Help

jakob-lorber.cc

Die Aarde

Die swaartepunt van die aarde

28-12-1846

[1.1] As jy `n liggaam, van welke vorm ookal, met `n ondersoekende blik bekyk, sal jy gou merk dat daar drie dinge aan die voorwerp beskou kan word. Ten eerste sy buitekant, dit is onder andere die vorm met alle natuurlike kenmerke, soos omvang, oppervlakte en kleur van die oppervlak. Verder het dit `n bepaalde volume wat volgens lengte, breedte en hoogte meetbaar is, welke volume, na gelang van die aard van die liggaam, duidelik `n gewig of swaarte in `n bepaalde rigting laat sien.

[1.2] As jy byvoorbeeld `n klip bekyk of `n ander reëlmatige of onreëlmatige voorwerp, kan jy sien dat sy swaartepunt in `n bepaalde deel lê. By `n willekeurige houtblok, kan jy dit maklik vasstel as jy dit op die water plaas; dan sal die blok, daar waar sy swaartepunt lê, steeds die diepste in die water wegsink. Dit is dus die tweede ding wat elkeen maklik by elke voorwerp kan vind.

[1.3] Die derde punt is die werklike sentrum van `n liggaam wat jy egter nooit met die swaartepunt mag verwar nie; daarom het elke liggaam twee middelpunte, naamlik een volgens sy gewig en een volgens sy afmetings. Jy kan allerlei soorte liggame ondersoek, maar jy sal nooit aantref dat die swaartepunt en die gemete sentrum saamval nie, selfs nie by `n wiskundig volkome korrekte gegote metaalbal nie, omdat geen enkele liggaam uit sulke volkome gelyke dele bestaan nie, dat daarin die swaartepunt en die eintlike meetkundige middelpunt volkome met mekaar sou saamval nie.

[1.4] Neem byvoorbeeld suiwer staal - een van die mees soliede metale - breek so `n staaf in twee stukke en jy sal op die breekvlak, by `n sterk vergroting, die onreëlmatige kristalvorm herken wat sekerlik met die blote oog gelykvormig sal lyk; maar deur `n mikroskoop bekyk, sal die breukvlak lyk soos wat mense vanaf `n hoë berg onder hom allerlei min of meer groot en klein verhogings sal ontdek. As so `n verskil egter al in die kristalvorm van een van die mees vaste metale waargeneem kan word, hoeveel groter sal die onderskeid dan nie wees by minder vaste liggame nie, waarvan die bou van die kristalle tussen groot en klein, dig en minder dig, dikwels al met die blote oog waarneembaar is; en dus is die hierbo gegewe stelling, dat die swaartepunt en die meetkundige middelpunt nooit met mekaar kan saamval nie, des te meer waar.

[1.5] Hierdie grondstelling kan elkeen ook maklik by die maak van `n weegskaal vasstel. Laat iemand uit metaal, wat oral soveel moontlik dieselfde digtheid het, die balansarm vir `n weegskaal konstrueer, wat aan weerskante dieselfde afmetings het, en laat hy dit aan die ewewigspunt ophang. Hy sal tot die oortuiging kom, dat selfs by wiskundig korrekte afmetings, beide arms van die balans nooit `n volkome horisontale lyn sal vorm nie, maar die een kant sal verskil met die ander kant en die maker van die weegskaal sal die een of die ander arm met `n vyl of hamer te hulp moet kom. Die oorsaak daarvan lê natuurlik in bogenoemde grondstelling.

[1.6] Waar ons hierdie omstandigheid dus by alle liggame kan sien, geld dit des te meer vir liggame wat nie deur mensehande gevorm word nie, maar wat deur My krag, so gemaak is soos wat sy gevorm moet wees om te bestaan. Die swaartepunt en die meetkundige middelpunt laat jou ewemin aan dieselfde plek dink as die positiewe en negatiewe pool.

[1.7] Mense sal hulleself afvra hoe dit verstaan moet word; dan vra Ek op My beurt, om dit vir julle duidelik te maak: Waarom is, by die staafmagneet, beide pole nie in die wiskundige middelpunt nie, maar hoofsaaklik aan die punte?

[1.8] Waarom lê die kiemhulsel by `n saadkorrel nie in die middel daarvan nie, maar meestal slegs in `n bepaalde deel van die saadkorrel, sodat die middelpunt van die korrel en die teenoorgestelde pool ten opsigte van die kiemhulsel homself meestal, `n respektiewelike driekwart deel van die totale inhoud van die saadliggaam, gereken vanaf die kiemhulsel, verder na binne- en buitewaarts bevind?

[1.9] Waarom sit geen mens of dier se hart in sy meetkundige sentrum nie?

Desktop Kommentaar