderrig in die Skrif kry.

[10.34.2] Ek sê vir die rabbi: “Vriend, op hierdie manier sal jy van hierdie kinders eerder heidene as Judeërs maak! As jy self so sleg tuis is in die Skrif, wat moet die kinders dan van jou leer? Laat die lesgee vir wat dit is en doen iets anders, en kry `n beter leraar om jou plek in te neem en te beklee!”

[10.34.3] Vererg sê die rabbi: “Vriend, ek is hier deur die gemeente tot rabbi gekies! Hulle is tevrede met my, en jy as vreemdeling het niks daarmee te maak hoe ek die kinders onderrig gee nie. Ons lewe hier onder die heidene, en daarom moet ek my leerlinge, behalwe ons Skrif, ook die sedes en gebruike van die Romeine en Grieke bybring en die goeie daarin ook lewend erken, sodat hulle my nie ter verantwoording kan roep nie. Ons is nou eenmaal in hierdie wêreld geplaas en moet naas God, wat vir ons geen manna meer uit die hemele laat reën nie, ook die wêreld dien, as ons van haar wil lewe.”

[10.34.4] Ek sê: “Omdat die Judeërs, net soos jy, God steeds meer begin vergeet het en die wêreld gaan dien het toe Hy nog die manna uit die hemele laat reën het, laat God hulle ook in die harde slawerny van die wêreld beland en in die sweet van hul aangesig hulle skamele brood verdien. En omdat die Judeërs God nou minder trou geword het as die heidene, sal ook die enigste lig wat hulle nog het, van hulle afgeneem word en aan die heidene gegee word.

[10.34.5] Hoe kan jy `n God welgevallige rabbi wees, as jy vandag vir die Judese kinders Judees, en môre in hierdie selfde sinagoge vir die heidense kinders heidense onderrig gee en jou daarvoor laat betaal?”

[10.34.6] Die rabbi begin My as `n klein profeet te beskou, omdat Ek hom dinge voorhou wat Ek, volgens sy mening, as gewone mens en vreemdeling andersins tog nie sou kon weet nie, en hy sê: “As God gee dat ek kan lewe, sonder dat ek ook die heidene hier om brood hoef te vra, sal ek my diens aan die heidene onmiddellik laat vaar!”

[10.34.7] Ek sê: “Vriend, tien jaar gelede was jy, as Judeër in Efraim, nog `n baie welgestelde man, en jy het in oorvloed geëet en gedrink. Waarom het jy destyds al meer vir die heidene as vir die Judeërs gekies?

[10.34.8] Kyk, omdat jy dit gedoen het, sonder dat dit nodig was, het God jou laat afsak en as rabbi vir die heidene in hierdie heidense stad laat kom! Dat jy daarnaas nou, sedert `n paar jaar ook `n rabbi van die Judeërs geword het, het die heidene, wat jou vriendelik gesind is, en nie die arme Judeërs van hier, bewerkstellig nie, en wat ook die vroeëre suiwer Judese rabbi uit hierdie stad weggewerk het.

[10.34.9] Maar Ek sê vir jou dat dit in die toekoms nie meer so kan gaan nie! Jy moet geheel en al Judeër word, soos wat jy vroeër was, anders sal jy oor enkele dae uit hierdie stad verwyder word en sal `n waardiger persoon jou plek inneem; want Ek het gekom om hierdie stad skoon te vee, sodat dit, wanneer, miskien reeds binne vyftig jaar, die duistere Jerusalem deur die Romeine tot die laaste klip verwoes sal word, `n veilige toevlugsoord sal word vir almal wat Ek Myne sal noem! Dink goed na oor wat Ek jou nou gesê het; want Ek het die mag van bo daarvoor om dit vir jou te sê!”

[10.34.10] Hierop wil die rabbi nog iets antwoord; maar die herbergier neem hom tersyde en vertel hom wat Ek met sy seun gedoen het. Toe sê die rabbi geen woord meer nie, laat die leerlinge van die sinagoge huistoe gaan en verlaat die sinagoge; onmiddellik besoek hy die volkome geneesde seun van die herbergier, waaroor hy hom uitermate verbaas, en gaan toe meteens na al die bekende Judese en heidense huise om te vertel wat daar in die Judese herberg gebeur het, waarop daar weldra baie na die herberg kom om hulle self daarvan te oortuig.

Desktop Kommentaar