Help

jakob-lorber.cc

Die Aarde

Oor die daadwerklike geloof

27-4-1847

[73.1] Dit geld egter nie net vir die pousdom nie, maar vir alle sogenaamde sektes en kerkgenootskappe. Want waar nie in Sy ware gees en in Sy waarheid verkondig word nie, daar heers `n vals profetedom, in plaas van `n ware kerk.

[73.2] Ook al sê die een of ander sekte: “Kyk, Ek het geen beelde nie, dus moet my belydenis die suiwerste wees!", dan sê Ek: Beeld of nie beeld nie, dit maak nie saak nie, maar slegs `n lewe volgens die Woord! Want as mense `n leer op sigself hoe ookal van alle seremonies suiwer om haar beter geskik te maak om opgeneem te word deur die verstand, beteken dit met ander woorde niks anders as dat mense voortdurend oor `n gegewe leer redeneer, maar ook nie daarvolgens leef nie. Dit is te vergelyk met iemand wat `n huis koop en dit voortdurend van binne en van buite skoonmaak en poets om dit steeds beter geskik te maak vir bewoning, maar met al die gewerkery kom daar nooit iemand in woon nie. Is die eerste die beste hut wat voortdurend bewoon word, dan nie beter as so `n huis nie?

[73.3] So is dit ook met die kerk gesteld. Dan is diegene wat een of ander norm het, waarin haar gelowiges `n houvas vind, nog altyd beter as so `n kerk waarin maar net gevee en gepoets word. Haar aanhangers staan daarby en sien toe, soos mense wat niks te doen het, wat na die bou van `n huis staan en kyk en kleingeestige kritiek uitoefen en opmerkings maak; maar niemand dink daaraan, om ten bate van die huisheer, ook maar een steen of een skeppie sement aan die besige messelaar aan te reik nie; en die leeglopers beskou hulleself baie beter as die arbeiders.

[73.4] Kyk, dit is nou `n korrekte beeld van baie kerkgenootskappe. Hulle doen uit suiwer voorbereiding en kritiek niks nie, belaster voortdurend diegene wat nie aan hulle kerkgenootskap behoort nie, maak hulle vrolik oor die blindheid van die ander en roep voortdurend: “Kom hier, sodat ons die splinter uit julle oog kan haal!" Maar die balk in hulle eie oog sien hulle gladnie raak nie.

[73.5] Dit is wel waar dat daar in die Rooms-Katolieke kerk duisenderlei growwe misbruike bestaan. Maar daar is tog ook baie goed daarin, want mense preek liefde en deemoed daar. En as iemand net dit navolg, sal hy nie verlore gaan nie.

[73.6] Maar wat moet Ek dan sê van `n sekte wat maar net die geloof leer en die werke verwerp? Daar is doop en salwing bedorwe. Want daar staan tog duidelik geskrywe, dat `n geloof sonder werke dood is, en Ekself het verskillende kere openlik gesê: Wees nie slegs toehoorders nie, maar ook daders van My woord. Daardeur is duidelik getoon dat die geloof alleen nie help nie, maar die handeling daarvolgens.

[73.7] Wat het die aarde aan sonlig, as dit nie met daadkragtige warmte verbonde is nie?

[73.8] Wat se nut het alle kennis en wetenskap, as die mens dit nie gebruik nie?

[73.9] Of wat se nut het dit in `n koue winter om maar net te glo dat brandende hout die kamer kan verwarm? Word die kamer warm deur dit te glo? Ek glo nie.

[73.10] Kort en goed: Die mees vaste geloof sonder werke is soos `n dwase mens, wat hom in `n koue kamer maar net met `n warm gedagte wil toedek om warm te kry. Dit is wel die goedkoopste deken, maar of dit iemand kan verwarm, daaroor kan die arme mens self oordeel, wat in streng koue winters dikwels styf bevrore in hulle kamers gevind word - en meestal om die rede dat hulle geen ander deken gehad het, as maar net `n gedagte deken.

[73.11] Soos hierdie gedagtedeken nie help sonder `n werklike deken nie, so het ook die geloof sonder werke geen nut nie. Die geloof is maar net `n opname-orgaan van `n leer wat tot dade aanspoor. Wie hierdie riglyn maar net in sy geloof opneem, maar nie daarvolgens handel nie, die vra Ek: “Waarvoor dien hierdie riglyn?" Ek sê: Tot niks anders as eiewyse kritiek, net soos alle reëls van die toonkuns niemand van nut is as mens nie in staat is ook maar die minste en die eenvoudigste te presteer nie. Maar Ek sê: Dan is `n straatmusikant altyd nog meer werd as so `n kritikus wat self niks kan doen nie, maar oor alles wil oordeel.

[73.12] Dan is so `n kerk, waar iets tog gebeur, vir My ook beter as een waar niks gebeur nie. Want dit is beter om iemand `n stuk brood te gee, as om duisende planne te maak vir die armsorg en die arme dan tog niks te gee as hy by hom kom aanklop nie. Planne is goed, maar die gee moet daar bykom, anders is die geloof weer sonder werk, waardeur die arm mense by die honderde verhonger.

Desktop Kommentaar