Help

jakob-lorber.cc

Die Aarde

Vergewing van sondes en beeldeverering

24-4-1847

[72.1] Sommige van die sogenaamde filosowe sien My ook nie vir meer as `n filosoof aan nie. Hulle beweer dat elke mens volgens Christelike interpretasie die reg sou hê om sondes te vergewe, omdat Ek, as die stigter van die leer, ook sonde vergewe het - en nog wel aan sulke mense wat My tog seker nooit beledig het nie.

[72.2] Ek sê vir die filosowe daaroor ongeveer dieselfde as wat Ek vir die Jode gesê het wat die egbreekster na My toe gebring het.

[72.3] “Wie van u sonder sonde is, die mag dit wel doen en sy handeling sal in die hemel goedgekeur word."

[72.4] Ek kon wel as mens elkeen se sonde vergewe, omdat Ek heeltemal sonder sonde was; diegene wat egter nie sonder sonde is en al sou hy ook geen sonde begaan het nie, tog altyd die vleeslike verwekkingssonde erflik in hom het, kan dit nie doen nie.

[72.5] Want om sonder sonde te wees, beteken om jou in die hoogste graad van deemoed en liefde te bevind. Die wet van God moet die eie natuur van so `n mens wees. Sy vlees moet hy van kinds af aan in al sy begeertes tot die diepste graad verloën het, sodat God se krag volkome in hom kan woon, so `n mens sou dan ook wel vir die een of ander kan sê: “Jou sondes is jou vergewe!" en dit sal hom of haar vergewe word; maar dan vergewe nie die mens die sonde nie, maar die goddelike krag, vir wie dit alleen moontlik is wat harte van diegene, wat teenoor mekaar gesondig het en vyande geword het, te versoen en alles te vereffen, dit wil sê, die harte met die goddelike vuur te deurgloei en te deurlig en daardeur alle toorn, hoogmoed en afguns te verstik. Dat slegs God se krag en geen menslike krag dit kan vermag, is vanselfsprekend, daarom kan `n mens maar net tot God sê:

[72.6] “Heer, vergewe my my sondes wat ek teenoor baie broeders begaan het, welke broeders ek nou nie meer om vergewing kan vra vir die aan hulle begane sondes nie. U krag is vir ewig voorbehou Heer, om dit in werklikheid te bewerkstellig, wat ek self graag sou wil volvoer as ek dit maar kon!"

[72.7] Kyk, op hierdie manier kan slegs die krag van God die sondes wegneem, wat die mens wedersyds nooit kan vergewe nie, hetsy vanweë hulle ver van mekaar verwyderde woonplekke, waardeur mense, wat mekaar eens beledig het op hierdie wêreld, beswaarlik weer saam kan kom - behalwe langs die weg van dooie briewe - oftewel as een van die twee gesterwe het en dus die dood van die liggaam `n ondeurdringbare wand tussen hulle opgetrek het. In sulke gevalle kan net God die sonde in die eintlike sin vergewe, hoewel daarnaas `n sogenaamde onregverdige rentmeester sulke soort sondaars in My naam van diens kan wees. Wat `n slegte of onregverdige rentmeester is, weet julle al. Hy het wel geen reg om die skuld kwyt te skeld nie, omdat hyself `n groot skuld het, maar omdat hy `n werk van barmhartigheid beoefen, reik hy deur hierdie uitoefening `n sluk vars water aan, wat hom vergeld sal word.

[72.8] As `n mens sy foute en gebreke aan `n sogenaamde sielsvriend onder vier oë voorlê om van hom troos te kry en `n onmiddellike versekering, dat die sondes hom kwytgeskeld word as hy hom tot My wend met die ernstige voorneme om sulke sondes nie meer te begaan nie en die begane so moontlik aan sy broeder weer goed te maak deur `n opregte berou en so moontlik deur `n liefdevolle genoegdoening vir die aangedane belediging, dan wil Ek teen sodanige gebruik nie veel sê nie.

[72.9] So `n biegvader sal vir My altyd baie dierbaar en baie waardevol wees. Daarvoor het mens geen geestelike nodig nie. Omdat `n geestelike egter die uitreiker van die Avondmaal meen te wees, kan hy natuurlik ook wel die werk van die onregverdige rentmeester op hom neem op die bo beskrywe manier, ewenwel sonder dat hy dit afkeur dat dieselfde amp ook deur `n ander broeder uitgeoefen word en vooropgestel dat dit op die bo beskrywe manier plaasvind. Maar as so `n onregverdige rentmeester-biegvader meen dat uitsluitlik hy die mag en die krag het om sondes kwyt te skeld, of om selfs `n sondaar, wat hom in sy vertroue geneem het, die kwytskelding te weerhou, om hom te veroordeel en om in die sogenaamde biegstoel hom as “plaasvervanger van God” te laat noem, die is `n booswig en `n siel- en geesdoder, omdat hy hom eiemagtig voor die hemelpoort opstel, om self nie na binne te gaan nie, maar ook niemand anders na binne toe te laat nie.

