Help

jakob-lorber.cc

Die Aarde

[1.2] As jy byvoorbeeld `n klip bekyk of `n ander reëlmatige of onreëlmatige voorwerp, kan jy sien dat sy swaartepunt in `n bepaalde deel lê. By `n willekeurige houtblok, kan jy dit maklik vasstel as jy dit op die water plaas; dan sal die blok, daar waar sy swaartepunt lê, steeds die diepste in die water wegsink. Dit is dus die tweede ding wat elkeen maklik by elke voorwerp kan vind.

[1.3] Die derde punt is die werklike sentrum van `n liggaam wat jy egter nooit met die swaartepunt mag verwar nie; daarom het elke liggaam twee middelpunte, naamlik een volgens sy gewig en een volgens sy afmetings. Jy kan allerlei soorte liggame ondersoek, maar jy sal nooit aantref dat die swaartepunt en die gemete sentrum saamval nie, selfs nie by `n wiskundig volkome korrekte gegote metaalbal nie, omdat geen enkele liggaam uit sulke volkome gelyke dele bestaan nie, dat daarin die swaartepunt en die eintlike meetkundige middelpunt volkome met mekaar sou saamval nie.

[1.4] Neem byvoorbeeld suiwer staal - een van die mees soliede metale - breek so `n staaf in twee stukke en jy sal op die breekvlak, by `n sterk vergroting, die onreëlmatige kristalvorm herken wat sekerlik met die blote oog gelykvormig sal lyk; maar deur `n mikroskoop bekyk, sal die breukvlak lyk soos wat mense vanaf `n hoë berg onder hom allerlei min of meer groot en klein verhogings sal ontdek. As so `n verskil egter al in die kristalvorm van een van die mees vaste metale waargeneem kan word, hoeveel groter sal die onderskeid dan nie wees by minder vaste liggame nie, waarvan die bou van die kristalle tussen groot en klein, dig en minder dig, dikwels al met die blote oog waarneembaar is; en dus is die hierbo gegewe stelling, dat die swaartepunt en die meetkundige middelpunt nooit met mekaar kan saamval nie, des te meer waar.

[1.5] Hierdie grondstelling kan elkeen ook maklik by die maak van `n weegskaal vasstel. Laat iemand uit metaal, wat oral soveel moontlik dieselfde digtheid het, die balansarm vir `n weegskaal konstrueer, wat aan weerskante dieselfde afmetings het, en laat hy dit aan die ewewigspunt ophang. Hy sal tot die oortuiging kom, dat selfs by wiskundig korrekte afmetings, beide arms van die balans nooit `n volkome horisontale lyn sal vorm nie, maar die een kant sal verskil met die ander kant en die maker van die weegskaal sal die een of die ander arm met `n vyl of hamer te hulp moet kom. Die oorsaak daarvan lê natuurlik in bogenoemde grondstelling.

[1.6] Waar ons hierdie omstandigheid dus by alle liggame kan sien, geld dit des te meer vir liggame wat nie deur mensehande gevorm word nie, maar wat deur My krag, so gemaak is soos wat sy gevorm moet wees om te bestaan. Die swaartepunt en die meetkundige middelpunt laat jou ewemin aan dieselfde plek dink as die positiewe en negatiewe pool.

[1.7] Mense sal hulleself afvra hoe dit verstaan moet word; dan vra Ek op My beurt, om dit vir julle duidelik te maak: Waarom is, by die staafmagneet, beide pole nie in die wiskundige middelpunt nie, maar hoofsaaklik aan die punte?

[1.8] Waarom lê die kiemhulsel by `n saadkorrel nie in die middel daarvan nie, maar meestal slegs in `n bepaalde deel van die saadkorrel, sodat die middelpunt van die korrel en die teenoorgestelde pool ten opsigte van die kiemhulsel homself meestal, `n respektiewelike driekwart deel van die totale inhoud van die saadliggaam, gereken vanaf die kiemhulsel, verder na binne- en buitewaarts bevind?

[1.9] Waarom sit geen mens of dier se hart in sy meetkundige sentrum nie?

[1.10] Uit hierdie vraag alleen al blyk dit duidelik, dat die swaartepunt van `n liggaam, iets heel anders is as die meetkundige middelpunt van daardie liggaam.

[1.11] As dit dus gaan oor die vasstel van die middelpunt van die aarde, dan is daaronder nie soseer die meetkundige middelpunt te verstaan nie, maar veelmeer die eintlike lewens- of swaartepunt van die aarde; want die bepaling van die meetkundige middelpunt van die aarde sou, goed beskou, belaglik wees, wat `n mens kan aflei uit die feit dat `n mens die middelpunt van `n liggaam, dus ook die van die aarde, maar net as `n denkbeeldige punt moet aanneem, wat presies volgens julle wiskundige begrippe gedefinieerd is, iets is wat nòg in lengte, nòg in die breedte, nòg in die hoogte ook, maar die kleinste moontlike denkbare deursnee besit en dus sekerlik in sy soort die allerkleinste van alle dinge is. Julle kan verseker aanneem, dat daar al in `n atomiese diertjie, wat nie eers meer deur die allerfynste sonmikroskoop ontdek kan word nie, sekerlik nog vir tallose miljarde sulke soortgelyke punte plek sou wees. Die vraag is dus: Wat sou ons wel oor die eindelose klein wese, wat so heeltemal in die niet verdwyn, te onthul hê? Mens sou maar net hoef te sê: “Die middelpunt van die aarde bestaan uit niks, en dan was dit al heeltemal natuurlik en geestelik verklaar. Want “niks” het liggaamlik en geestelik beskou dieselfde betekenis; want waar niks is, daar hou alles heel logies op en `n niks, sowel geestelik as natuurlik, is in niks anders denkbaar as in so `n meetkundige middelpunt nie. Daarom sal ons onsself dan ook van die weinigseggende middelpunt van die aarde verwyder en gaan ons onsself nou besighou met die veel belangriker swaartepunt van die aarde, wat natuurlik groot afmetings moet hê en by so `n groot liggaam soos die aarde, wat ook van `n groter omvang moet wees om die spesiale lewenswerksaamhede van die hemelliggaam die benodigde ruimte daarvoor te gee.”

[1.12] Ek hoor julle al in julleself vra: “Hoe lyk die swaartepunt van die aarde dan? Waaruit bestaan dit? Is dit `n klomp (of kloster) diamant, óf suiwer goud óf yster, óf miskien `n magneet? Of is dit `n leë ruimte gevul met `n ewige, onuitblusbare vuur en dien dit miskien selfs wel as verblyfplek vir die verdoemdes en voer dit die respektabele titel “hel”, waarvan die vuurspuwende berge wat op die aarde versprei is, miskien die skoorstene is?”

[1.13] Dan sê Ek vir julle: “Van dit alles is daar geen sprake van in die swaartepunt van die aarde nie, net so min as, fisies beskou, sprake daarvan kan wees by `n mensehart. Die hart is nòg `n diamant, nòg `n goudklomp, ook is dit geen yster of magneetsteen nie, en ewe min `n hol, met vuur gevulde ruimte, maar die hart is fisies beskou, `n ongewone kunstige selweefsel, waarin die lewende siel en in haar weer die gees van die mens, soos `n wewer op sy weeftou besig is; hy kan dit, omdat die weeftou vir die vorming van die natuurlike lewe en vir die instandhouding gedurende die korrekte tyd daarvan, so ingerig is dat hy deur sy vakkundige konstruksie, die hande van die siel alles kan opwek wat vir die vervaardiging van die fisieke lewe noodsaaklik is. Funksioneer die weeftou in sy natuurlike konstruksie eenmaal nie meer goed nie, dan gaan dit met die verdere opwekking van die fisieke lewe nie meer so goed nie. Maar as dit ten slotte volkome onbruikbaar geword het, dan kan die siel dit ook nie meer gebruik nie en dit is dan ook tyd vir haar om hierdie nuttelose werkplek te verlaat.”

[1.14] Kyk, met die swaartepunt van die aarde is dit dieselfde geval. Hoe? Dit sal die onderwerp van ons volgende beskouing wees.

Desktop Kommentaar