[72.10] So iemand is soos die fariseërs, skrifgeleerdes en priesters van die Jode, wat die arme mense die grootste en swaarste laste opgelê het, omdat hulle maar net deur die sleep daarvan in die hemel kon kom, terwyl hulle self die las met geen vinger aangeraak het nie. Dit is mense, wat die poorte van die Godsryk versper en elkeen wat na binne wou gaan, met die helse vuur van die toorn terugdryf en self ook nie na binne wil gaan nie; daarvoor sal hulle ook, soos geskrywe staan, eens des te meer verdoem word.

[72.11] Tot hierdie klasse behoort ook die valse profete wat vir die arme eenvoudige mense met groot erns en ywer preek: “Gaan hier of daarheen en doen `n sogenaamde bedevaart na een of ander heilige beeld en vergeet nie om volgens vermoë `n groot offer saam te neem nie, dan sal jy by die beeld, - gewoonlik Maria voorstellend - vergewing van jou sondes en nog ander onbeskryflike genade in oorvloed vir jou huisgesin verkry!"

[72.12] As die arme blinde volk dan die eselsgebalk van so `n valse profeet hoor, dan leer die ervaring dat hele volkskares dit opvolg en op die plek waar die genade uitgedeel word, hoor mens dan gewoonlik `n nog groter eselsgebalk oor wonderwerke en tallose genadegawes en op hierdie manier word die gees van die volk dikwels heeltemal gedood en dan sê Ek: Sulke valse profete sal eens hulle verdiende loon kry; want hulle weet nie en wil nie weet, hoe mens God in gees en waarheid moet aanbid nie. Hulle is niks anders as deur die wêreld geprivilegeerde dienare van Mammon nie. Hul beeld, wat gewoonlik sleg en oneties deur mensehande vervaardig is, is vir hulle meer werd as God; want die beeld bring geld in - maar God nie, omdat Hy tog oral dieselfde is.

[72.13] Hulle sal eens `n fariseërsloon kry. Almal wat soortgelyke dinge leer en die volk bring tot beeldeverering, is die mees volkome antichristene en valse profete wat elkeen moet verafsku soos die pes, omdat hulle die kuns verstaan om die volk deur allerlei uiterlike praal te betower en hulle gees deur valse wonderwerke te dood.

[72.14] Daarom moet mense soortgelyke plekke nie besoek nie; want dit is vol besmetlike pes vir die gees.

[72.15] Glo nie dat iemand daar hulp kan vind nie, maar net Ek kan tog help, wat die ewige vyand van alle afgodedom is. Hoe sou Ek dan aan `n houtbeeld, wat deur mensehande gemaak is, wonderkrag verleen? As Ek vir iemand wonderkrag sou wil gee, dan sou dit `n egte mens wees, nie aan `n beeldhouwerk, wat veel laer staan as die laagste dier nie, want dit het tenminste lewe en kan beweeg. Dit is selfs veel minder as `n grashalm of `n klip. Dit is wat dit is, dus in hulle orde; maar `n beeld is nie wat dit voorstel nie. Die beeld is van hout, maar stel `n mens voor en word vereer en aanbid, omdat die een wat dit voorstel, `n toonbeeld van deug was.

[72.16] Dus is die beeldeverering `n nog afskuweliker afgodery as die van die ou heidene. Hulle maak wel gode van metaal, klip en hout, omdat hulle die ware God nie ken nie - `n innerlike behoefte aan `n ware God dwing hulle dus tot die vervaardiging van hierdie maaksels. Maar die teenwoordige mensdom het God en ken Hom en weet dat Hy alleen die Heer is en tog vereer hulle houtsnywerk. Wat moet mens vir sulke mense sê? Niks anders as: Julle is een met die aartsvyand van God, wat God baie goed ken, maar in plaas van om Hom lief te hê en Hom alleen te aanbid, verag en bestry julle Hom oral.

[72.17] Maar die dommes sal hulle domheid nie aangereken word nie - maar des te meer diegene wat sien en lig het, maar tog nie wil sien nie en die lig uitdoof, waar dit hom ook maar bevind.

Desktop Kommentaar